Beleef die ‘maandlandskap’ van Walvisbaai en Swakopmund


Terrance April was onlangs die gas van Air Namibië vir ‘n kort kuier op Walvisbaai en Swakopmund. Hy was nogal verbaas oor al die aktiwiteite wat daar is vir die toeris/vakansieganger. Hy vertel self…

Luister Saterdagoggend na Reis Sonder Grense vir dié interessante insetsel. Luister sommer hier deel 1 van Terrance se bydrae oor sy besoek:

Talle somers gelede het ek ons noordwestelike buurland, Namibië besoek. Tydens daardie kuiertjie het ek langs die ruggraat van die prentjiemooi land op gereis. My indrukke was destyds reeds een van “oopmond-aangaap”.

Maar my onlangse blitsbesoek aan die kusstreek by Walvisbaai en Swakopmund het verder bygedra om die mooi van die land en sy mense in te kleur. Jy kan niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Elke stukkie van die natuur en kultuur in daardie geweste maak sin en dit sluit so sonder moeite by mekaar aan.

Met hanekraai is alles mistig en sak jou moed in jou skoene en die vooruitsigte vir ‘n rit op die duine, is ‘n skimmebeeld iewers op n horison. Maar die mense van daardie wêreld kyk jou maar onderlangs aan met ‘n ondeunde glimlaggie om die mondhoeke en voor jy ‘mes’ kan sê, is jy in ‘n sonskynlandskap wat ontvou en oopmaak vir diegene met ‘n skerp oog vir detail en geduld vir die natuur.

Jy kan op die duine net buite die twee groot dorpe gaan ry en asemrowende natuurtonele van daar af sien, en ‘n maanlig aandete in die dolemiet-koppe sal die dag perfek afrond. Hulle noem dit hoeka “maanlandskap”. G’n wonder dat die vervaardigers van die jongste Mad Max flieks die gebied gekies het as agtergrond vir van hulle onaardse tonele nie. Die bergagtige dele lyk angswekkend, met die skadus wat oorskuif van sonsondergang tot diep in die nag.

Dit is ook voëlwêreld dié. ‘n Rit op n katamaran mag dalk alledaags klink, maar as ‘n pelikaan sy sit kom kry iewers op die dek, en ‘n uitgegroeide rob kom kyk nuuskierig wat aangaan op die boot, moet jy weet dat jy in geselskap is wat nie maklik oortref sal kan word nie. En ‘n skool robbe laat ook nie op hulle wag nie!

‘n Spesiale toegif: ‘n pelikaan vaar saam op die katamaran.

‘n Spesiale toegif: ‘n pelikaan vaar saam op die katamaran by Walvisbaai.

Die mense van die Walvisbaai en Swakopmund gebied is trotse mense wat graag oor hul gebied spog. Hulle is ook baie bewus van die rol wat die natuur in hulle lewe speel. Almal help om ‘n loswaaiende papertjie of twee op te tel, die duine-ry reëls te gehoorsaam en die kleinste diertjies as van hulle kosbaarste besittings te beskou. Hulle maak jou ook bewus daarvan om nie uit jou voertuig te klim en dadelik ‘n bedreigde akkadissie of ‘n endemiese verkleurmannetjie te verwag nie.

Die woestyn het sy eie tyd. Geduld sal jou met die wonderlikste skatte beloon. Daar is besoekers wat vir dae in die woestyn rondswerf met lang kameralense , op soek na die “klein vyf”. Ek weet nou nie of dit maar net geluk was nie, maar tydens my gesoek het ek sommer drie seldsame verkleurmannetjies in een uur gesien! En my apparaat was so ‘n ou klein nuts-selfoonkameratjie wat wel die nodige kon doen! Wys jou net: jy moet weet waar om te kyk en dalk help ‘n goeie gids ook so n bietjie!

My besoek aan Walvisbaai en Swakopmund het my net weer bewus gemaak van ‘n mens se ingesteldheid wat reg moet wees om die gewone dinge in die lewe te geniet, te waardeer en ook te respekteer. Jy sal die vrugte daarvan pluk. Woorde kan nie alles beskryf nie. Dalk help ‘n paar foto’s om die prentjie te voltooi.

Die kusstrook tussen Walvisbaai

Honderde pelikane by die promenade by Walvisbaai

Kyk mooi, want só sien mens Terrance April nie aldag nie. Die duine by Swakopmund doen dinge aan 'n mens.

Kyk mooi, want só sien mens Terrance April nie aldag nie. Die duine by Swakopmund doen dinge aan ‘n mens.

Die robbe by Swakopmund is glad nie bang vir mense nie. Hier sit een sommer styf teen Terrance terwyl hy 'n onderhoud vir RSG doen.

Die robbe by Swakopmund is glad nie bang vir mense nie. Hier sit een sommer styf teen Terrance terwyl hy ‘n onderhoud vir RSG doen.

Luister na Deel 2 van Terrance se klankgreep oor sy besoek:

Kategorieë