Zen Boeddhisme en Hari Krishna-monnik in Uit ‘n ander hoek


Hari Vilas Afrikaanse Hare Krishna monnik‘n Voormalige NG-predikant wat Zen Boeddhisme aanhang en ‘n Afrikaner wat ‘n Hari Krishna-monnik word.

Ja, Jean Oosthuizen en sy gaste gesels Sondgaand net na die sewe uur nuus in die program Uit ʼn ander hoek oor Oosterse godsdienste. ʼn Voormalige NG-predikant, Abel Pienaar, vertel waarom Zen Boeddhisme vandag vir hom belangrik is, en Hari Vilas (foto links), voorheen bekend as Herman Brand, praat oor sy spirituele reis vanaf ʼn plattelandse NG-lidmaat tot ʼn jong Afrikaanse Hari Krishna-monnik uit die Hindoetradisie.

#  #  #  #

Uit ʼn ander hoek word van Sondag 3 Julie af 19:00 aand op RSG uitgesaai. In hierdie reeks van 13 programme word openhartig en reguit gesels oor geloof en spiritualiteit.

Die samesteller en aanbieder is die joernalis Jean Oosthuizen. Jean se opdrag was om luisteraars bloot te stel aan nuwe en soms minder bekende en selfs  uitdagende denkrigtings oor spiritualiteit en geloof. Jean se “ op die manier wil ons oop denke bevorder, sodat die gesprek oor geloof sinvol bespreek word, waarna elke luisteraar sy of haar eie gevolgtrekkings moet maak”.

Só kondig RSG die program aan:

Die program is inklusief en nie beperk tot enige spesifieke kerk of geloof nie. Selfs kerklos of kerkloos mense moet kan aanklank vind by die program.

Van die onderwerpe wat bespreek gaan word, is Is evolusie nie ook maar ʼn geloof nie en kan mens evolusie en godsdiens met mekaar versoen? Baie gelowiges aanvaar vandag die evolusieteorie, terwyl sommige meen dit rym glad nie met die Bybel nie.

Ander aktuele sake wat bespreek sal word, is vrae oor die verskillende geloofstradisies wat nie noodwendig deel is van die hoofstroom nie en ook moeiliker onderwerpe waaroor mense wonder soos die vraag waar kom God vandaan? Het God die mens geskep of het die mens God geskep.

In die eerste program op Sondag 3 Julie gesels Jean met sy gaste die digter Lina Spies en die filosoof Willie Esterhuizen oor spiritualiteit en wat dit vir hulle beteken.

Uitn'n ander hoek 2

Jean Oosthuizen, samesteller en aanbieder van Uit ‘n Ander Hoek, prof Willie Esterhuizen en prof Lina Spies, deelnemers aan die eerste program.

Meer oor Jean Oosthuizen

Jean Oosthuizen. Foto: Leanne Stander Foto24 Kaapstad

Jean Oosthuizen. Foto: Leanne Stander Foto24 Kaapstad

Jean Oosthuizen is ʼn joernalis en was onder meer vir tien jaar lank politieke korrespondent by die SAUK. Hy is op die oomblik ʼn vryskutjoernalis en lewer gereeld bydraes vir koerante en tydskrifte en is ook Bestuurder: Webwerf en geïntegreerde sosiale media van die Eugène Marais-stigting in die Paarl. Hy woon in die Strand en hou daarvan om oop gesprekke oor aktuele sake op sosiale media te voer, te filosofeer oor ‘n glasie wyn en het onlangs self ingespring met verbouiings aan sy huis.