Rus in Vrede, Evert!


evert-snyman-1-largeEvert Snyman, stemkunstenaar by uitstek, is Vrydag ná ‘n kort siekbed oorlede. Hy het ‘n paar dae voor sy dood geval en sy femur (bobeen) gebreek, waarna hy geopereer is. Hy het twee dae na die operasie gesterf.

Hy was 60 jaar oud.

Evert sal onthou word vir sy uitstekende voorlesings van kinderstories wat die karaktertjies laat lewe kry het, en ook vir sy rolle in dramas. Hy en sy vrou Marí, het baie vervolgverhale en drama geskryf en verwerk.

Luister hier na een van sy onlangse kinderstorie-voorlesings.

Hier is ‘n opsomming van sy biografie:
Evert Snyman het in 1976 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK), as akteur begin werk en is twee jaar later Lugmag toe waar hy by KOLOT – die kollege vir opvoedkundige tegnologie – as regisseur, draaiboekskrywer en stemkunstenaar dokumentêre programme vir die weermag vervaardig het. Hy tree deurentyd op as akteur in verskillende radiodramas en reekse vir die destydse Afrikaanse Radiodiens en Springbokradio. In 1982 sluit hy hom aan by die Afrikaanse Radiodiens as omroeper/regisseur en twee jaar later gaan werk hy by Mimosafilms as regisseur/akteur/draaiboekskrywer. Hy verlaat Mimosa films aan die einde van 1984 en betree die vryskutmark as akteur, omroeper, regisseur en skrywer tot in 1987 en keer terug na die Afrikaanse radiodiens as Senior Omroeper/Regisseur. Hy word in 1994 bekroon met ‘n Artes-toekenning as Beste Uitsaaier: Radiodienste wat in Engels en Afrikaans uitsaai.

RSG sê: Rus sag, Evert.