Nuus: Terreur; Droogte; Tim Noakes…


Woensdag 25 November 2015

Internasionale terreur: `n Belgiese regter het `n Europese en internasionale lasbrief uitgereik vir `n man met die naam Mohamed Abrini in verband met die terreuraanvalle in Parys. Die aanklaers sê twee dae voor die aanvalle is die 30-jarige Abrini in `n motor met die verdagte Salah Abdeslam by `n vulstasie op die snelweg na Parys gesien. Abdeslam word wêreldwyd gesoek in verband met die aanvalle waarin 130 mense dood is.

Swede beplan om strenger grensbeheer en reëls vir asielsoekers toe te pas. Dit word gedoen in `n poging om die aantal asielsoekers in die land te beperk. Swede verwag dat bykans 190-duisend migrante en vlugtelinge vanjaar oor sy grens sal kom. Die Sweedse eerste minister, Stefan Lofven, sê die veranderings word gemaak omdat die land nie meer kan byhou nie. Hy sê Swede sal aan die minimum vereistes van die Europese Unie voldoen.

Tim Noakes tugverhoor: Die regsverteenwoordiger van professor Tim Noakes het die Suid-Afrikaanse Dieetkundevereniging daarvan beskuldig dat hulle afgunstig is oor die roem wat Noakes met sy Banting-dieet behaal het. Mike van der Nest het by die Raad vir Gesondheidsberoepe se sitting in Kaapstad getuig dat die vereniging afgunstig is op Noakes. Hy sê dit is die rede hoekom die klagte teen hom en sy dieet ingedien is. Die voormalige president van die vereniging, Claire Strydom, het dit egter ontken. Die klagte teen Noaks handel oor sy raad op Twitter dat `n vrou haar baba minder koolhidrate en meer kos met `n hoër vet-inhoud voer.

Waterbeperkings in Vrystaat en Gauteng: Die Vrystaatse provinsiale regering sê 20 van sy munisipaliteite word erg deur die droogte geraak. Dit sluit die munisipaliteite van Naledi, Setsoto en Mantsopa in. Damme in die provinsie, wat die Fika Patso-dam in Qwaqwa insluit, is besig om op te droog. Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Olly Mlamleli, het `n beroep op inwoners gedoen om water spaarsaam te gebruik.

Johannesburg het sy inwoners daaraan herinner dat Vlak Twee-waterbeperkings nog van krag is. Dit volg nadat temperature weer begin styg het na verlede week se reënbuie. Vlak Twee-waterbeperkings beteken dat swembaddens nie opgevul mag word nie en dat tuine nie tussen ses in die oggend en ses in die aand met `n tuinslang natgespuit mag word nie.

 

Motsepe-stigting gee geld vir basiese onderwys: Die Motsepe-stigting van die sakeman Patrice Motsepe het 117 miljoen rand bewillig om die departement van basiese onderwys by te staan om leerlinge op die gebiede van sport en koormusiek te ontwikkel vir die volgende 10 jaar. Die stigting wat die aankondiging in Sandton in Johannesburg gedoen het, sê dit is belangrik vir die opheffing van arm en werklose mense. Die departement het die bydrae verwelkom.

SAL se benarde geldsake: Die Vryheidsfront Plus sê die Suid-Afrikaanse publiek het die volste reg om te weet hoe benard die geldsake van die Suid-Afrikaanse Lugdiens is en dat dit betreurenswaardig is dat die media verbied word om daaroor te berig. Dit volg nadat die redery ‘n dringende hofbevel in die Johannesburgse Hooggeregshof verkry het om Media24, Moneyweb en Business Day te verhinder om oor ‘n geheime SAL-memorandum te berig. Die woordvoerder van die VF Plus, Anton Alberts sê die hofbevel maak nie sin nie aangesien Moneyweb die verslag reeds op die internet geplaas het voordat die hofbevel uitgereik is. Hy sê dit is reeds in die openbare domein en bevat inderdaad verdoemende feite oor die SAL.

Drieparty-alliansie verdeeld: Ontleders meen verdeeldheid in die drieparty-alliansie tree skerper na vore by die Cosatu-kongres wat tans in Midrand gehou word. Sowel president Jacob Zuma as die SAKP se sekretaris-generaal, Blade Nzimande het in hulle toesprake die belang van eenheid beklemtoon. Intussen het die vakbond Fawu hom by die onderwysvakbond Sadou geskaar in hulle steun vir adjunkpresident Cyril Ramaphosa as volgende ANC-president. Dit word as ‘n sterk aanduiding beskou dat die vakbondfederasie Ramaphosa sal steun om in 2018 by president Jacob Zuma oor te neem. Fawu sê egter hulle wil nie hê Cosatu moet betrokke raak by die faksiestryd in die ANC nie. Die kongres duur tot more.

 

Kategorieë