Nuusflits: Zupta-storm vererger


Die storm vererger met sekere faksies in die ANC – onder leiding van Gwede Mantashe – wat die Gupta/Zuma debakel te berde wil bring en ander aanmoedig om soortgelyke vergrype openbaar te maak, terwyl ander faksies (onder leiding van die ANC Vroueliga) die nasionale regeringsprobleem in die ANC-boesem wil toevou en stil intern wil hanteer.

Hier is reaksies ná bevestiging van die onbehoorlike Gupta-invloed:

  • Die DA het ‘n beroep op die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela gedoen om ‘n ondersoek te begin na beweerde magsmisbruik deur President Jacob Zuma. Dit volg nadat ‘n onthulling deur die Adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas vandeesweek verdere gewig verleen het aan bewerings dat die Guptas toegelaat word om kabinetsministers aan te stel. Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê die party het gister sake teen Atul en Ajay Gupta geopen, maar meen dat Madonsela die mees gepaste persoon is om Zuma se aandeel te ondersoek. Hy sê Madonsela moet vasstel of die president die Wet Op Uitvoerende Etiek oortree het deur ‘n belangebotsing te skep en sy amp te gebruik om homself te verryk.
  • Die Ahmed Kathrada-stigting het intussen ‘n oproep vir ‘n deeglike ondersoek na die nuutste Gupta-skandaal gedoen. Dit volg op soortgelyke oproepe deur die Helen Suzman-stigting sowel as van opposisiepartye, dat ‘n regterlike kommissie in die lewe geroep word om beweerde korrupsie aangaande die Gupta-familie te ondersoek. Die Kathrada-stigting het ‘n beroep op ander ampsdraers gedoen om na vore te kom indien hulle ook deur die Guptas genader is. Die bestuurshoof van die stigting, Neeshan Balton sê alle Suid-Afrikaners moet uitpraat teen wat hy noem die toenemende leierskapskrisis in die land. Hy sê die land is dit aan die miljoene verskuldig wat die demokrasie moontlik gemaak het, om dit nie te laat aangaan nie.
  • Die Gupta-broers het vroeër uitgevaar teen wat hulle noem xenofobie en haatspraak wat op hulle gemik word. Hulle het ‘n dubbelblad-verklaring in hul koerant, The New Age gepubliseer waarin hulle ontken dat hulle voordeel trek uit hul bande met President Zuma. Luidens die verklaring het die familie sedert die ekonomiese afswaai die sondebok geword vir elke probleem waarmee die land te kampe het. Hulle sê hulle ken Zuma lank voordat hy president geword het, en sê dit is absurd om aan te voer dat hulle deur hul regeringskontakte bevoordeel word. Volgens die Guptas word slegs een persent van hul sake met die regering gedoen.
  • Die voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola het optrede van die ANC se nasionale uitvoerende raad geëis oor President Jacob Zuma se bande met die Gupta-familie. Die raad vergader die naweek in Irene buite Pretoria. Lamola sê daar moet gevolge wees oor die Guptas se beweerde invloed oor kabinetaanstellings en ander besluite. Lamola het onderneem om more as ‘n besorgde ANC-lid buite die lokaal te betoog. Hy het andere wat belangstel genooi om by hom aan te sluit. Hy sê dit is belangrik vir ANC-lede om te begin om op te staan en te sê dat die sogenaamde kaskenades nie kan voortgaan nie. Lamola meen die uitvoerende raad sleep die afgelope vyf jaar hul voete oor die Gupta-kwessie.
  • Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba het ‘n beroep op die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee gedoen om die waarheid na te jaag. Hy sê ANC-leiers behoort onverskrokke te wees oor die waarheid. Die NUK se vergadering vind die naweek by Irene suid van Pretoria plaas. Na verwagting sal die beweerde onbehoorlike invloed van die Gupta-familie op staatsake indringende aandag geniet.
  • Nog krake het in die ANC na vore gekom oor die Gupta-sage nadat die ANC Vroueliga die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe gekritiseer het oor sy hantering van die saak. Die liga sê hulle keur ANC amptenare se gebruik af om die media te gebruik om die beweerde Gupta-aanbiedings te bespreek. Dit volg nadat die adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas bekendgemaak dat die Gupta-familie hom na bewering ‘n pos as minister van finansies aangebied het. Die sekretaris-generaal van die liga, Meokgo Matuba, sê die erns van die aantygings kan die integriteit van die ANC en toekomstige ontplooiings bedreig. Sy sê Mantashe se oproep dat mense na vore kom wat posisies deur die Gupta’s aangebied is, is nie in pas met organisatoriese disspline nie.
  • Intussen gaan die ANC die “korporatiewe kaping van die staat” by sy Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering bespreek wat vandag naby Pretoria begin. Die vergadering sal na verwagting heftig wees weens verskillende sienings oor die Gupta-familie se invloed op die party en die staat. Die afgelope dae het verskeie onthullings aan die lig gekom oor die aanbieding van kabinetsposte aan ANC-lede, en druk wat op ministers geplaas is om sleutelbesluite tot die Gupta-familie se voordeel te neem.
  • Die minister van handel en nywerheid, Rob Davies het berigte afgemaak dat ‘n kabinetskommeling op hande is om hom uit sy pos te verwyder. Davies sê ministers word deur die president aangestel en slegs hy kan ministers aanstel of afdank. Die SAKP het vroeër beweer dat Davies deur ‘n ANC LP vervang gaan word wat onlangs as parlementslid ingesweer is. Die SAKP beweer dat so ‘n kabinetskommeling verband hou met die Gupta-familie se belange om ‘n aandeel in ArcelorMittal te bekom. Dit volg ook nadat die adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas onthul het dat die Guptas hom die pos as minister van finansies aangebied het. Davies het Jonas as ‘n man van eerlikheid en integriteit bestempel.
  • Suid-Afrikaanse banke het ‘n beroep op die regering gedoen om buitestaanders te verhinder om by die Nasionale Tesourie in te meng. Die Suid-Afrikaanse Bankvereniging het gereageer op bewerings dat die Gupta-familie president Jacob Zuma beïnvloed in die aanstelling van ministers. Zuma het die aantygings ontken. Die hoof van die vereniging, Cas Coovadia sê die regering moet sy sake in orde kry nadat finansiële markte geskud is oor bewerings dat die Gupta’s verantwoordelik was vir die afanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene in Desember.
  • Die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene wou nie kommentaar lewer op bewerings dat die Gupta-familie betrokke was by sy afdanking nie. Hy het gereageer op die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas se bewerings dat hy Nene se pos aangebied is op voorwaarde dat hy die kernkrag-ooreenkoms bevorder. Jonas het skokgolwe deur die land gestuur met die bewerings dat dit rede kon wees hoekom Nene in Desember afgedank is.
  • Die voormalige staatspresident, F.W. de Klerk sê Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie word deur ‘n ernstige krisis in die gesig gestaar met president Jacob Zuma en sy ondersteuners wat hulle persoonlike belange bevorder. De Klerk sê die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies in Desember en die voortslepende vendetta teen die minister van finansies, Pravin Gordhan beweeg die land al hoe nader aan wat hy noem ‘n katastrofiese kredietafgradering. Hy het gereageer op bewerings van korrupsie en onbehoorlike invloed deur die Gupta-familie by politieke aanstellings.
  • Die veteraan ANC-aktivis, Dennis Goldberg het weereens sy oproep herhaal dat die leierskorps van die ANC verander word. Hy het die oorhandiging van die digitale oudio-leêrs van die Rivonia verhoor in Pretoria bygewoon. Goldberg sê die ANC word deur ernstige leierskaprobleme in die gesig gestaar en dat dit moeilik sal wees om die party te herbou met die huidige leiers in beheer. Hy het ‘n beroep op president Jacob Zuma gedoen om wat hy noem die verwoestende korrupsie en kaderskap in die party te beëindig.

Adjunk-minister Jonas

NUUSFLITS: Die adjunk- minister van finansies, Mcebisi Jonas, het aan die SAUK bevestig dat die Gupta-familie hom die pos as finansminister in Nhlanhla Nene se plek aangebied het. Hy het dit van die hand gewys omdat dit volgens hom ‘n bespotting van die demokrasie maak.

Só het Adjunk-minister Mcebisi Jonas sy verklaring aan die media gelewer:

Ekonome sê intussen die bevestiging deur die Adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas dat hy die pos van Minister van Finansies deur die Guptas aangebied is, het beleggersvertroue nog ‘n knou toegedien. Dit kom op ‘n tydstip waar die kredietgraderingsagentskap Moody’s die land aandoen om sy gradering te hersien. ‘n Ekonoom van Lehumo Capital, Maudi Lentsoane sê indien hy ‘n buitelandse belegger was, sou hy beslis twee keer dink voordat hy in Suid-Afrika belê. Hy sê die verwikkelinge rakende die Ministerie van Finansies is besig om lagwekkend te raak. Benewens Jonas se verklaring, het hy ook die Valke se ondersoek na die Minister van Finansies, Pravin Gordhan as voorbeeld genoem.

Die Sunday Times het eerste berig dat Jonas die pos aangebied is op voorwaarde dat hy die weg baan vir die kernkragooreenkoms. Jonas sê hy het vroeër gehuiwer om die inligting bekend te maak, maar dat dit nie langer moontlik is om stil te bly nie.

Die ANC het voor Jonas se bevestiging sy kommer uitgespreek oor die hoë voorkoms van bewerings oor die Gupta-familie se betrokkenheid by regeringsake. Die party gaan die naweek die familie se beweerde invloed bespreek wanneer sy Nasionale Uitvoerende Komitee vergader. Die familie word tot dusver met vyf voorvalle verbind waar kabinetsposte aan senior ANC-lede aangebied is. Die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa sê die party beskou die bewerings in ‘n ernstige lig. Hy sê die kwessie is besig om die party se gesag weg te kalwe. Kodwa sê die komitee wil die naweek werk daarvan maak om die land die versekering te gee dat die party beheer oor interne besluite het.

Opposisiepartye het skerp gereageer op Adjunkminister Jonas se onthulling. Die DA se woordvoerder oor finansies, David Maynier sê hy gaan ‘n saak van korrupsie open. Hy sê die saak raak aan die kern van korrupsie in Suid-Afrika. Die leier van COPE, Mosiuoa Lekota sê ook sy party sal die polisie vra om die saak te ondersoek. Lekota meen President Zuma is nie geskik om in sy amp aan te bly nie.

Die Vryheidsfront-plus wil hê dat ‘n geregtelike ondersoek gedoen word na President Zuma se verhouding met die Gupta-familie. Die leier van die Vf-plus, Pieter Mulder sê Jonas se bevestiging spreek boekdele.

Pres Jacob Zuma en Atul Gupta

Pres Jacob Zuma en Atul Gupta

Die Gupta-familie het die Adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas uitgedaag om in die hof volledig rekenskap te gee van sy beweerde vergadering met hulle. Die familie beskuldig Jonas daarvan dat sy verklaring bloot vir politieke gewin vir ‘n sekere faksie binne die ANC bedoel is. Hul verklaring lui dat dit heeltemal onwaar is dat die Guptas of enige van hul verteenwoordigers al ooit ‘n regeringspos vir iemand aangebied het. Die familie het ook die bewerings deur die veteraan ANC-parlementslid, Vytjie Mentor verwerp dat sy die amp van minister van openbare werke aangebied is.

Só berig die Daily Maverick oor dié onthullings.

Lees hoe City Press berig hoe die Guptas vir Jonas gesê het ‘die ou man wil jou Minister van Finansies maak’, ‘werk saam met ons’ en as hy sekere mense afdank, sal hulle hom ryk maak. Hy vertel ook hoe Pres Zuma se seun, Duduzane, die ontmoeting met die Guptas gereël het.

Fytjie Mentor staan vas oor  Gupta-inmenging

Fytjie Mentor

Fytjie Mentor

Die ANC-veteraan Fytjie Mentor sê sy staan by haar verklaring dat die Guptas haar ‘n ministerspos aangebied het. Mentor het gister ‘n knuppel in die hoenderhok gegooi met haar onthulling op Facebook. Sy het vandag op dié sosiale netwerk gesê die waarheid sal seëvier. Sy sê sy het die Guptas se aanbod van die hand gewys aangesien daar voorwaardes aan verbonde was. Die presidensie het in reaksie twee verklarings uitgereik waarin president Jacob Zuma ontken dat hy Mentor ken, en om dié rede nie kan kommentaar lewer op die onthullings nie.

Mentor het skerp gereageer op verklarings deur die Presidensie dat president Jacob Zuma haar nie kan onthou nie. Sy het op die sosiale netwerk Facebook die talle kere gelys waar sy kontak gehad het met Zuma. Sy sê sy ken Zuma sedert sy terugkeer uit ballingskap. Hy het volgens Mentor self aan haar gesê dat die ANC se ses topleiers besluit het om haar te ontplooi as voorsitter van die ANC koukus. Sy het verdere besonderhede verskaf oor verskeie weeklikse en tweemaandelikse vergaderings waar Zuma met haar saamgewerk het. Mentor het gedreig dat sy verdere onthullings sal maak oor die Guptas. Sy sê sy sal Vrydag regstreeks met die media praat. Die president het vroeër in ‘n verklaring ontken dat hy Mentor ken.

 

Kategorieë