Nuus: Renosterhoring; Noakes; ANAs; Cosatu…


26 November
Handel in renosterhoring in SA nou wettig: Die binnelandse handel van renosterhoring is nou wettig. Die Hooggeregshof in Pretoria het vanoggend die regering se verbod opgehef wat sedert 2009 van krag is. Twee boere van Malelane en Limpopo, John Hume en Johan Kruger het die aansoek gebring. Regter Francis Legodi het in sy uitspraak gesê hy kan nie enige verreikende gevolge sien as die verbod onmiddellik opgehef word nie. Die Ministerie van Omgewingsake sal na verwagting later vandag aandui of hulle teen die beslissing gaan appeleer.

Tim Noakes tugsaak: Tim Noakes se span het die Dieëtkundige Vereniging van Suid-Afrika gekritiseer omdat hulle by normale dieet-riglyne hou ten spyte van die groeiende syfers in vetsugtigheid. Dit is vroeër tydens Tim Noakes se verhoor voor die Raad op Gesondheidsberoepe geopper. Noakes staar aanklagte van onprofessionele optrede in die gesig nadat hy ‘n ma aangeraai het om haar kind na ‘n hoë koolhidraat-hoë vet-dieet te speen. ‘n Kundige, Ester Vorster wat getuig het, sê normale pediatriese riglyne moedig glad nie ‘n lae koolhidraat – hoë vet-dieet aan nie.

ANAs: Die Departement van Basiese Onderwys gaan voort met sy jaarlikse Assesseringstoetse en laerskole is reeds in ‘n omsendbrief ingelig dat die toetse van vandag sal begin. Die toetse wat geletterdheid en syfervaardigheid toets, was aanvanklik beplan vir September. Onderwysvakbonde het egter teen die toetse in hulle huidige formaat beswaar gemaak en gevra dat hulle herontwerp word. Die vakbonde het sedertdien gesê hulle sal die assesserings boikot. Die Departement sê skole berei reeds sedert September vanjaar voor vir die toetse.

Cosatu oor onthullings: Die president van die vakbondfederasie, Cosatu, Sdumo Dlamini, het onthullings deur die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, dat van die vakbonde aandele besit in arbeidsmakelaars en maatskappye wat die e-tolstelsel in Gauteng bestuur, as ‘n verleentheid bestempel. Oliphant het daarop gesinspeel toe sy op die verkiesingskongres in Midrand gepraat het. Cosatu is gekant teen die e-tolstelsel en arbeidsmakelaars.

Die Valke en skorsing: Die Valke wou nie kommentaar lewer oor berigte dat die adjunk polisiekommissaris, Nobubele Mbekela, ‘n kennisgewing ontvang het oor sy moontlike skorsing nie. ‘n Woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, sê dit is ‘n interne saak en hy kan nie daarop kommentaar lewer nie. Volgens betroubare bronne in die Polisie is die skorsingsbrief soortgelyk aan die brief wat op die polisiewoordvoerder, Solomon Makgale, bedien is. Daar word beweer dat die top polisielede, insluitende Mbekela en Makgale, in die spervuur is oor verklarings wat hulle ter ondersteuning aan die geskorste Polisiekommissaris, Riah Phiyega, uitgereik het. Die raad van Provinsiale polisiekommissarisse het in Augustus ‘n verklaring te ondersteuning van Phiyega uitgereik.

Rusland-Turkye debakel: Die oorblywende bemanningslid van ‘n Russiese vegvliegtuig wat deur Turkye afgeskiet is, sê hulle het geen waarskuwings van die Turkse lugmag ontvang en het nie oor die Turkse lugruim gevlieg nie. Turkye het die Russiese vegvliegtuig naby die Siriese grens afgeskiet en gesê die vliegtuig het sy lugruim geskend. Die navigator, Konstantin Murakthin, is deur spesiale magte van Rusland en Sirië gered nadat hy sy uitskietstoel geaktiveer het. Murakthin het uit ‘n hospitaal in Sirië kommentaar gelewer. Die vlieënier is deur rebelle doodgeskiet terwyl hy met sy valskerm grond toe gedaal het. Die vliegtuig se stert is deur die Turkse missiel getref. Turkye hou steeds vol dat die Russiese vliegtuig herhaaldelik gewaarsku is om van koers te verander.

 

Kategorieë