Hoender met gedroogde appelkose, sitrus & eiervrug


Meer as net vir peusel

 In Suid-Afrika is daar ‘n wonderlike verskeidenheid droëvrugte beskikaar en meeste daarvan is plaaslike produkte wat in ons sonnige klimaat letterlik in die son gedroog word. Die opsies is wyd, van die bekendste rosyne, appelkose, pruimedante en appelringe tot mango, verskillende soorte perskes, vye en pere, skryf Heleen Meyer op Maandag 22 Junie 2015.

Baie mense assosieer droëvrugte met peuselhappies, padkos of iets vir ‘n kosblik. Dit is baie gerieflik om te gebruik, maar dit hoef nie net ‘n peuselkos te wees nie. Daar is heerlike resepte wat met gedroogde vrugte gemaak kan word. Dis ook ‘n lekker manier om die voedingswaarde van vrugte wat dalk nie dan in seisoen is nie, wel te kan geniet.

Daar is wel twee aspekte van gedroogde vrugte wat ‘n mens moet onthou. Eerstens is die vrugtesuiker-inhoud van gedroogde vrugte gekonsentreerd, so twee helftes van ‘n vrug, is dalk vinnig en maklik om op te eet, maar dit bevat wel dieselfde hoeveelheid suiker as die vars produk. (Soms word die vrugte selfs in die vervaardigingsproses weer met suiker bedek – wat eintlik heeltemal onnodig is, want dis mos soet genoeg.) Diabete moet dus baie bewus wees van hoeveel droëvrugte

Tweedens word die vrugte met swaweldioksied behandel omdat dit die vrugte preserveer en ook die natuurlike kleur behou. Heelwat mense is wel hiervoor allergies of sensitief en daarom sien mens al hoe meer gedroogde vrugte wat sonder swaweldioksied gemaak word. Die bekende helder kleur van die vrugte is dan weg en lyk dit amper onaptytlik, maar dit smaak wel nog baie lekker (alhoewel dikwels ‘n bietjie anders). Lees dus die etiket op die verpakkings as jy dit moet vermy.

Gedroogde vrugte kom ook in die Mediterreense streke voor en word dikwels in hul kos gebruik. Dink maar aan ‘n Marokkaanse gereg met rosyne, sultanas of Turkse appelkose, pruimedante of vye. Koeskoes word ook dikwels met gedroogde vrugte gegeur en selfs stowegeregte kan ‘n heerlike soet smaak kry, deur die regte droëvrugte daarby te sit. Potjiekosgeregte het dikwels ook gedroogde vrugte in, veral die met wilds- of varkvleis.

Turkse appelkose se effense soetsuur smaak maak dit heerlik veelsydig. Rosyne en sultanas is ‘n bekende kombinasie met Maleise geure soos bobotie, geelrys, kerrievis, blatjang of atjar. Baie mense is lief daarvoor om pruimedante te stop, hetsy met roomkaas of ‘n ander vulsel, of om spek daar rondom te draai en dit so gaar te maak. Ek het al ‘n wonderlike vulsel met gedroogde pere, salie en parmesaankaas gemaak, wat ewe lekker in hoenderborsfilette, vark-steaks of met roereier is.

Droëvrugte word ook baie in soetgebak en nageregte gebruik. Dink maar aan rosyne in ‘n appeltert.

Hierdie baie geurige hoendergereg is ’n tipiese kombinasie van Marokkaanse geure met suurlemoen, lemoen, komyn en eiervrug. Jou gesin sal jou lof behoorlik besing, maar dis ook die perfekte gereg om vriende in die winter mee te bederf.

RESEP: www.heleenmeyer.co.za of www.facebook.com/HeleenMeyerFood

RSG 22 Junie 2015 Hoender met Turkse appelkose

Hoender met gedroogde appelkose, sitrus & eiervrug

Resep uit Maak vyf

Lewer 4 – 6 porsies

 

45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie

15 ml (1 e) elk fyngerasperde suurlemoen- en lemoenskil

125 ml (½ k) suurlemoensap

250 ml (1 k) lemoensap (sap van ongeveer van 2 lemoene)

5 ml (1 t) fyn gemengde speserye

10 ml (2 t) fyn komyn

5 ml (1 t) komynsaad

sout en peper

8 hoenderporsies, oortollige vet afgesny

1 mediumgroot eiervrug, gehalveer en in wiggies gesny

2 uie, in wiggies gesny

2 knoffelhuisies, in skyfies gesny

25 Turkse gedroogde appelkose

’n handvol vars kruisementblare

 

  1. Voorverhit oond tot 180 °C. Meng die olie, suurlemoen- en lemoenskil, suurlemoen- en lemoensap asook speserye in ’n mengbak en geur na smaak.
  2. Meng die hoender deur die mengsel en plaas in ’n groot oondbak. Pak die eiervrug, uie, knoffel en appelkose tussenin en giet die oliemengsel bo-oor.
  3. Maak toe met aluminuim foelie. Bak vir 40 minute, haal die foelie af en bak vir nog 20 minute of tot die hoender goudbruin en gaar is.
  4. Sit net so voor of met koeskoes of bruin basmatirys en kruisement.Of roer die kruisement by die koeskoes of rys in.

 

Wenk

  1. Vervang eiervrug met kekerertjies, botterskorsies of patats wanneer dit nie in seisoen is nie.

 

Vrae om ‘groen leef’ prakties te maak:

  1. Wat kan komposhoop of wurmplaas/bokashi-emmer toe gaan?

– enige kosafval is geskik vir die bokashi-emmer

– onthou dat suiwel, uie, knoffel en sitrus liefs nie vir die wurmplaas gebruik moet word nie

  1. Hoe kan ek die resep so gesond as moontlik maak?

– moenie in die versoeking kom om te veel suiker in ’n gereg met gedroogde vrugte te gebruik nie. Die natuurlike suikers in die vrugte sal tot die gereg se geur bydra.

– gebruik olyf- of avokado-olie, want dis gesond

  1. Wat kan ek hersirkuleer of hergebruik

– enige leë blikkies, bottels of ander glas houers kan gewas en op ’n kreatiewe manier gebruik word

– andersins kan die houers uitgespoel en in die hersirkuleersak geplaas word

  1. Wat maak die resep nog meer omgewings-vriendelik?

– onthou om altyd vrugte, groente en ander vars bestanddele wat in seisoen is te gebruik – dis makliker bekombaar en meer bekostigbaar.