Ontmoet tennisster Raven Klaasen se ouers


Raven Klaasen op die tennisbaan

Suid-Afrika se tennisster, Raven Klaasen, se trotse ouers – Japie en Yvonne Klaasen – het vanoggend in die ateljee by Oggend op RSG gekuier.

Raven Klaasen is een van die wêreld se beste dubbelspelspelers. Hy en sy dubbelspelmaat het pas in die eindronde op Wimbledon in die mans dubbelspel gespeel.

Japie en Yvonne het albei baie goed tennis gespeel en het inderwaarheid op die tennisbaan ontmoet. Japie speel steeds tennis.

Hulle vertel vir Johan Rademan en Martelize Brink by Oggend op RSG hoe die tennisgene in die familie loop.

Japie en Yvonne Klaasen

Raven het inderdaad met ‘n tennisraket in die hand grootgeword; met beide Japie en Yvonne wat klubtennis gespeel het in Bellville Suid, kon dit byna nie ander nie.

Dit was Yvonne wat baie tyd op die tennisbaan met die klein Raven deurgebring het, maar ook sy pa het gereeld met hom gespeel. Hulle kon van kleinsaf sien hy is baie balvaardig en het tennis-talent. Ook sy broer en suster is goeie tennisspelers, maar nie so passievol oor die spel soos Raven nie.

Raven speel goeie dubbels omdat hy baie vinnig en akkuraat is, en nie soseer ‘n harde afslaan het en  harde kanon-houe slaan soos die enkelspel-spelers nie, vertel sy ma.

En nou sal hulle klein Carter, Raven se seuntjie, dophou om te sien of hy ook die tennisgene geërf het.

Japie Klaasen is baie trots op sy seun, Raven Klaasen.

Japie Klaasen speel self nog ‘n barshou tennis. Hier staan HG Schun (Eden) links by Japie Klaasen (Boland), die trotse vader van die ATP-speler Raven Klaasen.

Raven Klaasen is in 2014 getroud. Hier is hy en Celeste Jae op hul troudag. (Foto: Danieka Erasmus van Picturist Wedding Photography).

Raven hou sy seun Carter vas, met tennislegende Billie-Jean King by hulle. Die foto is by Wimbledon 2018 geneem. Foto: Cheryl Roberts

Raven Klaasen in aksie

RAVEN KLAASEN en RAJEEV RAM met die beker nadat hulle die INDIAN WELLS mans dubbels titel gewen het.

Raven Klaasen en Michael Venus op Wimbledon vanjaar.