Totsiens Joost!


Joost van der Westhuizen, legendariese Springbok skrumskakel, is vanmiddag aan motorneuronsiekte dood. Hy is in 2011 met die degeneratiewe neurologiese siekte gediagnoseer en het ‘n moedige stryd gestry, al is daar geen behandeling of genesing vir die siekte nie.

Hy het tuis by sy geliefdes gesterf. Hy het voor sy dood gesê hy is gereed om te sterf.

Van der Westhuizen was 45 jaar oud en sou op 20 Februarie 46 jaar oud geword het. Hy is Saterdag in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal in Fourways opgeneem. Hy het tussen 1993 en 2003 89 toetse vir die Springbokke gespeel, baie as kaptein. Afgesien van die Wêreldbeker in 1995, het hy ook die Drienasies-trofee saam met die Bokke ingepalm.

S.A. Rugby beskryf Joost van der Westhuizen as een van die beste Springbokke van alle tye. Van Der Westhuizen is vroeër by die huis oorlede ná ‘n ses jaarlange stryd met motorneuronsiekte. Die president van die Suid-Afrikaanse-unie, Mark Alexander, sê Van der Westhuizen is ‘n inspirasie vir ander mense wat aan motorneuronsiekte ly. Alexander sê hy het in verwondering gestaan oor hoe dapper Van Der Westhuizen was en dat hy nooit gekla het oor sy verskriklike lot nie. President Jacob Zuma en die Minister van Sport, Fikile Mbalula het ook hul innige meegevoel uitgespreek. Die 45-jarige rugbyheld laat sy kinders, Jordan en Kylie, sy pa Gustav, sy ma Mariana en sy broers, Pieter en Gustav agter.

Ons onthou hom soos hy in sy fleur gelyk het toe hy die wêreld se voorste skrumskakel was en voordat motorneuronsiekte hom fisiek afgetakel het.