Ontmoet Johny Klein, storieverteller


Johny Klein is ‘n veelsydige verhoog- en radio-akteur. RSG-luisteraars sal hom onthou vir sy boekvoorlesing van Marinda van Zyl se epiese Amraal en meer onlangs vir sy rol in die middag-vervolgverhaal, Bure. Dit is egter met die voorlesing van wyle Ferdinand Deist se Sandveldstories wat Johny nog dieper in luisteraars se harte gekruip het. Esté Gross het die artikel oor Johny Klein saamgestel en Kobus Burger die video.

Kyk die video
Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, het hierdie heerlik-komiese stories afgestof en Johny gevra om die voorlesings te behartig. Hier gesels Kobus met Johny oor sy liefde vir drama en waarom hy Deist se werk so geniet.

Ontmoet Johny Klein

Deur Esté Gross

Johny Klein

‘Wie is daai man wat die stories so mooi en goed lees op RSG?’ kom die navrae elke dag hier by RSG. Dis Johny…Johny Klein.  En hy is gebore om stories te vertel.

Hy is ook al vir jare betrokke by RSG dramas en vervolgverhale. Ook met boekvoorlesings.

Maar dis sy voorlesings van Ferdinand Deist se Sandveldstories en veral sy boekvoorlesing van Bom Appeltiet Op Eselspoort op RSG wat luisteraars in vervoering en bewondering het.

Johny is boonop ook ’n teaterakteur en verskyn gereeld op die kassie. Hy lag altyd en oral.

Johny vertel wat hom inspireer en die mense en plekke wat hom na aan die hart lê.

Op sy gelukkigste in ‘n vrugteboord

Johny is van die klein dorpie Groblershoop tussen Prieska en Upington in die Noord-Kaap. Al is hy nou ’n Johannesburger, het hy soms tyd nodig om stil te raak in die natuur. En as Johny hy in ’n boord kan stap, is hy op sy heel gelukkigste.

“ ’n Boord is vir my die mooiste ding in die wêreld, veral ’n appelboord. Kwazulu-Natal se piesangsboorde is net so mooi, en ek wil nog eendag ’n pynappelboord sien. Ek sal graag eendag so klein stukkie grond wil hê om met groente te boer.

”Ek het ’n baie besige kop en ek praat baie met myself. Veral as ek stap. Toe ek kind was het ek in die veld gestap en hard gepraat, hier met ’n goggatjie en daar met ’n boom. Dan sal ek vir die boom sê “Oe maar jy het baie mooi blare, wanneer skud jy dit af? Ek loop met alles en praat.”

Die laatlam in sy gesin

Een van Johny se gunsteling kinderfoto’s: “My Pa het my altyd Speners genoem. My suster staan agter my. Ek het dummy gesuig tot ek ses of sewe jaar oud was!”

Johny se gesin is vir hom belangrik. Hy is die jongste van drie kinders, ‘n laatlammetjie. Johny vertel meer oor sy gesin en die groot rol wat sy ousus in sy lewe speel.”My pa was ’n onderwyser wat later ’n winkel gehad het en my ma het haar altyd ontferm oor ander mense se kinders.”

Johny en sy ma Alida.

My pa Jafta van Wyk of Meester Brace soos mense in Groblershoop hom genoem het. Dis die enigste foto wat Johny van sy pa het. Hy is reeds oorlede.

Johny en sy suster Yvonne een van haar twee seuns Jaydee tydens Jaydee se aaneming verlede jaar.

“Ons is drie kinders. My broer is die oudste en my sussie is ook so nege jaar ouer as ek.

”My suster is ’n groot rolmodel in my lewe. Toe ek nog op skool was het sy direk na skool gaan werk.

Sy het my baie gehelp met klere en skryf-behoeftes, en selfs na skool toe ek drama studeer het. En soos broers en susters maar maak, het ons baie baklei! Vandag is ons darem mooi groot en is sy die beste suster in die hele wêreld.”

Die mentors in Johny se lewe

Johny vertel meer oor die mentors in sy lewe en hoe sy loopbaan as akteur begin het, met ‘n klop aan sy deur….

“Toe ek n kind was het ek vir myself gesê die eerste akteur wat ek gaan raakloop gaan ek vra om my asseblief te help om ’n akteur te word. Ek het by my suster in Pretoria gewoon. Die een dag kom sy by die huis en sê: “Jy sal nie glo wie ek by die tuckshop gesien het nie!”

Johny en Ilse Klink

“Dit was die aktrise Ilse Klink. Ons het toevallig so vier of vyf huise van haar af gebly. Die volgende oggend vroeg was ek by Ilse se huis. Net haar ma was daar, maar sy het gesê sy sal Ilse laat weet. Ek het seker vir ’n week niks gehoor nie, maar sy het gebel en gesê sy het nie vergeet nie.”

“Een aand is daar toe ’n klop aan die deur. Dit was ’n reënerige aand. Dit was Ilse Klink.  Sy vra: “Does Johny Klein live here?”

Sharlene Surtie-Richards en Johny

“En sy staan daar met ’n plastieksak oor die kop en keer die reën uit haar oë. Sy sê sy het nie vergeet nie, sy was net besig. Vir die eerste keer het ek hoop gehad geweet daar kan iets van kom.”

Sy ander rolmodel en mentor is Sharlene Surtie-Richards.

Johny wou ook nog altyd ‘n rol saam met Sharlene Surthie Richards speel. ”Ek wou altyd haar kind speel, toe speel ek haar man!”

 

 

En toe beland hy by radio…

Johny in die ateljee agter die mikrofoon

“Blinkwater was die eerste vervolgverhaal; ek het Elton Juries gespeel. Daarna het  Evert Snyman my gebruik in ‘n storie. Evert was streng en kwaai, maar hy het altyd gesê hy doen soveel moeite omdat hy weet ek kan ietsie doen. Hy het my voorlesingsklasse gegee en het my baie geleer.”

“Ek het vir Kobus Burger gevra of ek ’n boekvoorlesing kan doen. Kobus het my ’n stemtoets gegee, en gesê, ek moet net ‘n bietjie wag, hy soek net die regte boek wat by my stem sal pas. Toe kry hy vir Amraal. Dit was ’n storie so na aan my hart want dit is ook my wêreld se plekke”.

“Die storie het vir my deure oopgemaak, want net daarna kry Kobus hulle Ferdinand Deist se storie want nou so sukses is”.

Johny in die RSG ateljee

Johny sê hy is presies waar hy moet wees

“Mense droom so graag om in Amerika te gaan act, maar ek nie. Ek droom nog te veel om saam met al die Suid-Afrikaanse actors te speel. RSG gee my die kans om met al wat ’n actor is te speel. As ek in ’n volgende lewe weer moet terugkom aarde toe sal ek weer ’n actor wil word, al is dit so ‘n tawwe bedryf. ”

Wat is vir jou die een ding wat vir jou belangrik is in die lewe?

“Ek glo in liefde. Ek glo ’n mens moet liefhê soveel soos wat jy kan en nie soveel soos wat jy wil en mag en sal en moet nie, maar soveel soos moontlik. Ek glo in God, maar God vir my is liefde. As jy iets wil doen doen, dit uit liefde uit, as jy iets wil gee, gee dit uit liefde uit.”