Staatskapingverslag: Die jongste nuus

Staatskapingverslag: Die jongste nuus


Die jongste nuus na aanleiding van die staatskapingsverslag

  • Die Gupta-beheerde Tegeta-steenkoolmaatskappy het Eskom ingelig dat hy van voorneme is om die verskaffing van steenkool aan die kragvoorsiener te staak. Eskom sê Tegeta het nie redes vir die stap verskaf nie. Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping het bevind dat die ooreenkomste tussen Eskom en Tegeta hoogs onreëlmatig is. Eskom het vroeër gesê sy ooreenkoms met Tegeta het die land drie miljard rand gespaar en beurtkrag voorkom. Eskom se bestuurshoof, Brian Molefe het by ‘n mediakonferensie gesê die kragvoorsiener moes ‘n vooruit-betaling van 600 miljoen rand maak om te verseker dat Tegeta die nodige steenkool kan verskaf.
  • Die president van die Kamer van Mynwese, Mike Teke, sê hulle wil dringend met president Jacob Zuma en die ANC praat oor die skade wat die bewerings in die staatskapingsverslag aan die internasionale beeld van Suid-Afrika se mynbedryf aangerig het. Teke sê die kamer verwelkom die verslag en die voorgestelde regterlike kommissie van ondersoek na bewerings van die onbehoorlike gebruik van staatsbates vir laakbare redes. Hy sê die Kamer van Mynwese het al herhaaldelik sy kommer uitgespreek oor die stand van die regering en veral oor onbehoorlike optrede in die departement van mynwese.
  • Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, sê hy wil nie betrek word by wat hy noem die inklusiewe staatskapingsverslag nie. Zwane word by die voormalige Openbare Beskermer se verslag betrek omdat hy glo betrokke was by die verkoop van ‘n Gupta-beheerde mynmaatskappy, Tageta. Zwane sê egter indien dit daarop neerkom, sal hy die inhoud van die verslag in die hof betwis.
  • Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het vir die stigting van ‘n Waarheids-en-Versoeningskommissie oor korrupsie gevra. Die SARK wat ‘n onafhanklike ondersoek na staatskaping gedoen het, sê hy is geskok deur die vlakke van korrupsie. Die SARK sê minstens 30 mense het inligting verskaf met betrekking tot staatskaping. Die raad vra dat ‘n WVK oor korrupsie sake tot so ver as die 1990’s ondersoek.
  • Die burgerregteorganisasie Afriforum sê die verslag oor staatskaping is prima facie bewys dat president Jazob Zuma, sommige kabinetsministers en verskeie ander hoë-profiel mense onwettig kon opgetree het. Die organisasie het vanoggend op grond van die verslag aanklagte van bedrog by die Moot-polisiestasie in Pretoria ingedien teen Zuma, die Eskom-raad, die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, en Ajay Gupta.
  • Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het toegegee dat korrupsie die hoofoorsaak van Suid-Afrika se swak ekonomiese toestande is. Hy het by ‘n ekonomiese beraad in Polokwane in Limpopo gesê die regering en sakelui moet saamwerk om korrupsie te beveg. Ramaphosa sê ‘n vennootskap tussen die twee is nodig om ekonomiese ontwikkeling te bevorder.
  • Senior ANC-amptenare sê die kans dat ‘n mosie van wantroue in president Jacob Zuma sal slaag, is onwaarskynlik. President Zuma sal volgende week in die parlement voor dié mosie van die DA te staan kom. Senior lede het aan die Reuters-nuusagentskap gesê ANC-lede sal nie maklik die party teëgaan nie. Die DA se mosie volg na die vrystelling van die voormalige openbare beskermer se verslag oor staatskaping. Zuma het vanjaar reeds twee mosies van wantroue afgeweer.
  • Die ANC-Jeugliga in KwaZulu-Natal sê niemand binne of buite die ANC, kan president Zuma ontsetel nie. Die jeugliga se reaksie volg ná verskeie oproepe vir Zuma om te bedank. Die provinsiale sekretaris, Thanduxolo Sabelo sê nie eers die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping kan Zuma se politieke loopbaan kortknip nie. Hy sê kritici vergeet dat die president die reg het om die OB se verslag in die hof te betwis.

2 en 3 November 2016
Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa sê die party beskou die aantygings in die verslag in `n ernstige lig, omdat dit mense se vertroue in hul eie organisasie ondermyn.

Hy sê dit is ook ‘n direkte aanval op die waardes en beginsels van die demokrasie en ‘n demokratiese staat.

Die lywige verslag betrek onder meer Jacob Zuma, sy seun Duduzane, en die ministers Des Van Rooyen, Mosebenzi Zwane en Lynne Brown, asook Brian Molefe van Eskom.

Luister hier na die bespreking op Praat Saam op 3 November oor die politieke implikasies van die verslag.

Die verslag is bekendgestel nadat die Pretoriase Hooggeregshof beslis het dat dit moet gedoen word. President Jacob Zuma moet ook persoonlik die regskoste van die OB betaal.

Hier is die skakel na die verslag: 329756252-state-of-capture-14-october-2016

Die verslag noem `n verskeidenheid kwessies wat kommer wek:

  • Inligting word verskaf hoe die Gupta-familie die aanstelling van raadslede by staatsbeheerde instellings soos Eskom, Denel, SAL en Transnet kon beïnvloed het.
  • Die familie kon ook verlede jaar `n rol gespeel het by die aanstelling van Van Rooyen en Zwane as ministers. Madonsela se bevinding dui daarop dat President Zuma waarskynlik die etiese kode kon oortree het.
  • Na talle ontkennings dat President Jacob Zuma se seun, Duduzane op onbehoorlike wyse die adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas genader het oor die ministerspos van Nhlanhla Nene het die Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping bewyse daarvoor verskaf. Dit het duidelik geword op grond van teksboodskappe tussen die twee. Die verslag bevat ook bewyse van telefoonoproepe van beide, Jonas en Duduzane Zuma. Die inligting is deur `n hofbevel bekom.
  • Lede van die Gupta-familie en president Jacob Zuma se seun, Duduzane, het verskeie groot kontrakte met Eskom beding vir die steenkool-mynmaatskappy, Tegeta. In die verslag word genoem dat daar meganismes moes gewees het om die botsende belange te hanteer.
  • Die kragvoorsiener, Eskom word direk betrek in die verslag oor staatskaping. Die verslag bevind dat Eskom na bewering onreëlmatige kontrakte aangegaan het met maatskappye wat bande met die Guptas het, onder meer die kontrakte met Tegeta en die Optimum-myn.
  • Die verslag dui ook daarop dat Eskom se raad blykbaar nie volgens die regte prosedure en ook nie in die gees van die King Drie-verslag aangestel is nie. Volgens Madonsela het die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, blykbaar ook nie ingegryp om botsende belange te verhoed
  • In nog onthullings in die verslag het Eskom nie in die beste belang van die land opgetree nie. Madonsela het bevind dat die raad nie op die korrekte wyse aangestel is nie en ook nie voldoen aan die beginsels van goeie korporatiewe bestuur nie. Volgens die verslag was daar botsende belange nadat die Eskom-raad aangestel is.
  • Die Minister van Openbare Ondernemings, Lynne Browne, het volgens die staatskapingverslag, die raad van die wapenvervaardiger, Denel ontbind wat die weg gebaan het vir `n gesamentlike onderneming met `n Gupta-beheerde maatskappy. Denel het in Oktober die gesamentlike onderneming met VR Laser aangekondig, genaamd Denel Asia. Die nuwe maatskappy sou markte vir Denel se produkte vind.
  • Madonsela sê Atul Gupta het erken dat hy en die bestuurshoof van Eskom, Brian Molefe, baie goeie vriende is en dat Molefe gereeld sy huis in Saxonwold in Johannesburg besoek het. Volgens die verslag het die bestuurhoof van Eskom, Brian Molefe tussen 2 Augustus 2015 en 22 Maar 2016 `n totaal van 44 oproepe aan Ajay Gupta gemaak, terwyl Gupta hom 14 keer gebel het. Molefe was blykbaar ook ook verskei kere in die omgewing van die Guptas se huis in Saxonwold en die verslag bevind dat `n hegte vriendskap tussen hom en die Guptas bestaan.
  • Betalings in die Tegeta-ooreenkoms wat deur die Bank van Baroda hanteer is, het blykbaar ook nie aan voorskrifte van die wet voldoen nie.
  • Des van Rooyen was sewe keer by die Guptas voor sy aanstelling as Minister van Finansies.
  • Zwane het na Switserland gevlieg om met Optimum te onderhandel oor die verkoop van sy steenkoolmyne en het die Guptas onregmatig bevoordeel.
  • Zuma het niks gedoen om die aantygings van Gupta-betrokkendheid by die aanstellings van Jonas en Vytjie Mentoor te ondersoek nie.

Hier is enkele aanbevelings uit die verslag

  • Die vorige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het in haar verslag aanbeveel dat President Jacob Zuma `n geregtelik kommissie aanstel om korrupsie te ondersoek. Die verslag beveel aan dat President Jacob Zuma binne 30 dae `n geregtelike kommissie moet aanstel om korrupsie en staatskaping te ondersoek. Thuli Madonsela beveel aan dat Hoofregter Mogoeng Mogoeng die regter moet aanstel wat die kommisssie van ondersoek lei, en dat Tesourie voldoende geld beskikbaar stel om die ondersoek behoorlik te doen.
  • Die verslag beveel aan dat die kommissie se bevindinge binne ses maande aan Zuma oorhandig moet word. Die Tesourie moet ook genoegsame fondse vir die kommissie beskikbaar stel.
  • Sy het ook aangedui dat die Nasionale Vervolgingsgesag mense moet ondersoek wat betrokke is by strafregtelike optredes.
  • Die verslag het ook sy kommer uitgespreek dat Minister Des van Rooyen sewe keer in die Guptas se huis in Saxonwold was, insluitend op die dag toe hy in Desember 2015 as die nuwe minister van finansies aangewys is.

Die EFF sê hy oorweeg ‘n mosie om president Jacob Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas ná vanmiddag se bekendmaking van die Openbare Beskermer se staatskapingsverslag. Die OB se kantoor het die verslag ingevolge ‘n Hooggeregshofuitspraak op sy webwerf geplaas. Die EFF-leier, Julius Malema, sê hulle gaan moontlik die mosie in die parlement aanvra omdat Suid-Afrika soos hy dit noem ‘n “skoon” president benodig.

Cope sê die verslag oor staatskaping is `n bewys van die party se standpunt oor korrupsie tussen die regering en die Gupta-familie. `n Woordvoerder van Cope, Dennis Bloem sê hulle weet dit al lank en nou is dit bewys. Hy sê dit is die rede waar Zuma en Des van Rooyen wou keer dat die verslag bekendgemaak word.

Verdere aspekte uit die verslag

  1. Brian Molefe van Eskom was 60 keer binne 5 maande in telefoniese kontak met die Guptas en het hulle talle kere besoek.
    screen-shot-2016-11-02-at-5-46-48-pm
    screen-shot-2016-11-02-at-5-47-22-pm
    screen-shot-2016-11-02-at-5-47-05-pm
  2. Diegene is geïmpliseer in die verslag:

Diegene wat geïmpliseer word in die verslag

3. Die Eskom-raad was deurspek met lede met ‘n belang by een of ander Gupta-onderneming. Lynne Brown het niks gedoen om dit reg te stel nie. Hier is ‘n uittreksel:

screen-shot-2016-11-02-at-5-54-54-pm

screen-shot-2016-11-02-at-5-55-02-pm

screen-shot-2016-11-02-at-5-55-13-pm
4. Die volgende ondernemings het regstreeks ‘n rol gespeel in die Guptas se oorname via Tegeta van die steenkoolmyne by Hendrina.

screen-shot-2016-11-02-at-6-00-55-pm

5. Oor die optrede van die Bank of Baroda, is daar talle verwysings in die verslag oor sy betrokkendheid by transaksies tussen Eskom en Tegeta van die Guptas:

screen-shot-2016-11-02-at-5-59-34-pm

6. Die vreemde transaksies tussen die Bank of Baroda, Eskom en Tegeta:

screen-shot-2016-11-02-at-5-58-08-pm

Die Demokratiese Alliansie sê die beslissing van die Pretoriase Hooggeregshof dat die verslag oor staatskaping bekendgestel moet word, is `n oorwinning vir die land. Die party se leier, Mmusi Maimane sê dit help om President Jacob Zuma verantwoordbaar te maak vir sy handelinge.

Die leier van die EFF, Julius Malema het aan `n groot groep ondersteuners gesê dat Zuma nie die gevolge van sy verhouding met die Guptas kan ontduik nie. Die Right to Know Campaign sê die uitspraak is `n oorwinning vir vryheid van spraak.

#  #  #  #

Die uitvoerende hoof van die Openbare Beskermer se kantoor, advokaat Louisa Zondo, het bedank. Dit volg te midde van die hofsaak oor staatskapingsverslag. Die woordvoerder van die OB se kantoor, Kgalalelo Masibi, sê Zondo het om persoonlike redes bedank.

Kategorieë