Nuus: Nkandla; 3 Myners; Tim Noakes; Zika-virus…


In die Nuus 9 Februarie 2016

Nkandla-saak:Die regsverteenwoordigers van die EFF en die DA het voorleggings in die Konstitusionele hof gemaak oor die Nkandla sage, en voer aan dat die president Jacob Zuma die magte van die Openbare Beskermer ignoreer.

Die hof moet bepaal of die parlement president Zuma aanspreeklik moet hou vir die bevindings van die Openbare Beskermer se verslag oor die president se Nkandla-woning. Die EFF en die DA se saak het vanoggend begin en word allerweë as ‘n waterskeidingsaak bestempel. Die parlement en die president glo dat die Openbare Beskermer se bevindings bloot aanbevelings was en dus nie bindend is nie.

Die EFF het intussen ‘n optog na die Konstitusionele hof gehou. Duisende EFF ondersteuners het by die Mary Fitzgerald plein saamgetrek.

Die Konstitusionele Hof het in Johannesburg begin met ‘n waterskeidingsaak oor die magte van die Openbare Beskermer. ‘n Waarnemende regter is aangewys om ‘n volbank te vorm. Appèlregter Lebotsang Bosielo se aanwysing beteken dat elf regters onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng die saak aanhoor. DA en Cope ondersteuners is by die hof, terwyl duisende EFF-lede ‘n optog van Mary Fitzgeraldplein na die hof hou.

Van die land se voorste regsgeleerdes tree in die saak op. Die EFF word deur advokaat Wim Trengove verteenwoordig, Gilbert Marcus tree namens die Openbare Beskermer op en Jeremy Gauntlett verteenwoordig president Zuma.

Duisende EFF-lede is in Johannesburg is na die Konstitusionele hof in Johannesburg onderweg. Die betogers gee hul steun aan die EFF se saak waarin bekragtiging van die Openbare Beskermer se magte versoek word. Die sitting het intussen begin waar ‘n volbankregters die saak aanhoor. Die EFF se regsverteenwoordiger, Wim Trengrove voer aan dat die Nasionale Vergadering nie hul mandaat nagekom het om die kantoor van die Openbare Beskermer te beskerm nie.

3 Myners nog nie gevind: Die bestuur van die Lily-myn by Baberton in Mpumalanga sê die soektog na die drie vermiste personeellede het ‘n kritieke stadium bereik. Reddingswerkers kon nog nie daarin slaag om vas te stel waar die werkers is wat Vrydag vasgekeer is toe die kantoor waarin hulle gewerk het, in ‘n skag afgeval het nie. Mynbedrywighede is intussen opgeskort.

Doktersposte nie gevries: Die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het mediaberigte ontken dat poste vir mediese personeel in die land gevries is. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging word in die berigte aangehaal dat poste vir dokters in Mpumalanga, die Vrystaat, Noordwes, die Oos-Kaap en Kwa Zulu-Natal nie gevul mag word nie. Motsoaledi sê hy het al die LUR’e gekontak en hulle het bevestig dat poste nie gevries is nie. Hy sê indien enige staatsdepartement poste gevries het, geld dit nie vir dokters nie.

Tim Noakes-verhoor: Die verhoor van die sportwetenskaplike, Tim Noakes, word vandag voortgesit. Noakes is van wangedrag aangekla. Die tugkomitee sal na verwagting besluit of Noakes se regspan toegang moet kry tot dokumente wat tydens die voorlopige ondersoek voor die paneel gedien het. Noakes se regspan sê hulle het nie toegang gehad tot sleuteldokumente voor die paneel wat die redes vir die aanklagte teen hom verduidelik nie. Volgens hulle is dit van die uiterste belang dat hulle daardie inligting bekom sodat hulle reaksie daarop kan voorberei. Die klaagster se regsverteenwoordiger het egter aangevoer dat die komitee nie die gesag het om dit toe te staan nie en dat Noakes se span die Hooggeregshof moet nader. Die Raad op Gesondheidsberoepe hoor die saak aan nadat Noakes ‘n ma op Twitter aangeraai het om haar kind op ‘n dieet van lae koolhidrate en hoë vet te plaas.

Wouter Basson-saak: Die kardioloog, Wouter Basson gaan na verwagting in die Hooggeregshof in Pretoria appelleer teen sy skuldigbevinding deur die Raad op Gesondheidsberoepe. Die beroepsraad het hom skuldig bevind op alle aanklagte teen hom wat verband hou met sy optrede tydens die vorige bewind. Basson is in Desember 2013 skuldig bevind, maar Basson se regspan het die verrigtinge verlaat voordat vonnis opgelê kon word. Hulle is ontevrede omdat die voorsitter van die paneel, professor Jannie Hugo hom nie aan die saak onttrek het nie. Basson voer aan dat Hugo lid van twee mediese verenigings is wat Basson as dokter wil skors. Hugo het nie voor die verhoor sy lidmaatskap bekendgemaak nie.

Truman Prince word ondersoek: Die ANC se Uitvoerende Komitee in die Wes-Kaap beraadslaag vandag met streekleiers op Beaufort-Wes oor die lot van die burgemeester, Truman Prince. Prince het na bewering briewe uitgestuur waarin verklaar word dat tenders slegs toegestaan moet word aan sake-ondernemings wat die ANC goedgesind is. Prince word ook daarvan aangekla dat hy ‘n vroueverkeersbeampte aangerand het. Die ANC se provinsiale voorsitter, Khaya Magaxa, sê hulle sal met streekleiers van die party en die munisipaliteit gesprek voer.

Internasionale nuus

VSA en Europa se ekonomie verlangsaam: Aandelemarkte in die VSA en Europa het laer gesluit te midde van voortslepende vrese oor ‘n verlangsaming in die internasionale ekonomie. Kommer bestaan ook oor die uitwerking wat dalende oliepryse op die ekonomie het. Die Dow Jones in New York het een komma een persent gedaal en markte in Londen, Parys en Frankfurt het drie persent laer gesluit. Dit was die laagste vlak in meer as twee jaar.

Zika-virus: Die Amerikaanse president, Barack Obama sê die noodbefondsing wat hy van die Amerikaanse Kongres versoek het om die Zika-virus te bestry sal gebruik word om muskiete te bestry en vir entstof-navorsingsprogramme. Die virus is besig om vinnig deur Amerika te versprei. Die virus word verbind met babas wat met ‘n onderontwikkelde brein gebore word. Obama het 30 miljard rand versoek .

Kategorieë