Nuusbrief 2 Nov: Magdaleen skryf


Magdaleen Kruger, RSG se stasiebestuurder skryf:

“Amore Bekker, van Tjailatyd-faam, het eendag hier by my kantoor ingewaai, ‘n plakker op die  rekenaarskerm hier voor my geplak en uitgestap. ‘Ons is gemaak vir hierdie tye’, staan op die plakker. Inderdaad; ons is gemaak vir hierdie tye… in ons land en by ons werkplek. Ons takel alle  uitdagings.

RSG het die eerste en tweede kwartale van die huidige finansiële jaar ons inkomste-teiken oortref en reeds ook die teiken vir Oktober, die eerste maand van die derde kwartaal, gehaal. Dankie aan ons kliënte wat steeds in die ekonomiese krag van RSG glo… 35% van die land se koopkrag kom immers van die Afrikaanse mark.

Van geld geskryf: Uitsaairegte van rugbytoetse is deesdae bitter baie duur. RSG kan dus nie altyd regstreekse kommentaar oor rugbywedstryde doen nie, veral nie wanneer die Springbokke in die buiteland speel nie. So, ons gaan nie die Springbokke se Europese toer later vanjaar regstreeks uitsaai nie, maar die goeie nuus is dat die SAUK wel die uitsaairegte verkry het vir die splinternuwe  langverwagte Mzansi Super Liga krieketreeks – kortweg MSL. Dit is ‘n T20-reeks soortgelyk aan Indië se Premier Liga. Die eerste wedstryd is 16 November.

Luisteraars doen deesdae navraag oor ‘n RSG Kerskonsert-opname, soos in die verlede, maar daar gaan nie vanjaar een wees nie.  Ook nie ‘n oujaarskonsert-opname nie. Maar Terrance, RSG se programbestuurder, en kollegas is reeds besig om ‘n goeie kersdag-programskedule op te stel. Maar nog vóór Kersfees is daar ook die RSG Skatkis-konsert-uitsendings van 12 tot 14 November.

(Dis ook Jakaranda-tyd en Johannesburg en Pretoria is getooi in pers. ‘n Mens kan nie anders as om goed te voel ten aanskoue van dié persprag nie!. Ons het enkele foto’s bymekaar gesit).

Groete uit Aucklandpark

Magdaleen en die RSG-span”