Nuwe Sondagaandreeks: Jou gesin


Sondagaand net na 19:00 Nuus (dus 19:05) is Suzaan Steyn aan die woord met ‘n nuwe reeks oor die gesin.

OF jy nou van hulle hou of nie. Jou gesin is die belangrikste groep mense in jou lewe. Hulle help vorm aan wie jy is en hoe jy oor die lewe dink. Hulle kan ondersteun of afbreek, vreugde bring of baie pyn. Vir die meeste van ons is ‘n gesin Pa, Ma, broers en susters. Vir baie is dit net Ma. Of net Pa. Vir sommige is dit oupa en ouma, of ‘n groepie naby familielede. Vir ander is dit net jou broers en susters, met die oudste wat die pot aan die kook moet hou. Baie van ons word groot in huishoudings met twee ma’s of twee pa’s, ander se gesin is nie mense van jou eie bloed nie, maar die groep mense met wie jy ‘n huis deel, jou vriende of dalk net jyself met jou kat of hond. In Jou Gesin gaan ons oor die volgende paar weke uitvind hoe die gesin van vandag daaruit sien, waaruit moderne gesinstrukture bestaan en watter invloed dit op ons lewe het. Ook die faktore wat gesinslewe beïnvloed soos armoede, dwelms, tegnologie, mede-afhanklikheid of toksiese verhouding tussen die gesinslede.
As jy wil meedoen, luister Sondagaande ná die 7 uur nuus na Jou Gesin. Jy’s ook welkom om vrae en jou gedagtes te stuur na suzaan@rsg.co.za.

Episode #1: Sondag 1 Januarie 2017
Suzaan Steyn kyk na wat deesdae beskou word as ‘n gesin, die faktore wat ‘n rol speel in moderne gesinstrukture en hoe die gesin van die toekoms lyk.

Luister na die eerste episode.