Nuus: Beurtwater; Jonah Lomu; Zuma-hofstukke


18 November 2015

Jonah Lomu skielik vanoggend dood: Een van die All Blacks se grootste spelers, Jonah Lomu is oorlede. Hy was 40 jaar oud. Volgens die All Blacks se voormalige spandokter, John Mayhew is Lomu onverwags in Auckland oorlede. Hy het in 2004 ‘n nieroorplanting gehad. Lomu het in 63 toetse vir Nieu Seeland as vleuel uitgedraf en het in 2002 sy laaste toets teen Wallis gespeel. Hy het 37 toets-drieë gedruk. Die Nieu Zealandse rugby-unie het Lomu as ‘n rugbylegende beskryf en sê hulle is geskok en hartseer oor sy skielike dood.

Huldeblyke het begin instroom vir Lomu. Lomu en sy gesin het gisteraand nog van die Verenigde Koninkryk teruggekeer na Auckland. Hy is kort daarna skielik oorlede. Lomu het gewag vir nog ‘n nieroorplanting en het dialiese behandeling ondergaan. Die vleuel se skielike afsterwe het die rugbywêreld onverhoeds betrap. Lomu het ondanks sy gesondheidsprobleme 37 drieë in 63 toetse gedruk. Die voormalige Springbokspeler Pieter Hendricks het in Monitor hulde gebring aan dié rugbyreus. Hendricks het in sy loopbaan ‘n hele paar keer met Lomu kragte gemeet. Hy het hom beskryf as ‘n reus op die rugbyveld, maar sê van die veld af was hy ‘n man met ‘n sagte hart.

Droogte en beurtwater: KwaZulu-Natal gaan die Vrystaat se voorbeeld volg en beurtwater instel. Die watervoorsiener, Umgeni Water, sê hy gaan aanstaande week begin om kwaai waterbeperkings in die provinsie in te stel. `n Woordvoerder van Umgeni Water, Shami Harichunder, sê die watervoorsiener, saam met die iLembe Distriksmunisipaliteit, die eThekwini Metro en Sembcorp, het ooreengekom om van 23 November af water met 50 persent te beperk. Harichunder sê dit beteken dat daar van ses tot agt ure per dag geen water sal wees nie. Die besluit is geneem omdat die Hazelmere-dam net 25 persent water het.

Die vervaardingsektor het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die voortslepende droogte op produksie. Ondernemings in die bedryf wat aan die vervaardigingskring-opname vir die derde kwartaal van 2015 deelgeneem het, sê watertekorte belemmer produksie in terme van verskaffing, maar dat watervoorsiening nog betroubaar is. Altesaam 88 vervaardigers vanoor verskeie sektore is gepols. Sakevertroue in die bedryf bly broos, met ‘n afname van tien indekspunte in die derde kwartaal tot 38. Dit is die indeks se laagste vlak sedert die vierde kwartaal van 2011.

Die Parys-terreur: Franse veiligheidsmagte sê drie verdagtes is dood in ‘n polisieklopjag op ‘n woonstel in die noordelike voorstad St Denis in Parys. Een van die verdagtes het haarself na bewering opgeblaas. Geen verdere besonderhede is bekend nie. Een van die hoofverdagtes in die Parys-terreuraanvalle is ook moontlik saam met ander medepligtiges in ‘n woonstelblok vasgekeer. Dit volg nadat die Franse polisie en terreurverdagtes in die voorstad slaags geraak het. Twee polisiebeamptes is in die skietery gewond. Die skietery was tydens ‘n polisieklopjag wat verband hou met die voortgesette ondersoek na Vrydag se dodelike aanvalle in Parys wat die lewens van meer as 130 mense geëis het. Die Belgiese militant, Abdelhamid Abaaoud, is volgens berigte in die woonstelblok vasgekeer. Volgens die veiligheidsmagte het kringtelevisie-opnames getoon dat ‘n negende persoon moontlik by die aanvalle betrokke was.

Lees meer oor die Parys-terreur: Klik hier.

Internasionale Strafhof en Afrika: Die politieke been van die Internasionale Strafhof vergader in Den Haag in Nederland te midde van toenemende druk oor sy verhoudings met Afrika-lande. Die hof word van vooroordeel teen Afrika-lande beskuldig. Beroepe is ook vanuit die ANC-geledere gedoen dat die Suid-Afrikaanse regering hom aan die Internasionale Strafhof moet onttrek. Vrae oor Suid-Afrika se deelname aan die hof het ontstaan nadat die regering nie bereid was om die Soedanese president, Omar Al-Bashir, uit te lewer toe hy in Junie die Afrika Unie se beraad in Johannesburg bygewoon het nie. Die Keniaanse adjunk-president, William Ruto, is ook veronderstel om voor die hof te verskyn. Kenia oefen druk uit om veranderinge te maak aan die manier waarop die hof optree.

Zuma-hofstukke oor Nklandla-geld: President Jacob Zuma voer in hofstukke aan dat die DA en die EFF die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se verslag oor Nkandla verkeerd verstaan het dat hy ‘n gedeelte van verbeterings aan sy privaatwoning moet terugbetaal. Die president sê in hofstukke wat by die Konstitusionele Hof ingedoen is, die partye het ook moontlik ‘n fout gemaak deur nie die minister van polisie, Nathi Nhleko se verslag in die hof te betwis dat hy nie geld hoef terug te betaal nie. Volgens Madonsela se verslag moet die president met die hulp van die Tesourie en die polisie bepaal watter gedeelte van die meer as 200 miljoen rand se verbeterings deur hom terugbetaal moet word. Die president voer egter aan dat hy homself van die proses verwyder het, omdat hy nie in sy eie saak die jurie én die regter kan wees nie.

Kommer oor voëlgriep in VSA-hoenders Die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging het sy kommer uitgespreek oor die risiko van voëlgriep wat deur Amerikaanse hoenderinvoere die land kan binnekom. Dit volg nadat ‘n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Amerika onderteken is om die jaarlikse invoer van 65 duisend ton hoendervleis te hervat, sodat Suid-Afrika sy handelsvoordele ingevolge die Wet op Afrika-Groeigeleenthede kan behou. ‘n Woordvoerder van die pluimvee-vereniging, Kevin Lovell sê dit is ook kommerwekkend dat Amerika op sommige voorwaardes aangedring het wat nie deel van die Agoa-ooreenkoms was nie.

Afrikaans behou status by US: Afrikaans behou sy gelyke status saam met Engels by Maties, belowe die universiteit se konvokasie-bestuur, prof. Christo Viljoen.

Rugbynuus:Die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging het die besluit verwelkom van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie om beheer van die Southern Kings vir die Super Rugby-reeks oor te neem. Die Kings sukkel al maande lank met hul finansies en `n paar sleutelspelers het reeds hul tasse gepak omdat hulle nie betaal is nie. Die SARU sê hulle kon nie langer wag vir die Kings om hul geldelike probleme op te los nie. `n Woordvoerder van die rugbyspelersvereniging, Nyaniso Sam, sê hulle verwelkom die besluit aangesien hulle moet sorg dat daar behoorlik na die spelers omgesien word. Die Kings sal nou vir die Super Rugby-reeks kan begin voorberei.

 

Kategorieë