Nuus: Inflasie; renosterhoring; PRASA…


Nuus 20 Januarie 2016
Inflasie:
Ekonome meen daar is ‘n sterk moontlikheid dat die inflasiekoers in die eerste kwartaal die Reserwebank se boonste teiken kan verbysteek. Dit kan die Bank dwing om reeds aanstaande week ‘n rentekoersverhoging in te stel wanneer die monetêre beleidskomitee vergader. Statistieke Suid-Afrika het bekendgemaak dat die verbruikersprysindeks in Desember tot vyf komma twee persent gestyg het in vergelyking met die vier komma agt persent in November. Die styging is in ooreenstemming met markverwagtinge. Die Reserwebank se inflasieteiken is tussen drie en ses persent. Die Reserwebank het reeds twee keer die uitleenkoers verhoog weens kommer dat die inflasiekoers die teiken van ses persent kan verbysteek. Die ekonoom van ETM Analytics, Jana le Roux sê ‘n rentekoersverhoging aanstaande week van 50 basispunte, is waarskynlik. Sy sê die verwagting is dat die Reserwebank meer aggressief sal optree.

Handel in renosterhoring: Die regering se appèl teen die opheffing van die moratorium op die plaaslike handel in renosterhoring, is in die hooggeregshof in Pretoria met koste van die hand gewys. Die departement van Omgewingsake het geappelleer teen ‘n uitspraak van die hof in November ingevolge waarvan ‘n verbod op die plaaslike handel in renosterhoring ter syde gestel is. Die regering het die moratorium in 2009 ingestel. Twee wildplaaseienaars het die aansoek gebring dat die moratoirium opgehef moet word. Die hofuitspraak baan die weg vir die gereguleerde handel in renosterhoring binne Suid-Afrikaanse landsgrense.

Nog PRASA skokke: Die SAUK is in besit van beeldmateriaal en foto’s wat wys hoe die Passasierspooragentskap, PRASA, nalaat om hulle eie bedryfsprosedures uit te voer. Die materiaal toon duidelik hoe die deure op bewegende treine oop bly. Die Konstitusionele Hof het verlede jaar beslis dat PRASA aanspreeklik gehou kan word indien hulle nalaat om deure op bewegende treine toe te hou. Die beslissing het gevolg nadat ‘n man sy been verloor het toe rowers hom deur die oop deur van ‘n bewegende trein gegooi het.

Skole-onrus in PE: In Port Elizabeth vergader die stad se noordelike gebiede onderwysforum vandag met ouers om die sluiting van skole in die gebied te bespreek. Die meeste skole word geraak. Ouers van leerders eis dat meer onderwysers na skole gestuur word, dat infrastruktuur verbeter word en dat veiligheid verskep word. Die provinsiale onderwysdepartement het ‘n taakspan aangestel om die eise te ondersoek.

Fransman klag: Die leier van die ANC in die Wes-Kaap, Marius Fransman gaan vandag met een van die partylede, Philip Dexter vergader oor bewerings dat Fransman in ‘n lokval gelei is. Dit hou verband met ‘n klag van seksuele teistering wat teen Fransman gelê is. Dexter het op Facebook gesê dit is belaglik en beledigend om daarop te sinspeel dat hy en ander partylede agter die aanklagte teen Fransman is. Fransman sê hy is verras oor die bewerings op Dexter se Facebook-blad. Dexter sê hy ken nie die vrou wat Fransman aangekla het nie en glo dat die ANC-leier onskuldig is tot die teendeel bewys word.

Eerste reaksie op NGV witskrif: Die Helen Suzman-stigting het die Witskrif oor die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering verwelkom, maar sê daar is baie slaggate. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het onlangs die witskrif oor die nuwe gesondheidstelsel bekendgestel wat oor ‘n tydperk van 14 jaar ingestel sal word. Dit het ten doel om toegang tot gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners te verseker. Die stigting sê die Witskrif maak nie voorsiening vir die uniekheid van die Suid-Afrikaanse bevolking nie, neem nie die werkloosheidskoers in ag nie en word nie finansieel gerugsteun nie.

Pakistan terreur: Daar word gevrees dat die dodetal in Pakistan tot 40 kan styg nadat die Taliban ‘n universiteit in die noordweste van Pakistan aangeval het. Minstens 19 mense is dood en tientalle is beseer. Die weermag is nog besig om lesingsale en koshuiskamers van die Bacha Khan-universiteit in Charsadda te deursoek. Die meeste slagoffers is op ‘n kort afstand doodgeskiet. ‘n Senior Taliban bevelvoerder en meesterbrein agter die studenteslagting in Desember 2014 in Peshawar, het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die polisie het vier van die aanvallers doodgeskiet.

 

Kategorieë