NUUS: Oos-Kaapse onderwys; Tennis-knoeiery; studente-onrus…


NUUS 18 JANUARIE 2016

Oos-Kaapse onderwys-krisis: Die Oos-Kaapse Departement van Onderwys sê hulle doen alles moontlik om te verseker dat probleme by skole opgelos word. Dit sluit in die tekort aan onderwysers. Ouers is besig om skole in die noordelike gebiede van Port Elizbeth te sluit uit protes teen die situasie by skole. Die woordvoerder van die departement, Malibongwe Mtima, sê spanne is ontplooi om die situasie te probeer ontplont. Hy sê die Oos-Kaapse departement werf duisend 685 onderwysers om te sorg dat alle vakante poste gevul is. Die polisie is by skole ontplooi en nooddienste is ook op ‘n hoë gereedheidsgrondslag.

Internasionale tennis-knoeiery: Internasionale tennis is geskud oor bewerings dat die tennisowerhede nie opgetree het teen grootskaalse wedstrydknoeiery nie. Die tennisbase het berigte deur die BBC ontken dat 16 spelers wat deel van die topgekeurde 50 spelers is betrokke is. Volgens dokumente wat in besit van die BBC is, is die spelers na bewering die afgelope dekades gereeld aan die Tennis Integriteitseenheid uitgewys omdat hulle vermoedelik wedstryde geknoei het. Die eenheid het egter na bewering nie teen die spelers opgetree nie. Al die spelers, wat grand slam-wenners insluit, is toegelaat om aan te hou speel. Volgens die bewerings is onder meer drie wedstryde op Wimbledon geknoei. Die Integriteitseenheid en die tennisowerhede het ten sterkste ontken dat bewerings oor wedstrydknoeiery onderdruk is of nie behoorlik ondersoek is nie. Die tennisbase sê enige nuwe inligting sal egter ondersoek word. Die Australiese Ope begin vandag in Melbourne.

Die BBC het op geheime dokumente afgekom wat toon dat wedstrydknoeiery op topvlak-tennis bestaan. Die dokumente toon dat tennisamptenare die afgelope dekade herhaaldelik bedag gemaak is op wedstrydknoeiery waarby 16 van die top 50 spelers betrek word. Agt van die spelers neem aan die Australiese Ope deel wat vandag in Melbourne begin. Die dokumente bevat besonderhede oor die jaarlange ondersoek wat in 2007 begin is. Sindikate in Rusland, in die noorde van Italië en in Sisilië het honderde duisende pond in hul sakke gesteek toe hulle op geknoeide wedstryde gewed het. Drie van die wedstryde was op Wimbledon. Sommige wenners van grand slam titels word ook betrek. Die tennisowerhede het in 2008 aanbeveel dat 28 spoelers vir wedstrydknoeiery ondersoek word, maar dit is laat vaar nadat nuwe teen-korrupsiereëls in 2009 van krag geword het.

Registrasie by UP en Noordwes Universiteit in gedrang: Vise-kanseliers en rektore van sewe Gautengse universiteite spreek vanmiddag die media toe oor die huidige vlaag van protesoptrede by instellings van hoër onderwys in die provinsie. Dit volg nadat drie universiteite interdikte bekom het nadat protesoptrede registrasie by die instellings ontwrig het. Registrasie is ontwrig deur die FeesMustFall-veldtog wat gratis onderrig eis.

Die Universiteit van Pretoria sal tot verdere kennisgewing gesluit bly vir registrasie nadat gewelddadige betogings deur werkers verlede week opgevlam het. Die veldtog teen uitkontraktering het intussen gedreig met verdere betogings by alle tersiêre instellings in Pretoria. ‘n Woordvoerder van die Universiteit van Pretoria, Anna-Retha Bouwer sê pogings om die dispuut met uitgekontrakteerde werkers op te los, het tot dusver misluk. Sy sê aanlyn registrasie sal intussen voortgaan en die universiteit kommunikeer regstreeks met ouers en studente. Bouwer sê betogende werkers eis permanente aanstellings en ‘n minimum-salaris van tienduisend rand per maand. Die Werkers- en Sosialisteparty het intussen beskuldigings ontken dat sy betrokkenheid by protesoptrede teen uitkontraktering polities gemotiveerd is, en dat hy kontrakwerkers uitbuit. ‘n Lid van die party, Mametlwe Sebei sê die party het ingegryp omdat erkende vakbonde nie die werkers se belange beskerm nie. Volgens Sebei is baie vakbonde in allianse met die regerende party wie se beleid verantwoordelik is vir uitkontraktering by munisipaliteite en universiteite. Hy sê die werkers het ‘n platform gesoek vir die stryd teen uitkontraktering, en hulle het slegs gehelp om ‘n gekoördineerde veldtog te bou.

Registrasie by Noordwes-Universiteit se Noordwes-kampus het nog nie begin nie, omdat studente die proses boikot. Hulle eis gratis onderrig en dat diegene wat afgekeur is vir die NSFAS-studieskema, ook toelating kry. Meer as duisend 500 studente het nie vir NFAS gekwalifiseer nie omdat die universiteit ‘n ekstra 90 miljoen rand hiervoor nodig het.

Duisende studente van die Noordwes Universiteit het ‘n massa vergadering op die Mahikeng-kampus gehou om gratis onderrig te eis. ‘n Afvaardiging van die universiteit het verlede week met die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande vergader. Die president van die studenteraad, Benz Mabengwane sê hulle wil verseker dat geen studente verhoed moet word om te registreer nie. Hy sê dit sluit in studente wat uitstaande skuld het en studente wat deur die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema afgekeur is omdat daar te min fondse beskikbaar is. Volgens Mabengwane moet diegene wat akademies goed genoeg presteer het, toegelaat word om te registreer al kan hulle nie betaal nie. Die direkteur van Finansies by die Universiteit, Etienne Mostert sê intussen hulle het ‘n bykomende 90 miljoen rand nodig om al die studente by te staan. Hy sê daar is sowat duisend-650 studente wat kwalifiseer vir finansiële hulp, maar wat nie op die oomblik gehelp kan word nie.

62 Rykstes besit netsoveel rykdom as helfte van wêreldbevolking: Die liefdadigheidsorganisasie, Oxfam, het ‘n beroep op die wêreld se politieke- en sakeleiers gedoen vir grootskaalse ekonomiese hervorming. Dit volg nadat die organisasie bekend gemaak het dat die wêreld se 62 rykste mense nou net soveel rykdom as die helfte van die wêreld se bevolking besit. Volgens die verslag het die superrykes se inkomste sedert 2010 met 44 persent toegeneem.

Waterkrisis: Die nie-regeringsorganisasie, Operation Hydrate, het ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om te help om water in te samel en na droogtegeteisterde gebiede te versprei. Die organisasie, wat reeds water na verskeie rampgebiede geneem het, gaan nou Swartruggens in Noordwes help. ‘n Woordvoerder sê Suid-Afrikaners kan of geld skenk, help om die water te versprei of op sosiale media bydra.

Eskom wil tariewe verhoog: Openbare sittings rakende Eskom se aansoek om elektrisiteitstariewe te verhoog, begin vandag in Kaapstad. Die kragvoorsiener vra die Nasionale Energiereguleerder om tariewe met 17 persent te verhoog. Verskillende sektore kry die geleentheid om vertoë in alle provinsies te rig.

Charlize Theron vereer: Die Oscar-bekroonde aktrise, Charlize Theron het die toekenning vir beste aktrise in ‘n aksierol by die Critics’ Choice ingepalm. Sy het die toekenning in Los Angeles gekry vir haar kragtige spel in Mad Max: Fury Road. Die rolprent het nege pryse ingepalm, insluitende beste aksierolprent, beste regisseur, beste redigering en beste kostuum-ontwerp.

 

 

Kategorieë