Nuus: Parlements-opening; Nkandla; Parys-aanvalle; PE-skole…


Nuus 11 Februarie 2016

Parlementsopening:
Die DA hoop dat President Jacob Zuma tydens sy Staatsrede vanaand redes gaan verskaf waarom sy negepunt-plan wat hy tydens verlede jaar se Staatsrede aangekondig het, nie uitgevoer is nie. Die DA se woordvoerder, Mabine Seabe sê die President moet die ekonomie en werkverskaffing voorop stel. Dit is vanaand die President se negende staatsrede. Opposisiepartye het ‘n beroep op Zuma gedoen om ook die Nkandla-kwessie uit te klaar.

Die ANC verwag dat President Zuma die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan tydens sy Staatsrede sal hanteer. Die woordvoerder vir die ANC-koukus, Moloto Mothapo sê die Ontwikkelingsplan fokus op prioriteite soos ongelykhede en werkloosheid en hulle glo dat die President oor die vordering daarvan sal praat.

Nkandla: President Jacob Zuma se regsverteenwoordiger het in ‘n verrassende wending in die Konstitusionele Hof, aangevoer dat die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla bindend is. Die president het lank volgehou dat die verslag oor veiligheidsopgraderings aan sy woning bloot aanbevelings bevat. Wat is die grondwetlike- en regsimplikasies van gister se sitting in Konstitusionele Hof?
Luister na die gesprek op Praat Saam:

Distrik Ses herdenking: Voormalige inwoners van Distrik Ses sal vandag aan ‘n gedenkstaptog deelneem ter herdenking van 50 jaar gelede toe die buurt ingevolge die Groepsgebiedewet as ‘n wit buurt verklaar is. ‘n Nuwe kunsuitstalling sal ook by die Distrik Ses Museum bekend gestel word. Die Museum-direkteur, Bonita Bennett sê die uitstalling beeld die lewens van vroue uit wat in Distrik Ses gewoon het.

Skole in PE: Ses en vyftig skole in Port Elizabeth sal binnekort heropen nadat hulle die afgelope vier weke gesluit was. Die noordelike gebiede se onderwys-forum sê egter ouers het álle vertroue in die onderwys-departement verloor. Die ouers is ontevrede omdat verskeie onderwysposte nie gevul is nie. Dit het volgens hulle ‘n negatiewe impak op kinders se onderrig. Die sekretaris van die Onderwysforum, Richard Draai het op Monitor gesê dat onderhandelings met die departement van onderwys voortgaan.

Parys-aanvalle: ‘n Polisiekaptein van Parys in die Vrystaat is in hegtenis geneem in verband met die moord op twee beweerde plaasaanvallers in Januarie. Vier boere is ook in verband met die moorde in hegtenis geneem. Die boere word daarvan beskuldig dat hulle die twee vermeende plaasaanvallers aangerand het nadat hulle na bewering ‘n bejaarde man op sy plaas aangeval het. ‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê die polisiekaptein sal later vandag in die Parys Landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy bewysstukke weggesteek het om die die boere te beskerm.

Truman Price tugsaak: Die tugverhoor van die burgemeester van Beaufort-Wes, Truman Prince sal na verwagting vandag ten einde loop. Prince het na bewering briewe uitgestuur waarin hy die indruk skep dat sake-ondernemings, wat die ANC goedgesind is, tenders kry. Hy staar ook strafregtelike aanklagte in die gesig weens die beweerde aanranding van ‘n vroue verkeersbeampte. Prince ontken die bewerings. Die DA het versoek dat hy afgedank word en het strafregtelike klagtes ingedien. Die tugverhoor word deur die ANC in die Sentraal Karoo gehou. Prince is sedert 2011 burgemeester van die dorp.

Internasionale nuus

EU en migrante: Die Europese Unie het ‘n beroep op lidlande gedoen om die hervestiging van migrante en vlugtelinge te bespoedig. Die EU Migrasie-kommissaris, Dimitris Avramopoulos het aan verslaggewers in Brussel gesê dat slegs 497 mense al hervestig is uit die 160-duisend waarop verlede September ooreengekom is. Hy sê hy het in briewe aan EU-lede ‘n sterk en duidelike boodskap gestuur dat die proses bespoedig moet word. Hy sê talle migrante sal steeds probeer om Europa te bereik, maar dat dit nie hul keuse is in watter Europese land hulle beskerming geniet nie.

Selfmoordbomaanval in Nigerië: Meer as 70 mense is dood in ‘n dubbele selfmoordbomaanval by ‘n kamp vir ontwortelde mense in die noordooste van Nigerië. Die aanvalle is volgens berigte Dinsdag deur vroueselfmoordbomdraers in die Borno-staat uitgevoer. Dit is sowat 80 kilometer noordoos van Maiduguri, die vesting van Boko Haram. Volgens Al Jazeera is aanvalle deur Boko Haram op burgerlikes besig om toe te neem. Die Nigeriese weermag het nog nie kommentaar gelewer nie, maar Boko Haram word van die aanval verdink.

Kategorieë