‘n Mandjievol spesiale Paasprogramme


Ons het ‘n hele mandjievol spesiale Paasprogramme saamgestel vir Goeie Vrydag.

Goeie Vrydag 30 Maart

08:00 – 09:00: LOOF DIE HERE VIR GOEIE VRYDAG, saamgestel deur Wouter de Wet Loof die Here op Goeie Vrydag word ingelui met klokkespel om die Pase aan te kondig. Dan volg Gregorio Allegri se mistieke “Miserere” wat in 1630 vir eksklusiewe gebruik op Goeie Vrydag  in die Sistynse Kapel in Rome gekomponeer is. (Dit het in later jare algemeen bekend geword.) Ander werke in die program sluit grepe uit “The Crucifixtion” van die Britse komponis Richard Stainer in, asook een van die opruiende kore in Bach se monumentale Mis in B-Mineur. Die program eindig met die Paas Alleluia, wat in die Middeleeue gekomponeer is en wat deur Elisabeth Schwarzkopf gesing word.


10:00 – 11:00:
DIE MATTHEUS PASSIE, saamgestel deur Terrance April
Johann Sebastian Bach was by die St. Thomas Kerk in Leipzig werksaam toe hy die Mattheus en Johannes Passies vir Goeie Vrydag herdenkingsdienste gekomponeer het. Hy het veral hard gewerk aan die Mattheus Passie wat hom drie jaar geneem het om te voltooi. In latere jare het hy enkele veranderinge aangebring aan die monumentale werk wat as BWV 246 gemerk is. Luister na uittreksels uit die werk met voorlesings uit Mattheus 26 en 27.


11:00 – 12:00: OP PAD NA DIE KRUIS, saamgestel deur Lizelle de Bruin
Lizelle de Bruin praat met dr. Andries Cilliers oor die mense wat tydens die kruisgebeure ‘n rol in Jesus se lewe gespeel het.

Die gesprek word afgewissel met voorlesings uit die Bybel en musiek.


13:00 – 14:00
PAASDRAMA  
QUINTIN ROY EN DIE PAASHAAS deur Helena Hugo

Speel die Bybelse oorsprong van die Paasgebeure nog die rol wat dit behoort te speel, of word dit vertroebel deur heidense simbole en fantasieë oor die Paashaas en sy ware?

Quintin Roy is ’n jong akteur wat sy bes doen om sjokolade te verkoop en kinders  gelukkig te maak. Maar dan kom hy te staan teen ouddominee Broderick en die waarheid…

Die spelers is Johny Klein, Francois Stemmet, Gigi Strydom, Elma Potgieter, Bertha le Roux-Wahl, Merlin Balie en Bronwyn van Graan. Die regie word behartig deur Helena Hugo.


14:00 – 15:00:
VESPER NAGWAAK, saamgestel deur Tharien Oosthuizen
In die Russiese Ortodokse Kerk word daar voor groot godsdienstige feeste ‘n nagwaak gehou, met die liturgie van die Aandgesange en Oggendgesange. Lig is ‘n belangrike Christelike simbool, en die veranderende lig tydens die nagwaak speel ‘n betekenisvolle rol. Namate die son tydens die Aandgesange tot totale duisternis ondergaan, het die gemeente meer van hulle nietige menslikheid en sondigheid bewus geword. Dan, met die son wat opkom, bring die dag beloftes van lig, vergifnis, opstanding en ‘n nuwe lewe.

Luister na die spesiale Afrikaanse beryming van Rachamaninof se Deurnaggesange opus 37, wat deur Helene Dippenaar in opdrag van Vriende van Afrikaans vertaal is.

Kunstenaars: Kaapstad Kamerkoor en Pro Cantu Jeugkoor, Hayden McGregor (tenoor), Vasti Knoesen (alt) en Leon Starker (dirigent).


15:00 – 16:00:
DIE HEMELSE PAASALMANAK, saamgestel deur Flip Loots
Te midde van die jaarlikse Paasnaweek op die Joodse kalender, het God sy eie kalender gehad vir die wëreld: een wat die kruisdood en opstanding van Jesus Christus ingehou het. Ons staan stil by die laaste paar dae van Jesus op aarde volgens die Hemelse Paasalmanak.

Luister saam met Phil Loots en sy gesin. Voor: Janroux en Marno Loots (tweeling). Agter: Petri, Phil en Ilse Loots.

16:00 – 17:00: PAASFEESGOSPEL, deur Phil Loots
Van die vroegste tye-af is daar gesing oor Paasfees – in kerke, huise en op straat.  In die spesiale Paasfees Gospelprogram op Goeie Vrydag van 16:00 – 17:00, speel Phil Loots van die mooiste paasliedere voor, gesing deur bekende sangers.

Ook die kinders bly nie vergete nie, en mooi kinder-paasliedere kom ook aan die beurt.

17:00 – 17:30: DAPPER DANIE EN BANGJAN DIE BOELIE, saamgestel deur Christelle van Tonder
Danie kuier die Paasnaweek op die plaas by sy ouma. Hy leer dat boelies eintlik Bangjannies is, en dat hy wat Danie is, baie sterker is as wat hy dink.

 

17:30 – 18:00: IKONE IN DIE KLIPKERK, saamgestel deur Jacqui January
Die woord, ikoon, word deesdae baie gebruik, maar sedert die die vroeë eeue van Christenskap verwys dit na besondere beelde van heiliges. Die ikoonskrif, soos daar na die werke verwys word, word vandag nog met streng reëls, helder kleure en goud-splinters geverf.

Jacqui January gesels met ikonograaf Anna-Marie Bands by die Klipkerk in Johannesburg oor die eeuoue geskiedenis en ryk simboliek van elke lyn en kleur in die ikoonskrif.

18:30 – 19:00: PAASFEES, PAASEIERS EN ‘N LIEFDE VIR SJOKOLADE, saamgestel deur Arehan Brand
Wat is nou lekkerder oor Paasfees as paaseiers? Winkel-paaseiers is so voorspelbaar. Dis dun, en in twee of drie happe is dit verorber.

Arehan Brand gesels met ‘n jong sjokolademaker oor hoe om jou eie kreatiewe tuisgemaakte paaseiers te maak, en dit dan met allerhande lekker dinge te vul. Percy Mogale, gesels ook met ‘n paar jong mense oor hul Paasfees-tradisies, en Stephan Stringer deel ‘n spesiale Paasboodskap.