Nuus: Parys; Droogte; Strafhof; SAL; Cosatu…


19 November

Parys-terreur: Frankryk het bevestig dat hy aan ‘n konsep Verenigde Nasies-resolusie werk om die internasionale gemeenskap byeen te bring om die Islamitiese Staatgroep as ‘n gemeenskaplike vyand te bestry. Die Franse ambassadeur, Francois Delattre (spreek uit doe-la-trie) het met joernaliste by die VN Veiligheidsraad gepraat na samesprekings agter geslote deure. Hy wou nie bekend maak of Rusland se voorstel oor die bestryding van die IS in Sirië in die resolusie vervat gaan word nie. Die resolusie volg na die terreur-aanvalle in Parys waarin minstens 129 mense dood is.

Owerhede in Honduras sê hulle het ses Siriese burgers in hegtenis geneem wat met vervalste Griekse paspoorte probeer het om Amerika te bereik. Vyf van die mans is in op pad van Costa Rica af in Tegucigalpa in hegtenis geneem. Hulle was op pad na Guatemala. Die land se polisie sê hulle kon egter geen verband vind tussen dié mense en diegene verantwoordelik vir die terreur-aanvalle in Parys in Frankryk nie.

Die Franse staatsaanklaer, Francois Molins, sê een van die hoofverdagtes in die Parys-terreuraanvalle, Abdelhamid Abaaoud, was nie een van die mense wat aangehou is in gister se klopjag in St Denis in Parys nie. Agt mense is tydens die klopjag in hegtenis geneem wat etlike ure lank geduur het. ‘n Vrou, wat waarskynlik familie van Abaaoud was, het haarself tydens die klopjag met ‘n selfmoordbom opgeblaas. Molins sê bykans vyfduisend skote is tydens die klopjag gevuur nadat militante die deur van die woonstel waarin hulle was, gepantser het. Abaaoud word as die hoofverdagte beskou in die aanvalle Vrydag waarin minstens 129 mense dood is.

Moslemteoloog oor ISIS: ‘n Bekende Moslemteoloog verwerp die idee dat die Islamitiese Staat-groep deur die internasionale Moslem-gemeenskap uitgeroei moet word. Prof. Farid Esack, wat aan die Universiteit van Johannesburg verbonde is, is boonop vies oor die Bid vir Parys-veldtog, wat die naweek op sosiale media begin het. Hy sê dis opvallend dat mense nie dieselfde simpatie toon met terreuraanvalle in Asië of Afrika nie.

Duisende geestessiekes dalk sonder sorg:
Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) sê die Gautengse Departement van Gesondheid gaan vier hospitale teen Maart 2016 sluit. Dit sa meer as 2,000 mense met geestessiektes sonder sorg laat.

SA en Internasionale Strafhof: Die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane sê Suid-Afrika wil nie gedwing word om te kies tussen sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof en sy Afrika verbintenisse nie. Sy het deelgeneem aan ‘n debat onder lede van die Strafhof in Nederland. Nokana-Mashabane sê as die hof op sy huidige wyse voortgaan, dit in duie sal stort. Sy het ook die hof gelooi oor kwessies rondom die inhegtenisname en oorhandiging van verdagtes. Die minister sê daar moet gesprekke gevoer word oor óf lande van hul verantwoordelikheid kan afsien indien die persoon diplomatieke immuniteit het. Dit volg nadat die Soedanese leier, al-Basjir Suid-Afrika in Junie besoek het ten spyte van ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname.

Droogte: Die Parlement gaan moontlik ‘n ad-hoc komitee instel om die waterkrisis en die droogte in die land te ondersoek. Lede van die programkomitee het in beginsel ooreengekom dat die wenslikheid van so ‘n komitee ondersoek moet word. Die komitee sê die hoofswepe van die partye sal hieroor moet ooreenkom. Die komitee het ook besluit dat die Parlement volgende Dinsdag en Woensdag om tienuur sal begin om uitstaande wetsontwerpe en komiteeverslae te finaliseer.

Intussen sal beurtwater in KwaZulu-Natal van Maandag af ingestel word in gebiede noord van Durban wat water van die Hazelmere-dam ontvang. Watertoevoer na eThekwini-woonbuurte soos Verulam en Waterloo, sowel as KwaDukuza, landelike gebiede in die Ilembe-distrik en die gewilde vakansiebestemming Ballito sal vir tussen ses en agt uur per dag onderbreek word.

Dit het nou wel op verskeie plekke in die land gereën, maar nog baie water is nodig voor die droogte gebreek word. Boere het nie mielies geplant nie en daar is dus nie voldoende veekos nie.

SAL ongerymdhede: Die adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas het enige sprake van ongrymdhede verwerp met SAL se beplande Airbus-ruiltransaksie van sowat ses miljard rand. Hy het gepraat nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens bekend gemaak het dat hy nie uit die transaksie onttrek nie, maar slegs die oorsese verhuringsmaatskappy met ‘n plaaslike een gaan vervang. Dit volg op berigte dat die lugredery vroeër toestemming van die regering gevra om die bestelling met Airbus vir A320-vliegtuie te ruil met die verhuring van vyf groter A330-tuie.

Die redery het vroeër aan die parlement gesê verliese van meer as ses miljoen rand is in die eerste ses maande van die huidige finansiële jaar gely. SAL het aan die parlement se toesigkomitee oor finansies gesê die lugdiens sal binne drie tot vyf jaar winsgewend wees. Die lugredery sê sy finansiële verliese kan nie aan die omstrede visumregulasies toegeskryf word nie.

Cosatu verswak met 325000: Cosatu se lidmaatskap het die afgelope drie jaar met bykans 325-duisend lede gedaal. Dit blyk uit die vakbondfederasie se voorlopige verslag wat aanstaande week aan sy nasionale kongres voorgelê gaan word. Cosatu het in die stadium sowat een-miljoen 900-duisend lede wat minder as die helfte is van die vier miljoen teiken wat gestel is. Cosatu het ‘n jaar gelede sy grootste filiaal, Numsa, uitgeskop. Nehawu is nou die grootste vakbond met ‘n ledetal van 277-duisend. Binnegevegte en faksie-vorming die afgelope paar jaar het gelei tot talle vakbonde wat weggebreek het. Cosatu erken in die verslag dat hy te kampe het met organisitoriese- en administratiewe probleme.

‘n Sluier van geheimhouding hang oor wie vir die volgende drie jaar die vakbond, Cosatu sal lei. Cosatu se verkiesingskonferensie vind volgende week in Midrand, noord van Johannesburg plaas. Die konferensie vind plaas te midde van bitter verdeeldheid tussen die nasionale ampsdraers en geaffilieerdes. Terwyl sommige vakbonde soos die Food and ­Allied Workers Union glo nuwe leierskap soek, wil ander geaffilieerdes verdere spanning wil vermy.

Vorige nuusberigte: Lees hier.

Kategorieë