Nuus: Oscar skuldig aan moord…


Oscar Pistorius: Die Appèlhof in Bloemfontein het die Staat se appèl in die Oscar Pistorius-saak toegestaan en beslis dat Pistorius skuldig is aan moord ingevolge die regsbeginsel van dolus eventualis. Regter Eric Leach het beslis dat Pistorius die gevolge van sy dade moes kon voorsien het. Die staat het geappelleer teen sy skuldigbevinding aan strafbare manslag en betoë gelewer dat dit omgekeer word in ‘n skuldigbevinding aan moord. Regter Eric Leach het in sy uitspraak verwys na belangrike omstandigheidsgetuienis, wat deel was van die Staat se betoë, en gesê geen getuienis kan bloot net geïgnoreer word nie en moet oorweeg word. Die hof het bevind dat die Hooggeregshofregter Thokozile Masipa ernstige wetlike foute in haar bevinding gemaak het. Leach sê Pistorius moes geweet het dat hy iemand se dood kon veroorsaak het. Die hof het bevind dat dit onprakties sou wees om die saak weer te verhoor. Dit is terugverwys na Regter Masipa om ‘n ander vonnis aan Pistorius op te lê.

Heyneke nie beskikbaar: Die afrigter van die Springbokke, Heyneke Meyer gaan homself nie weer beskikbaar stel as afrigter van die nasionale span nie. Meyer het die Suid-Afrikaanse Rugby-unie ingelig dat hy die besluit in die belang van Suid-Afrikaanse rugby neem. Die rugby-unie sal volgende week ‘n algemene jaarvergadering in Kaapstad hou, en daar was reeds wyd bespiegel dat die gety teen Meyer begin draai het om sy werk te behou.

Moord op vrou en 2 kinders: ‘n Vrou en haar twee kinders is vanoggend in Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek vermoor. Volgens ons verslaggewer op die toneel lyk dit na ‘n rooftog wat skeefgeloop het. Die verdagtes het na bewering ook na ‘n nader huis gegaan, waar nog ‘n persoon doodgeskiet is. Die ma, haar 17-jarige dogter en 14-jarige seun is almal in die kop geskiet. Die pa was na bewering in die motorhuis terwyl die skietery plaasgevind het, en is ongedeerd. Die polisie is steeds op die toneel, en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Antarktika: ‘n Span van die departement van Openbare Werke vertrek vandag uit Kaapstad op die Antarktiese navorsingskip die SA Agulhas Twee na Suid-Afrika se navorsingsbasis in die streek. Die span van 32 lede sal vir meer as twee maande op die SANAE IV-basis bly om instandhouding- en opknappingswerk te doen. Hulle sal onder meer die vloer by die basis en die hospitaal opknap, die ventilasie verbeter vir beter lugkwaliteit en ondervloerse verhitting installeer. Die basis het aanvanklik aan Noorweë behoort, maar is in 1961 aan Suid-Afrika oorhandig. Die basis is egter toegesneeu, en drie basisse is daarna gebou. Die huidige basis is in 1997 voltooi.

Skywise lugdiens: Tweehonderd mense kan hulle werk verloor indien die lugdiens – Skywise – nie sy vlugte hervat nie. Dit volg nadat die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, Skywise se vlugte opgeskort het weens wanbetaling. Die lugdiens is agterstallig met sy rekenings aan ACSA en die Lugverkeer-navigasiemaatskappy – ATNS. Skywise se skuld beloop sowat agt-miljoen rand. Intussen is sowat agtduisend passasiers onseker oor hulle reisreëlings. Die bestuur van Skywise het vroeër gesê hy sal vandag ‘n verklaring oor die opskorting van sy vlugte uitreik. Die lugdiens was nege maande in bedryf.

MTN en Nigerië: Die Nigeriese Kommunikasie-kommissie het ingestem om MTN se boete van 72-miljard rand na sowat 14-miljard rand te verminder. Die boete moet teen 31 Desember betaal word. MTN se uitvoerende voorsitter, Phuthuma Nhleko het bevestig dat hulle ‘n amptelike brief van die kommissie ontvang het. Hy sê hulle sal dringend met Nigeriese owerhede in gesprek tree voordat hulle op die brief reageer. Die boete volg nadat die selfoonmaatskappy versuim het om meer as vyf miljoen ongeregistreerde SIM-kaarte in Nigerië ingevolge nuwe wetgewing buite werking te stel.

FIFA bedrog: ‘n Aantal voormalige en huidige FIFA-amptenare word volgens berigte vanoggend in Zurich in Switserland in hegtenis geneem. Hooggeplaaste FIFA-amptenare is in die stad vir ‘n vergadering waar besonderhede oor voorgestelde hervormings in die organisasie aan hulle voorgelê sou word. Die inhegtenisnemings hou glo verband met ‘n ondersoek wat deur die Amerikaanse departement van Justisie gelei word. Die polisie-operasie is volgens berigte by dieselfde hotel waar sewe FIFA-amptenare in Mei in hegtenis geneem is. Hulle is deel van ‘n aanvanklike groep van veertien mense wat aangekla word van korrupsie en rampokkery. FIFA sê hy sal aanhou om saam te werk met ondersoeke deur Amerikaanse en Switserse owerhede.

 

 

Kategorieë