Louis Ferreira luister graag na Vat 5!


Een van Derrich se grootste aanhangers het laat weet dat hy nie kan wag vir ‘n Saterdagoggend nie, sodat hy na Vat 5 op Brekfis met Derrich kan luister! Hy is ook gaande oor Dis Opera op ‘n Sondagaand.

Louis Ferreira met sy RSG T-hemp

Louis Ferreira met sy RSG T-hemp

Net daar besluit RSG dat ons iets vir Louis Ferreira gaan stuur! Louis is in 1967 met Down Sindroom gebore en is sedert hy 18 jaar oud is, ‘n inwoner van Vrystaat Nasorgsentrum in Rayton, Bloemfontein. Volgens Louis se onderwyseres en terapeut, Marina van Wyk, is hy ‘n stil en aangename mens. Louis geniet dit baie om skuurwerk te doen, waar die inwoners dan ook houtspeelgoed maak wat verkoop word ten bate van die nasorgsentrum.

Louis hou elke Vrydagmiddag sy hand met die 5 vingers omhoog en sê “Vat 5” met ‘n breë glimglag. Hy skakel getrou elke Saterdagoggend in om dan na Brekfis met Derrich te luister en sluit sy naweek af deur na Dis Opera op ‘n Sondagaand te luister.

Vrystaat Nasorgsentrum bied sorg en werksessies vir verstandelik gestremde volwassenes in die Vrystaat, wat nie in ‘n gewone werksomgewing kan funksioneer nie en voortdurende sorg nodig het. Daar is vyf huismoeders, wat na die fisiese en verstandelike behoeftes van 156 gestremde volwassenes omsien en verskeie aktiwiteite vir hulle aanbied. Daar is ook 5 verskillende werksessies wat die inwoners toelaat om betrokke te raak by aktiwiteite waarin hulle belangstel en in staat is om uit te voer – van bak, houtwerk/speelgoed, tekstiel, kleipotte en drukwerk. Besoek gerus www.nasorgsentrum.org of skakel 051-436-6034/5 of 051-436-5878 vir meer inligting oor die Sentrum.

 

Foto byskrif: Louis Ferreira is ‘n getroue RSG- luisteraar en spog met sy RSG T-hemp en RSG- hoed