RSG se nuwe dramaseisoen skop Donderdag af


‘n Kaalbas kalender, ‘n spooktrein, ‘n afgestorwe man wat weens sy gewig nie begrawe kan word nie en die geskiedenis van die radiodrama kom onder andere aan die bod in RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2021.

Die seisoen begin met die wenners van verlede jaar se RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie. Isabel Martinson se klugtige komedie, Pap en kaviaar, word op Gekkedag om 20:00 uitgesaai. Dit is verlede jaar met die aanmoedigingsprys bekroon en is deur Mari Snyman geregisseer.

Op Goeie Vrydag, net ná die 13:00-nuusbulletin is Ina Strydom in die regisseurstoel vir Joey van Niekerk se geskiedkundige Paasdrama, Die kleed. Volgens die skrywer beantwoord die slot van haar drama die een vraag wat al 2 000 jaar deur Christene gevra word. Van Niekerk was ook die skrywer van die komedie Die Prys, wat luisteraars gaande gehad het.

Die Matie-dramastudent Adriaan Havenga is met die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) bekroon vir Hulle noem hom Mamba, wat op Donderdag 8 April om 20:00 gehoor kan word met Joanie Combrink en André Samuels in die hoofrolle. Anrich Herbst is die regisseur.

Op Donderdag 15 April kom Philip Nolte se Morgenster aan die beurt. Frieda van den Heever is die regisseur van hierdie wenner van die derde prys in die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Die spelers sluit in Johann Nel, Gideon Lombard, Antoinette Kellermann, Jana Strydom en Kay Smith.

‘n Week later volg Hendie Grobbelaar (ook bekend om die gewilde RSG-radiodrama Johanna se Elvis) se Sterrereën met Duncan Johnson wat die regie behartig. Dit het die tweede prys ontvang in die 2020-kompetisie. Die spelers is Claudia Jones, Luan Jacobs, Donovan Pietersen en Christo Compion.

Die aktrise June van Merch vertolk die hoofrol in Adelle van Wyk se Makkie onthou, wat op Donderdag 29 April uitgesaai word. Joanie Combrink is die regisseur van hierdie raaiseldrama. Makkie onthou was die algehele wenner in verlede jaar se kompetisie wat altesame 380 inskrywings gelok het.

Makkie onthou is ‘n misdaaddrama wat deur die beoordelaars as “epies” geloof is. Die polisie word ontbied nadat Makkie Ghall ‘n lyk in die swembad ontdek het. Wie het Fisher vermoor? Twintig jaar later in die koue water van ‘n sementdam met die jongmense Katy en Patat wat kopkrap oor Makkie se eienaardige gedrag, begin die waarheid sy verskyning maak.

RSG vier die lewe en werk van die digter Eugène Marais wat vanjaar 150 jaar oud sou wees, met Ilsé van Hemert se spesiale radioproduksie van die klassieke kunstefeestreffer, Uit die bloute. Van Hemert se RSG-argiefwerk en verwerking, Rots van verskrikking, word op Donderdag 6 Mei uitgesaai met Gys de Villiers en Anna-Mart van der Merwe in die rolverdeling en die musiek van Marimba.

Die bekroonde radioskrywer Lee Doubell verken die geskiedenis van klankdrama in Die laaste woord, wat in die verlede, hede én toekoms afspeel. Marais se gedig, “Winternag”, is een van die newe-temas in hierdie uitdagende werk wat terselfdertyd ‘n ode is aan die stem en radiodrama. Johan Rademan behartig die spelleiding.

Die romansier Rudie van Rensburg se 2009-verhoogstuk, Die begrafnis, is spesiaal vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen en debuteer op Donderdag 20 Mei. Van Rensburg het die drama destyds as Phil Janse geskryf en RSG voer hierdie donker komedie op ter viering van Van Rensburg se sewentigste verjaardag vanjaar. Amor Tredoux is die regisseur van hierdie storie oor ‘n oorgewig man wat sy weduwee en ‘n begrafnisondernemer nagmerries gee.

Albert Short se Spooktrein, met Leon van Nierop as regisseur, beloof om vir hoendervel te sorg. Dit is ‘n enigmatiese spookstorie met die veteraanakteur Louis van Niekerk in die rol van Abraham.

William Oosthuizen het ‘n opvolg geskryf van sy trefferkomedie, Doller as kopaf. Denver Vraagom is die regisseur van Daar’s iets omtrent Daisy (Donderdag 3 Junie), wat in ‘n aftree-oord speel. Die bejaardes reken hulle kan, nes die mense van wie hulle in die koerant lees, ‘n kaalbas kalender van stapel stuur. Maar dan daag die raaiselagtige Daisy op en daar is gerugte van ‘n waterbed en minnaars wat nie die mas kon opkom nie…

Janine van der Linde se As is verbrande hout (op Donderdag 10 Junie) en Erica Harris se Boeretroos (op 17 Junie) was albei finalisdramas in 2019 se RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie. Die nuwe stukke is uit die penne van bekroonde skrywers wat die medium van radiodrama reeds voorheen met albei arms aangegryp het.

Die seisoen word op Donderdag 24 Junie afgesluit met ‘n eksperiment en verrassing wat mettertyd aangekondig sal word.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar ‘n kwarteeu oud en die wenners en finaliste wie se werk hierdie keer ingesluit is, wys hoe hierdie medium steeds van krag tot krag gaan. Daar is nou ‘n nuwe geslag skrywers wat die grense van klank en drama doelbewus verskuif. Skakel in en reis met jou ore saam deur hierdie gerf skitterende stories.

Radioteater word van April tot Junie elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Die RSG dramaseisoen

DATUM TITEL SKRYWER REGISSEUR OPMERKING TEMA
1 April Pap en kaviaar Isabel Martinson Mari Snyman RSG Sanlam

Aanmoedingingprys

Kompetisie
2 April

Goeie Vrydag

Paasdrama

Die kleed

Joey van Niekerk Ina Strydom Nuwe teks Goeie Vrydag

Paasspel

8 April

 

Hulle noem hom Mamba Adriaan Havenga Anrich Herbst RSG Sanlam

Jong Skrywer

Kompetisie
15 April Morgenster Philip Nolte Frieda van den Heever RSG Sanlam

Derde Plek

Kompetisie
22 April Sterrereën Hendie Grobbelaar Duncan Johnson RSG Sanlam

Tweede Plek

Kompetisie
29 April Makkie onthou Adelle van Wyk Joanie Combrink RSG Sanlam

Wenner

Kompetisie

 

6 Mei Rots van verskrikking Eugène Marais Ilsé van Hemert ARGIEF

“Uit die bloute”

Eugène Marais is 150 jaar oud
13 Mei Die laaste woord Lee Doubell Johan Rademan Radiodrama-gesk.

Eugène Marais

OPDRAG

Futuristies

20 Mei

 

Die begrafnis Rudie van Rensburg Amor Tredoux Opdragwerk Rudie van Rensburg word 70
27 Mei Spooktrein Albert Short Leon van Nierop RSG Sanlam finalis Spookstorie

 

3 Junie Daar’s iets omtrent Daisy William Oosthuizen Denver Vraagom Opvolg van gewilde radiodrama Komedie
10 Junie

 

As is verbrande hout Janine van der Linde Joanie Combrink RSG Sanlam finalis Gesinsdrama
17 Junie Boeretroos Erica Harris Duncan Johnson RSG Sanlam finalis Speurverhaal

 

24 Junie

 

Sal aangekondig word Sal aangekondig word Sal aangekondig word Opdragwerk