Nou ja toe!


Bongumusa Makhatini

Nou ja toe, daar het ons toe weer ‘n nuwe SAUK-raad; dus, tyd vir ‘n nuwe begin en nuwe hoop. Die Raad het hierdie week die SAUK-hoofkantoor hier in Auckland Park besoek en ek kon met van hulle kennis maak en ‘n bietjie gesels en glo my, ek het my sê gesê namens julle.

My indrukke van die nuwe raad vra jy? Baie beïndruk. Ek is opgewonde dat daar ‘n slag ‘n jong, energieke en welsprekende voorsitter is. Dit is Bongumusa Makhatini en hy het ‘n baie sterk sake-agtergrond. Hy sal die SAUK uit die geldelike woestyn moet lei.

Johann Pieterse

As ek kon, sou ek al vir RSG se stasie-regisseur Johann Pieterse ‘n salaris wou gee wat selfs die van Hlaudi verbysteek. Dit is oor sy geduld en toewyding om dag na dag die klagtes oor senderprobleme aan te hoor en te probeer oplos. RSG se uitsendings word al baie lank geteister deur onderbrekings, inmenging van ander senders en dooie lug. Dit geld ook vir die ander radiostasies. Sentech is die diensverskaffer van seinverspreiding en staan onafhanklik van die SAUK. Ons is van hulle afhanklik, maar dit is ‘n uitdaging om die probleem opgelos te kry. Na my mening is baie van die senderstasies en –toerusrusting verouderd en kort dit gereelde instandhouding en opgradering. Dit sal ook baie help as luisteraars hulle klagtes oor hierdie seinprobleme op e-pos kan instuur na johann@rsg.co.za, sodat dit ons saak kan versterk. Dit is tans ‘n groot frustrasie vir julle, weet ek, en vir my ook.

80 Jaar van Afrikaanse radio..wat ‘n mylpaal vir die radiostasie wat as die B-stasie begin het, nogal! Dankie vir elkeen van julle se bydrae iewers deur die afgelope 80 jaar. Tot vandag toe het die Afrikaanse radio (tans RSG) een van die hoogste lojaliteits-metings. Dit beteken die meerderheid RSG-luisteraars, jonk en oud, verkies om net na RSG te luister en skakel nie weg na ander radiostasies nie.

Daar lê ‘n mooi toekoms voor vir Afrikaanse radio en intussen is hierdie hoender my inspirasie hier in my kantoor teen die kasdeur…..geplunder, maar steeds kop omhoog vorentoe!

Groete uit Aucklandpark

Magdaleen en die RSG-span