Nuus: Teen-Zuma aksie duur voort; Gesondheid Witskrif, Motsoeneng; …


13 Desember 2015

SAL en Zuma: Die Presidensie het in ‘n verklaring ontken dat die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens onder beheer van die Tesourie geplaas is weens onenigheid tussen die voorsitter, Dudu Myeni en die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown. Woordvoerder van die Presidensie, Bongani Majola sê die SAL is onder beheer van die Tesourie geplaas sodat daar intensiewe hulp kan wees om die SAL uit sy finansiële verknorsing te kry. Luidens die verklaring sal die SAL weer na die departement van Openbare Ondernemings oorgeplaas word sodra die lugdiens se geldsake verbeter het. Die Presidensie het ook ontken dat Myeni druk op president Jacob Zuma geplaas het om Nhlanhla Nene as minister van Finansies af te dank weens verskille oor die bestuur van die SAL. Die bestaan van ‘n romantiese verhouding tussen Myeni en die president is ook ontken.

Cope oor Zuma: Die leier van Cope, Mosiuoa Lekota het opposisiepartye gevra om saam te staan om die mag van die ANC weg te neem in die komende munisipale verkiesings. Lekota was ‘n spreker by die PAC se verkiesingskonferensie op Molapomogale naby KwaMhlanga in Mpumalanga. Hy sê dit is nutteloos dat opposisiepartye onder mekaar baklei terwyl die ANC aan bewind bly. Lekota sê die regerende party het arrogant geword omdat daar nie samewerking tussen opposisiepartye is nie.

Nuwe Gesondheidstelsel: Die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het die langverwagte Witskrif oor Nasionale Gesondheidversekering in Pretoria bekendgestel. Hy sê die koste van private gesondheidsorg is byna krimineel. Hy sê openbare gesondheidsorg het weer probleme met Menslike Hulpbronne, Finansiële Bestuur, Verkryging en Infrastruktuur. Hy sê die Witskrif is met behulp van talle kenners van die Wêreldgesondheidsorganisasie saamgestel om aan die probleme aandag te gee. Ingevolge die witskrif sal mediese fondse slegs dekking bied vir dienste wat nie volledig deur die nasionale versekering betaal word. Dit sal deur ‘n sentrale fonds gefinansier word, met mediese makelaars wat heeltemal mee weggedoen word.

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi sê die Nasionale Gesondheidsversekering kan tot ‘n duisend miljard rand kos, indien dit geïmplementeer word teen die huidige koste van private gesondheidsorg. Hy sê egter dit is só ontwerp dat dit bekostigbaar sal wees. Motsoaledi het die media toegespreek tydens die bekendstelling van die Witskrif oor die N.H.I in Pretoria. Hy sê baie werk is gedoen eerstens om die koste van private gesondheidsorg te verminder en tweedens om die gehalte van sorg in die openbare sektor te verbeter. Motsoaledi sê ‘n reuse omwenteling in openbare én private gesondheidsorg in die land is nodig.

PetroSA se geldbaas moet loop: Die staatsbeheerde petroleummaatskappy, PetroSA het ‘n ooreenkoms met sy finansiële hoof, Lindiwe Bakoro bereik om haar dienste te beëindig. Die maatskappy sê die partye het ‘n ooreenkoms bereik wat vir albei aanvaarbaar is. PetroSA bedryf Mossgas, die derde grootste gas-na-vloeistof raffinadery ter wêreld in Mosselbaai. Bakoro se vertrek volg nadat die uitvoerende hoof, Nosizwe Nokwe-Macamo die maatskappy ses weke gelede onder soortgelyke omstandighede verlaat het. Dit volg na ‘n ondersoek na hul werkverrigting nadat die maatskappy se inkomste gedaal het.

Motsoeneng verhoor: Die DA gaan ‘n transkripsie aanvra van die dissiplinêre verhoor van die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng en vra dat die uitslag hersien word. Motsoeneng is vrygespreek van al die aanklagte teen hom. Die DA se federale voorsitter, James Selfe sê die gronde vir die hersiening sal wees dat die tugverhoor ‘n bespotting gemaak het van die oppergesag van die reg, die verslag van die Openbare Beskermer en die uitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof. Selfe sê die bevinding dat Motsoeneng onskuldig is op die aanklagte teen hom kan nie rasioneel regverdigbaar wees nie.

Motsoeneng het vroeër gesê hy is verlig dat hy onskuldig bevind is deur die tugkomitee. Hy sê ook ten spyte van ‘n vroeëre hofuitspraak waarin sy aanstelling ter syde gestel is, is hy steeds die bedryfshoof van die SAUK aangesien die SAUK teen die hofbeslissing geappelleer het. Motsoeneng sê tot tyd en wyl die appèl aangehoor word, bly hy die openbare uitsaaier se bedryfshoof.

 

Obama en klimaatberaad: Die Amerikaanse president Barack Obama sê die ooreenkoms wat by die klimaatberaad in Parys bereik is, is die geleentheid om die aarde te red. Obama sê die ooreenkoms stuur ‘n duidelike boodskap dat die wêreld daartoe verbind is om kweekhuisgasse te verminder. Hy sê dit het ook die potensiaal om tot groter beleggings in skoon energie te lei. Sjina, die wêreld se grootste produsent van uitlaatgasse, het ook die ooreenkoms geloof. Sommige aktiviste sê egter die ooreenkoms strek nie vêr genoeg nie. Al 195 lande wat die beraad bygewoon het, het die ooreenkoms onderteken.

Mugabe en Weste: President Robert Mugabe van Zimbabwe sê die land sal nie sy beleid verslap om betrekkinge met die Weste te bevorder nie. Mugabe het by die afsluiting van die Zanu PF se jaarlikse konferensie gesê 2016 sal die spertyd wees vir buitelandse maatskappye om aan die beleid vir ekonomiese bemagtiging te voldoen. Hy sê die beleid ingevolge waarvan 51 persent van mynmaatskappye in plaaslike besit sal wees, sal nie verslap word nie. Mugabe sê geen maatskappy wat die beleid van verinheemsing verwerp, sal in die land welkom wees nie.

 

11 Desember

#ZumaMustFall versterk: Suid-Afrikaners gebruik sosiale media om hulle ontevredenheid te kenne te gee met president Jacob Zuma en sy skokbesluit om Nhlanhla Nene as minister van Finansies af te dank. Die hutsmerk-Zuma must fall is tans een van die sterkste veldtogte op Twitter. ‘n Facebook-blad is intussen ook geskep om ‘n vreedsame optog op 16 Desember na die Uniegebou te reël. Die visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, Adam Habib het op Twitter ‘n beroep op die ANC gedoen om president Jacob Zuma te herroep. Habib het op dié sosiale netwerk Zuma se leierskap betreur en gesê die land se kollektiewe toekoms hang van die herroeping van die president af.

ANC-lid veroordeel Zuma se Nene-afdanking: Die bekende ANC-lid, Shaka Sisulu het intussen die verwydering van Nhlanhla Nene, uit sy pos skerp veroordeel. Sisulu was in 2013 betrokke by ‘n taakspan van die ANC-Jeugliga nadat die organisasie se strukture ontbind is. Sy oupa is die ANC-stryder en veteraan, Walter Sisulu, en sy pa die voormalige Speaker in die Nasionale Vergadering, Max Sisulu. Sisulu se ma is die aktivis en skrywer, Elenor Sisulu. Sisulu het in ‘n aantal Twitter-inskrywings sy kritiek te kenne gegee met Nene se trekpas. Hy sê onder andere hy is bekommerd oor die ANC se verklaring, wat eintlik niks sê nie. Sisulu sê mede-ANC-lede van die bevryding, sal ‘n eens trotse geskiedenis moet begrawe.

Habib versoek ANC om Zuma te herroep: Die visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, Adam Habib het ‘n beroep op die ANC gedoen om president Jacob Zuma te herroep. Habib het op die sosiale netwerk Twitter Zuma se leierskap betreur en gesê die land se kollektiewe toekoms hang van die herroeping van die president af. Habib sê die skok-afdanking van Nhlanhla Nene as minister van Finansies vererger die land se politieke en ekonomiese krisis en dat dit ‘n onverantwoordelike stap was. Zuma het skokgolwe deur die land gestuur met sy onverwagse afdanking van Nene en die rand het onder meer skerp gedaal in reaksie op die aankondiging. Die president se optrede het skerp kritiek uit verskeie oorde ontlok.

Lees die BBC se berigte oor Pres. Zuma se afdanking van Nene.

Witskrif vir Nasionale Gesondheidsversekering vandag bekend: Die langverwagte Witskrif oor Nasionale Gesondheidsversekering sal na verwagting vandag deur die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, vrygestel word. Dit baan die weg vir ingrypende veranderings aan die gesondheidsorgstelsel en volg na die bekendstelling van die Groenskrif oor die kwessie in 2011. Die Groenskrif wat oor ‘n tydperk van 15 jaar ingestel sal word, stel ‘n gesondheidstelsel voor wat gratis vir almal sal wees. Geen besonderhede is egter verskaf oor die gesondheidsdienste wat ingevolge die nuwe skema gelewer sal word en hoe dit gefinansier sal word nie. Volgens vroeëre projeksies word die koste van die stelsel op meer as 200 miljard rand in 2020 geraam.

Tender vir kernkrag-instandhouding: Die DA het die Appèlhof se beslissing verwelkom om Eskom se toekenning van ‘n tender vir stoomopwekkers vir Koeberg aan die Franse kernmaatskappy, Areva, ter syde te stel. Die party sê dit is ‘n bewys van grootskaalse tenderkorrupsie by die maatskappy. ‘n Woordvoerder oor Energie, Gordan Mackay, het ‘n vergelyking getref met die Amerikaanse Sekuriteitebeurskommissie se bevinding van politieke inmenging in die toekenning van tenders aan Hitachi vir die bou van die Medupi kragstasie. Hy sê ook die afdanking van Nhlanhla Nene as Minister van Finansies dra verder by tot vrese van politieke inmenging in die staat se beplande kerntransaksie van ‘n duisend miljard rand.

Optrede teen betoger-skade: Ses mense wat in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering verskeie voertuie tydens ‘n gewelddadige betoging in Limpopo aan die brand gesteek het, verskyn vandag in die landdroshof op Burgersfort. Hulle het gister op aanklagte van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in die landdroshof in Sekoekoenie verskyn en het in aanhouding gebly. Die ses was deel van ‘n groep gemeenskapslede wat oor die naweek in Steelpoort naby die dorp amok gemaak het. Die betogers het die R-555 versper en 19 voertuie aan die brand gesteek.

Swart sakeman moeg vir korrupsie: Die sakeman en stigter van die maatskappy Black Like Me, Herman Mashaba het aangekondig dat hy homself beskikbaar stel as die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Mashaba sê hy het vir te lank van die kantlyn af gekyk na hoe korrupte en selfdienende ANC-politici die stad wanbestuur. Hy sê hy is ook bekommerd oor die hoë vlakke van werkloosheid. Volgens Mashaba het hy die besluit geneem na verskeie versoeke van DA-lede en gewone burgers.

Vlugtelingkrisis in Europa: Griekeland sê sal migrante deporteer indien hulle nie kwalifiseer vir asiel nie. Duisende migrante en vlugtelinge het in die hoofstad Athene aangekom nadat hulle by die Macedoniese grens weggewys is. Macedonië aanvaar in die stadium slegs migrante van Sirië, Irak en Afghanistan. Die Griekse minister van migrasie, Jiannis Mouzalas, sê hoewel die opsie nie ideaal is nie, is dit beter vir die migrante as om in die veld te slaap. Volgens hom het nuwe aankomelinge dus twee opsies, om vir asiel in Griekeland aansoek te doen of om na hulle eie lande gerepatrieer te word. Daar word ook verwag dat die Internasionale Organisasie vir Migrasie binnekort ‘n repatriasiesentrum in die stad gaan inrig.

 

10 Desember

#ZumaMustFall het gistermiddag op Twitter ge’trend’

Ekonome geskok oor Nene-afdanking: Ekonome is geskok oor die vervanging van die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, met die redelik onbekende David van Rooyen. Die rand het na die aankondiging sterk teruggesak tot bó die 15-rand-vlak teenoor die Amerikaanse dollar. Die ekonome sê geldmarkte sal waarskynlik oorreageer totdat daar meer duidelikheid oor Zuma se planne is. `n Ekonoom, Patrick Mathidi, sê dit was `n verrassing, veral na die afgradering van die Suid-Afrikaanse ekonomie verlede Vrydag. Hy glo markte gaan sukkel om die besluit te aanvaar.

Politieke partye geskok oor Zuma-skuif: Politieke partye het ook met skok reageer op Nene se vervanging. Die partye sê Nene se verskille met die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni, is die moontlike rede vir die verskuiwing. Die DA se Brandon Topham sê die besluit kan `n negatiewe invloed op die land se sukkelende ekonomie hê.

Op die sosiale netwerk, Twitter het reaksie ingestroom. Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê Nene het waarskynlik in die pad gestaan van verskeie ondernemings wat nie deur die begroting toegelaat is nie. Die leier van die EFF, Julius Malema sê dit is ‘n verklaring van ‘n krisis. Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille het dit beaam, en sê President Zuma besef nie hoe ernstig die krisis is nie. Die leier van die Vryheidsfront-plus, Pieter Mulder sê intussen die president is kortsigtig en het die ekonomiese werklikhede uit die oog verloor.

Rand val ná Zuma-skuif: Die aankondiging van ‘n nuwe minister van finansies was rampspoedige nuus vir die rand, wat gisteraand tot verby die vlak van 15-rand en 23-rand teen die dollar en pond getuimel het. Die rand het ‘n rukkie gelede teen 14-rand-89 teen die dollar verhandel en 22-rand-56 teen die pond.

Meer oor Zuma-skuif:
Nuwe minister van finansies, David van Rooyen, is nie eens in top-100 van ANC se nasionale uitvoerende komitee nie @zarsg

Rand tuimel steeds ná Zuma se skoknuus oor Nene. Nou op R15,30/$ (en dit val steeds!). @zarsg

Daily Maverick beskryf dié optrede van Pres. Zuma as ‘doelbewuste sabotasie’ van Suid-Afrika. Lees meer.

EFF leier Julius Malema twiet: “A declaration of a crises indeed, his party must now remove him. #ZumaMustFall.”

Die kredietgraderingsagentskap, Fitch, sê die afdanking van Nhlanhla Nene as Minister van Finansies skep meer negatiewe as positiewe vrae oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. President Jacob Zuma het Nene met die redelik onbekende Van Rooyen vervang. Fitch het vroeër die maand Suid-Afrika se vooruitsigte tot net bo die vlak van rommelstatus afgegradeer weens swak ekonomiese groeivooruitsigte en hoë skuldvlakke.

SA verbruikersvertroue val
Suid-Afrika se verbruikersvertroue het in die vierde kwartaal tot baie naby aan sy laagste vlak in 14 jaar gedaal. Die vertroue-indeks het tot minus 14 gedaal. Dit is net minder as die minus 15 in die tweede kwartaal. Die syfer vir die derde kwartaal was minus vyf. Die bankgroep FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê dit kan toegeskryf word aan verbruikers wat dink dat die plaaslike ekonomie nog verder kan verswak. Die FNB-navorser, John Loos, sê die protesoptrede van studente oor klasgelde en die ernstige droogte het `n groot invloed op verbruikers gehad. Hoër belastig, groeiende werkloosheid, kragonderbrekings, stygende rentekoerse en die swak rand het volgens die verslag die verbruikers se vertroue ook benadeel.

Nuwe straler vir Zuma: Daar is begin met die proses om moontlik ‘n nuwe straler vir die president en die BBP-eenheid van die Suid-Afrikaanse Lugmag aan te skaf. Die Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula sê egter in ‘n skriftelike parlementêre antwoord aan die Vryheidsfront-Plus, dat geen finale besluite nog geneem is nie. Mapisa-Nqakula sê Krygkor is nog besig om marknavorsing te doen. Die minister sê die bevindinge van dié navorsing sal hulle lei in hul besluit om met die proses voort te gaan, of nié.

Hlaudi het ge-intimideer: Die voormalige menslike hulpbronbestuurder van die SAUK, Paul Tati het die openbare uitsaaier by die tugverhoor van die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, van intimidasie beskuldig. Die tugverhoor het vanoggend in Sandton, noord van Johannesburg hervat. Tati sê kort nadat hy ingestem het om by die tugverhoor te getuig, is sy opleidingskontrak by die SAUK bevraagteken en die persoon wat die kontrak onderteken het, is geskors weens beweerde ongerymdhede. Hy het ook getuig dat hy Motsoeneng in 1997 gekonfronteer en sy matrieksertifikaat geëis het, nadat hy daarvan bewus geraak het dat die dokument uitstaande is. Hy sê Motsoeneng het eers na ‘n derde vergadering erken dat hy nie ‘n matrieksertifikaat het nie.

Koeberg tenderfiasko: Die energie-kenner, Chris Yelland, waarsku dat Suid-Afrika talle vertragings kan ondervind voor die kragvoorsieningsprobleme opgelos is. Dit volg nadat die Appélhof beslis het dat Eskom se kontrak met die Franse kernkrag-maatskappy, Areva NP Incorporated, onreëlmatig was. Die tender van vyf-miljard rand was om die stoomketels by Koeberg op te knap. Die kontrak is verlede jaar toegeken nadat Eskom lank uitgestel het om dit te doen. Die regter het beslis dat Eskom weer moet begin onderhandel en dit kan die beveiliging van die kragnetwerk vertraag.

Trump skop vas: Die Republikeinse presidensiële kandidaat in Amerika, Donald Trump, sê hy sal hom nie aan die wedloop om president te word, onttrek nie. Dit volg na hewige kritiek oor sy uitsprake oor Moslems in Amerika. Die Withuis het gister gesê, Trump het homself van die veldtog gediskwalifiseer omdat hy gesê het Amerika moet Moslems verbied om die land binne te kom. Hy het dit gesê na aanleiding van die terreur-aanval in Kalifornië. Trump is die voorloper in die Republikeinse veldtog – ses weke voor die proses in alle erns begin vir elke party om hul kandidaat te kies. Trump het vroeër ook gesê hy sal voortgaan met sy besoek aan Israel.

Kategorieë