Nuusbrief 14 Sept: Magdaleen sê


Een van die groot suksesverhale is RSG se Vat 5 CDs wat oor die jare verskyn het. Ons trek nou al by volume 7 met van die Brekfis met Derrich se Vat 5-deelnemers  se gunsteling musiek. Derrich het ‘n kolskoot getref met hierdie konsep vir RSG.

Goeie nuus is dat Derrich die einde van hierdie maand en dan een keer ‘n maand tot Desember by ‘n winkelsentrum sal wees om jou CD te teken. Hy belowe hy sal ook ja sê as jy ‘n selfie saam met hom wil neem en jy mag dalk ‘n gelukkige ontvanger wees van iets van RSG af. Hy sal op elk van die datums hieronder net ná Brekfis met Derrich op die Saterdag na die betrokke sentrums vertrek om daar te wees van 12:00 13:00.

  • 29 September- Menlyn Mall, Pretoria
  • 27 October – Vaal Mall, Vanderbijlpark
  • 24 November – Clearwater Mall, Roodepoort
  • 15 December – Cresta Mall, Randburg

Opskietprogramme

RSG hoop om nog voor die einde van die jaar ‘n paar opskiet-programme, insetsels of gesprekke op potgooi uit te saai. Dit sal nie dieselfde programme of inhoud wees wat op lug uitgesaai word nie. Hou jou ore maar op RSG, want ons sal dit altyd daar reklameer.

Jody Hendricks doen reeds op ‘n Maandagaand ‘n kort RSG Sport-potgooi. Gaan na rsg.co.za/potgooi en dan na RSG Sport. Jy sal dit hier vind. Lees meer.

Frieda van den Heever

Welkom Frieda

Jy weet al dat Margot Luyt nou klaargemaak het met haar programme Vers & Klank en Kortom op RSG op Dinsdagaande.

Die nuwe samesteller en aanbieder is Frieda van den Heever, nie onbekend aan julle wat na RSG se dramas, vervolgverhale en voorlesings luister nie. Haar eerste Vers & Klank word op Dinsdag 25 September uitgesaai en toe ek haar hierdie week vra waaroor gaan die eerste Vers & Klank, toe sê sy net “dis ‘n verrassing, bly ingeskakel”!

Luister ook: Frieda lees verse, wat in haar studentejare ‘n invloed op haar liefde vir verse gehad het.

RSG Troeteldiere

Die artikels en foto’s van ons RSG-personeel en hulle troeteldiere het heelwat ‘ag shames’, ‘kyk hoe cute’, ‘dierbaar’ en ‘ag moederkies’ uitgelok by die nuusbrieflesers. Daarom gaan ons voort om nog troeteldiere en hulle mense ma’s en pa’s aan jou te wys.