Nuus: Parys-terreur; Kampus-betogings…


17 November

Parys-terreuraanvalle:
Frankryk verklaar ‘oorlog’ teen IS; Amerika nie meer geneë om Siriese vlugtelinge in te neem nie; Aanval uit Sirië en Brussels beplan…

Die Franse parlement gaan gevra word om dit te oorweeg om die noodtoestand wat ingestel is na Vrydag se terreuraanvalle in Parys, met drie maande te verleng. In ‘n buitengewone toespraak aan die senaat en nasionale vergadering het president Francois Hollande gesê die grondwet sal moontlik gewysig moet word om te help in die stryd teen terreur. Hy sê die aanvalle in Parys is in Sirië en België beplan en deur Franse burgers uitgevoer. Hollande het onderneem om die Islamitiese Staat-groep te vernietig, en sê die terroriste se doel is om paniek te saai en om Frankryk te verdeel.

Frankryk se eerste minister, Manuel Valls, het aangekondig dat die polisie meer as 150 klopjagte uitgevoer het op vermeende militante regdeur Frankryk ná Vrydagaand se terreuraanvalle in Parys. Minstens 132 mense is dood en meer as 300 gewond. Valls sê klopjagte is oornag uitgevoer op verskillende plekke in Frankryk tot by die Belgiese grens. Strate is afgesper en geboue is deursoek. ‘n Aantal mense is ook vir ondervraging ingeneem en meer as honderd mense is onder huisarres geplaas. Valls sê die noodtoestand wat afgekondig is, noodsaak dit dat mense wat aan radikale ekstremistegroepe behoort, ondervra word. Valls sê hoewel talle aanvalle sedert die somermaande gefnuik is, weet hulle van nog aanvalle wat in Frankryk en elders in Europa beplan word.

Brittanje gaan intussen sy intelligensie-personeel met sowat 15 persent vermeerder en sy besteding aan lugvaartveiligheid verdubbel na die Parys-aanvalle. Die Britse premier, David Cameron, sê dit word gedoen om die land te beskerm na die onlangse terreur-aanvalle in Parys en Tunisië. Hy het ook versoek dat veiligheid by verskeie lughawens wêreldwyd, maar veral in die Midde-Ooste en Noord-Afrika ondersoek word. Cameron sê lugvaart-veiligheid sal ook met ander leiers tydens die huidige G20-beraad in Turkye bespreek word.

Europese ministers van binnelandse sake hou Vrydag ‘n noodvergadering in Brussel. Die vergadering is belê na ‘n versoek deur Frankryk, om die Europese reaksie op die aanvalle in Parys te bespreek. Minstens 129 mense is in die aanvalle Vrydagaand in die Franse hoofstad dood. Die ekstremistegroep, die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid aanvaar.

Dit het bekend geword dat drie van die aanvallers Europa as vlugtelinge met vervalste paspoorte binnegekom het, en hulle het vlugtelingstatus in Frankryk ontvang.

[Lees meer:
Klik hier vir regstreekse opdaterings deur The Guardian.

Screen Shot 2015-11-15 at 8.48.46 PM

Die vermeende terroris wat nou gesoek word

Die vermeende terroris wat nou gesoek word

Klik hier vir meer inligting in The Telegraph.

Sekerheidskenners het gesê indien die Parys terreuraanvallers die huidige vlugtelinge-krisis in as ‘n dekmantel gebruik om Europa binne te dring, sal dit noemenswaardige openbare teenkanting kry. Minstens 129 mense is dood in die aanvalle Vrydagaand, waarvoor die ekstremistegroep, die Islamitiese Staat aanspreeklikheid aanvaar het. Vroeër het die Franse polisie gesê verskeie AK-47 aanvalsgewere is in ‘n motor gevind, wat vermoedelik deur die aanvallers gebruik is. Die motor was in die woonbuurt Montreuil geparkeer. Volgens ooggetuies het van die aanvallers in die swart motor gevlug, wat die teorie bevestig dat sommige aanvallers weggekom het. Drie mans is gister in Brussel in hegtenis geneem, maar dit is nog nie duidelik of hulle self by die aanvalle betrokke was nie.

Die Franse owerheid het die motor gevind wat gebruik is in die aanvalle Vrydagaand in Parys. Die voertuig was in ‘n oostelike voorstad van Parys. Die owerheid het intussen een van die sewe aanvallers geïdentifiseer. Hy is ‘n Franse burger van Algeriese herkoms. Ses lede van sy familie is in aanhouding. Ses mense is ook in België in hegtenis geneem in verband met die aanvalle.

Volgens die Franse owerhede het drie spanne Vrydagaand se aanvalle in Parys uitgevoer. Altesaam 129 mense is dood, terwyl meer as 350 mense beseer is. Militante van die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die aanvallers het toegeslaan op ‘n konsertsaal, ‘n sportstadion, restourante en kroeë. Al sewe die aanvallers, wat swaar gewapen was en selfmoordbom-gordels aangehad het, is dood. Een van die aanvallers is geïdentifiseer as die 29-jarige Omar Ismail Mostefai – ‘n Fransman wat ‘n misdaadrekord het. Hy was by die aanval op die Bataclan konsertsaal betrokke. In ander verwikkelings het die polisie in België verskeie mense in hegtenis geneem in verband met die Parys aanvalle. Die polisie gaan nog voort met hul ondersoeke in die Molenbeek-distrik in Brussel in België. ‘n Man wat vroeër die maand in Bavaria in Duitsland in hegtenis geneem is nadat wapens en plofstof in sy motor gevind is, word met die aanvalle verbind. Openbare toegang tot die Eiffeltoring in Parys is onbepaald opgeskort nadat ‘n noodtoestand ingestel is. Alle openbare betogings is tot komende Donderdag verbied, terwyl sportbyeenkomste ook afgelas is. Drie dae van rou is afgekondig.

Die Franse eerste minister, Manuel Valls, het onderneem dat Frankryk nie onder druk sal swig en aanvalle op die Islamitiese Staat sal laat vaar nie. Hy sê die land is in ‘n oorlog met die I.S gewikkel en is van plan om die groep uit te wis. Intussen is dit die tweede dag van rou in Frankryk. ‘n Spesiale gedenkdiens word vanmiddag in die Notre-Dame katedraal gehou. Honderde bykomende polisie- en weermaglede is regoor die land ontplooi.

Die I.S het in ‘n video-opname aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar en sê dit hou verband met die oorlog in Sirië. Frankryk is deel van ‘n Amerikaans-geleide koalisie wat die I.S in Sirië teiken. Valls het op Franse televisie sy landgenote gewaarsku om bedag te wees op nog aanvalle.

President Jacob Zuma het vroeër daarteen gewaarsku om die terreuraanvalle in Parys te verbind met die migrantekrisis wat Europa ondervind. Zuma sê die oorsaak van terreur moet opgespoor word om ‘n blywende oplossing te kry.

Intussen het die Amerikaanse president, Barack Obama gesê Amerika staan in solidariteit met Frankryk in sy stryd teen terreur. Obama het gepraat voor die G-20 beraad in Turkye. Hy sê die moord op onskuldige mense, soos die vroeëre aanval in Ankara, is aanval op die beskaafde wêreld.

Kampus-betogings:
Twee universiteite in Kaapstad bly steeds gesluit weens gewelddadige betogings deur studente. Die Kaapse Skiereiland Universitiet van Tegnologie het opdrag aan studente gegee om nie later nie as môremiddag vieruur uit die koshuise te wees. Die bestuur sê die besluit is geneem in die lig van die voortslepende betogings op kampusse. Eksamens van nie-finale jaar studente is tot 11 Januarie opgeskort. Finale jaar studente sal teen die einde van die week ingelig word oor gewysigde eksamendatums. Personeel kan moontlik Donderdag terugkeer. Alle akademiese aktiwiteite aan die Universiteit van die Wes-Kaapland is ook opgeskort. Gister moes sowat 400 finale jaar studente hul eksamens elders aflê. Drie studente is in hegtenis geneem op aanklagte van brandstigting.

Die departement van hoër onderwys het intussen die gewelddadige optrede deur betogende studente op talle universiteite se kampusse veroordeel. Die departement sê hy is ernstig bekommerd oor die voortslepende betogings te midde van eksamens wat afgelê moet word. Die departement sê hy steun die optrede van universiteite om veiligheidsswagte te ontplooi en om die polisie in te roep om ander studente en personeel teen geweld en intimidasie te beskerm.

 

 

Kategorieë