Uit ‘n ander hoek weer terug op Sondae


Spiritualiteit buite die tradisionele Afrikaanse hoofstroom is die tema van Jean Oosthuizen se program Uit ʼn ander hoek.Jean Oosthuizen vertel meer oor sy nuwe program:

Magdaleen Krüger het my tydens ʼn gesprek by die Woordfees gevra of ek belangstel om ʼn reeks programme vir RSG te maak oor spiritualiteit buite die tradisionele Afrikaanse hoofstroom. Omdat ek baie belangstel in die geloofsgesprekke wat veral buite tradisionele kerke gevoer word, en soveel belangstelling wek het ek dadelik ja gesê. Dit is ʼn program waar daar eerlik en reguit oor geestelike sake gesels word en nie weggeskram word om ook minder bekende en selfs uitdagende denkrigtings, oor geloof en spiritualiteit op die tafel te sit nie. Ons leef in ʼn diverse omgewing waar mense hulle spiritualiteit verskillend uitleef. Baie mense is onkundig oor hoe ander mense daaroor dink en het nie altyd die vrymoedigheid of veilige ruimte om eerlik daaroor te gesels en vrae te vra nie. Uit ‘n ander hoek  bied aan bekendes en minder bekendes ʼn geleentheid om eerlik en gemaklik oor hulle geestelike pad te praat ongeag hulle geloofsoortuiging. Die program wil graag oop denke bevorder sodat luisteraars hulle eie gevolgtrekkings kan maak. Die program se naam was Lizelle Bruyn van Word Wise Media se voorstel. Dit het onmiddellike byval by luisteraars gevind omdat dit die inhoud van die program goed weerspieël.

Die vorige seisoen se terugvoer was bo verwagting goed. Ek was aanvanklik skrikkerig dat luisteraars die program volksvreemd sal vind, maar was aangenaam verras met die positiewe terugvoer van selfs klein plattelandse dorpe waar mense oorwegend konserwatief is. Omdat daar reguit gepraat word oor sensitiewe geloofsake was daar natuurlik ook mense vir wie dit vreemd was om gekonfronteer te word met standpunte waarmee hulle nie altyd vertroud is nie. Die positiewe terugvoer was baie meer as die negatiewe terugvoer. Ek het selfs van die buiteland en ook van Engelssprekende luisteraars boodskappe ontvang om dankie te sê vir die program. Daaroor voel ek baie gelukkig omdat daar klaarblyklik  ʼn groot behoefte by RSG se luisteraars is om ook buite die tradisionele geloofsraamwerk na te dink oor geestelike kwessies.

My boodskap is eintlik baie eenvoudig. Ek wil graag hê mense moet die vrymoedigheid hê om eerlik en openlik in ʼn veilige ruimte te gesels oor sake rakende spiritualiteit ongeag wat hulle glo en of hulle gelowig is of nie. Dit is nie ʼn program waar uiteenlopende standpunte teenoor mekaar gestel of geweeg word nie maar eerder om vanuit ʼn ander hoek na verskillende standpunte te luister wat nie altyd bekend is nie. Ek hoop Suid-Afrikaners wat na die program luister sal besef ons hoef nie almal dieselfde geloofsoortuigings te deel om respek vir mekaar te hê nie. As die program kan bydra dat meer mense mekaar ruimte gun om eerlik te gesels oor hulle geestelike reis en iets daaruit leer het die program in sy doel geslaag. Die oogmerk is nie om mense anders te oortuig nie maar om groter begrip te kweek vir ander mense se standpunte.

Die nuwe seisoen bestaan net soos die vorige reeks uit dertien programme en is propvol  interessante onderwerpe met nuwe deelnemers. Van die sake wat ons uit ʼn ander hoek gaan bekyk is die debat oor godsdiensbeoefening by skole, die invloed van selfdood op mense se geestelike lewe en waarom daar soveel godsdienstige onverdraagsaamheid by baie mense is. Daar is ook verskeie ander aktuele onderwerpe wat bespreek gaan word soos die vraag of godsdiens nodig is om ʼn morele lewe te leef en die betekenis van religieuse naturalisme. Baie mense gaan steeds kerk toe, sing koor, neem deel aan ‘n godsdienstige bestaan want hulle hou van die musiek en die samesyn maar glo nie meer op die tradisionele manier nie.

Luisteraars moet maar RSG se webwerf en Uit ‘n ander hoek se facebookblad dophou om op hoogte te bly. Daar is verskeie interessante onderwerpe in die pyplyn soos religieuse diversiteit, godsdienstige onverdraagsaamheid en vrae oor die ewige lewe. Een van die gesprekke waarna ek baie uitsien is die rol van hip-hop musiek en rap in spiritualiteit. Ons het oudsher geleer net kerkmusiek soos hallelujas, psalms en gesange is regtig spiritueel. Toe raak gospel gróót. Deesdae besef al hoe meer mense die spirituele waarde van hip-hop en kletsrym. Dit is nie net lawwe lirieke nie maar gaan meeste van die tyd oor belangrike kwessies en leen swaar oor na die geestelike of spirituele. Daar is sommer ʼn hele paar bekende en minder bekende deelnemers wie se stemme ons gaan hoor onder andere André le Roux du Toit (Koos Kombuis) en Simon Witbooi (Hemelbesem) asook die stemme van verskeie ander interessante Suid-Afrikaners van verskillende geloofsoortuigings met interessante sienswyses.