Lynette koer oor haar 2-jarige Maya


Gewonder hoe gaan dit met omroeper Lynette Francis en haar Maya? Lees hier wat skryf Lynette oor ma-wees en kyk hoe groot het Maya geword……

“Geen toekenning, erkenning of kompliment kan kompeteer met my tweejarige se kompliment ‘n maand gelede nie. Maya meen ek is “fun”. Nie soos ‘n komediant nie maar soos haar maatjie. En, wil ek vinnig op rekord plaas, ek “is die beste ma ooit”, volgens haar. Wie is ek om te stry?

Vanoggend voor werk, kom groet sy my. Toe moet ek haar wenkbroue kam. (Sy sien my grimeer vir werk) Sy is in die wat-is-dit-en-waarom- fase. En klim in my skoene, my grimering en juweliersware. Wanneer ek voorberei vir onderhoude, gaan haal sy pen en papier in die studeerkamer en kom sit langs my om haar “blog” te skryf.  Sy weet ek skryf ‘n gereelde blog en vra dikwels of ek al klaar geskryf is.

Dis oor pen en papier en boeke waaroor ons die meeste baklei. Sy is ‘n boekwurm en vra gereeld ek moet haar kennis toets met haar flitskaarte. Maar haar grootste vreugde benewens lees, is dans en sing en haar ouma (wat haar bedags versorg). Ek is al vodde van al die Strictly Come Dancing danspassies wat ons moet doen.  Dan moet ek soos ‘n beoordelaar  haar ‘n telling gee, en  sy maak haar buiging.

‘n Rukkie gelede vra sy ons huishulp Lungi om haar soos ‘n “backpack” te dra. Sy het gesien hoe Chimsy haar dogtertjie Memory op haar rug abba. Toe moes ek haar help om haar teddie te abba.

Om Maya se ma te wees is die grootste seën wat die Almagtige my kon gee.  Om haar te hoor lag en gesels (babbelbekkie) en vrae vra, is my ligpunt. Ek was siek in Maart en Maya en my ma was my verpleegsters wat my versorg en oor my gewaak het. Een aand, voor sy haar ogies toemaak (na die soveelste storie natuurlik) vra sy my of ek steeds pyn het. Ek het net gehuil vir haar bedagsaamheid. En toe sy my trane sien, troos sy my met ‘n “squeezy-hug” en ‘n soentjie om dit beter te maak.

Speeltyd, een van RSG se nuwe kinderprogramme sedert November verlede jaar, is waar ek en Maya se avonture vlerke kry. Ons speel baie en ek word gelei deur haar belangstellings en leerprosesse. Ons het nog nooit brabbeltaal gepraat nie en haar taalvaardigheid en gesprekke maak my trots.  Ek sluit foto’s in van ons piekniek met paaseiers ( ‘n paaseier skattejag is ‘n voorstel wat ek in Speeltyd vir die Pase deel); Maya en haar beste maatjie Ethan oor wie sy snags huil as hulle nie kon saamspeel nie en hoe sy haar Teddie rondra.”

 

 

 

 

 

 

Klik hier om te lees hoe Lynette kort ná Maya se geboorte (foto onder) oor haar dogtertjie geskryf het.