Ontmoet Esté Gross, die nuusleser wat ook sing…


Esté Gross

Jy ken Esté Gross as nuusleser en omroeper. Sy kuier veral vroeg Sondae-oggende saam met jou. Wat jy dalk nie weet nie, is dat sy ook ’n sangeres, liedjieskrywer, spreker, joernalis en rubriekskrywer is. Pst….sy kan ook mooi teken.

Esté glo as jy regtig wil weet wie jy is, is dit partykeer goed om terug te keer na jou gunsteling herinneringe as kind:

“My Ouma het so ‘n ou radio, wat lankal nie meer werk nie, op haar bedkassie gehad. (Ek was seker so vyf jaar oud). Ek kies dan ‘n denkbeeldige stasie en bied kamtig aan. Ouma het altyd die liedjie Flowers… versoek, en dan improviseer ek vir ’n vale vir die “regstreekse uitsending.”

“In standerd 2 het ek die nuus se kenwysie van die TV af met my kassetopnemer opgeneem, en toe gaan nuus lees vir die klas. Die juffrou het gedink dit is so oulik dat ek vir die hele graad se klasse moes gaan optree….so, ek oefen al lankal…”

“Ek onthou ook hoe ek as kind vreesloos en volspoed met my fiets op die grondpad op die plaas gejaag het, terwyl my fiets se speke deur die wind sing.”

“Ek is nog dieselfde mens. Lief vir sing, klank, spoed, avontuur, die natuur en ’n goeie uitdaging.”

Esté in haar vroeëre dae as tiener by ’n sangkompetisie. Hier het sy Johann Strauss II se Mein Herr Marquis gesing (beter bekend as The Laughing Song).

Musiek, haar passie

Esté se liefde vir musiek is ook al lank ’n passie, sy vertel hoe sy eintlik ‘n klassieke sangeres sou word:

“Ek het aanvanklik klassieke musiek studeer, met sang as hoofinstrument, sterk op pad om ’n klassieke sangeres te word, maar die crossover kunstenaar in my het al hoe meer begin kop uitsteek…”

“Ek het die voorreg gehad om lid van die Wêreldjeugkoor te wees toe hulle Suid-Afrika besoek het. Dit was ‘n ervaring wat my vir altyd sal bybly.

Luister onder na die video opname van Soos ’n Wildsbok, gesing deur mense van regoor die wêreld heen – seker oor die 60 nasionaliteite saam. (Esté is ook daar iewers – as jy baie mooi kyk).

Esté is lief vir klassieke musiek, maar sing ook ook Jazz, Blues, Pop en kontemporêre ligte musiek, en skryf haar eie musiek as sy die kans kry.

“Dit was juis daarom vir my so heerlik om die musiekreeks, Grensskuiwers oor klassieke crossover saam te stel en aan te bied. Dit is so reg in my kraal!”

Hier is n opname waar sy O HEER MY GOD sing.

Grensskuiwers is vroeër vanjaar omskep in ’n musiekproduksie vir die Woordfees.

Esté saam met Corlea Botha en Brandon October met die verhoogproduksie Grensskuiwers.

‘n Kykie agter die skerms voor die konsert. Esté was gasvrou en sangeres in die produksie.

Hoe beland sy by radio?

Omdat Esté nog altyd lief was vir radio, en ’n loopbaan as nie net sangeres nie maar ook omroeper wou volg, het sy Kommunikasiekunde studeer.

“Ek het nog altyd ’n liefde gehad vir radio. Daarom het ek na my musiekstudies kommunikasiekunde gaan studeer, ’n stap uit geloof dat dit op een of ander manier sal help om deure oop te maak vir ’n loopbaan as nuusleser en radio-omroeper. In 2013 het die wonderwerk gebeur en het ek ‘n internskap by RSG gekry.”

 “Dit is elke dag ’n uitdaging om as vryskut te werk, want jy is net op jouself aangewese, maar terselfdertyd geniet ek die kreatiewe vryheid en selfstandigheid wat dit bied. Die lewe sonder ’n vangnet dwing jou om uit jou gemaksone te beweeg. Die idee om ingeperk te word is vreesaanjaend vir my.”

 

‘n Onlangse foto van Esté (links ) by haar sussie Lara (voor) se 21ste verjaarsdag, Ma Hester (regs) en ouboet Dérick (agter).

 

En dan is daar haar kreatiewe gesin

Om kreatief te bly is vir haar baie belangrik, sy vertel van haar kreatiewe gesin.

“My hele gesin is kreatief. My ouma, ma, broer en suster skilder en skryf almal, so om myself kreatief uit te leef, is so natuurlik soos asemhaal.

“Daarby is ons almal filosofies, daarom kan ’n kuier om die kombuistafel baie vinnig vurig en diepsinnig raak.

Ek is gewoonlik die een wat die vrede probeer bewaar – seker maar die middelkind in my!”

Diereliefhebber

 

 

Esté by die donkies.

Of dit nou katte, honde, donkies of uile is, sy hou van diere.

“Ek en diere kliek!

Ek was vir ’n ruk lank ’n vrywilliger en lid van die DBV en sal graag weer betrokke wil raak by soortgelyke projekte as ek tyd het. Gelukkig gee RSG my die geleentheid om diere en mense se stories te vertel…”

“Die Waterdraers” is ’n dokumentêr wat die lyding van donkies in township’s belig. Die skokkende ervaring sal my altyd bybly en en ek is dankbaar dat ek die saak onder die publiek se aandag kon bring.”

Esté en die Joy Dogs. “Die “Joy Dogs’ word so nou en dan ingespan as terapeutiese honde. Jy sal hulle dalk herken van die bekende verfadvertensie.”

“Ek en ‘n uil het ook op ’n keer lang stukke gesels. Hy was een van die spraaksaamste gaste nog!”

Esté en haar kat Dakota, hard aan die werk.

En wat doen sy vir ontspanning?

Die see bring my onmiddelik tot bedaring terwyl ‘river rafting’ die bloed in my are laat bruis. Jy is ook nooit te oud om om ‘n baan met ‘n ”go-cart” te jaag nie…!

Trotseer die wit water

Wat is haar lewensmotto?

“Het dit wat ek nou doen, en die manier waarop ek ander mense hanteer, ewigheidswaarde?”