Ouers wat wil help met die leerdery


Dis weer eksamentyd en (ons raai) spanning loop hoog en baie ouers wil hul kinders help. Dis als goed en mooi, maar daar is een vak waar jy versigtig moet wees en dit is die gevreesde wiskunde. Onlangse navorsing wys dat ‘n kind se prestasie in dié berugte vak gekoppel is aan die ouer se ervaring daarvan. As die ma of pa angstig is oor wiskunde, kan hulle hul houding aan die kind oordra wanneer hulle wil help. En, volgens navorsers, vaar daardie kinders oor die algemeen swakker as hulle eweknië.

As dit eksamentyd is, word angstigheid rondom skoolwerk nog erger. Studietegnieke kan ‘n kind se akademiese loopbaan maak of breek. Pleks van tradisionele tegnieke soos onderstreep en opsommings maak, stel kenners voor leerders toets hulself deurentyd. Klik hier vir uitstekende studiewenke.

E-onderrig raak al hoe gewilder en gelukkig is daar uitstekende gratis hulpbronne op die internet. Soos almal sê, ‘Google dit’. Dit vat bietjie werk om die kaf van die koring te skei as dit kom by die kwaliteit van die webtuistes wat Google uitspoeg. Maar gaan kyk bietjie na www.khanacademy.com, ‘n aanlyn-klaskamer waar ‘n groot verskeidenheid leerareas gedek word, o.a. wiskunde, rekeningkunde, en geskiedenis. Die webtuiste is maklik om te gebruik en die studiemateriaal is van hoë gehalte. Dié webtuiste kry volpunte, staan eerste, en kan ook gebruik word deur onderwysers.