Daar’s lewe op Mars (dalk?)


Dis die stof waarvan wetenskapsfiksie gemaak word.

Ons weet al lank dat daar eens water op Mars was, maar om bewyse te vind dat daar nog steeds water is, is ‘n reuse wetenskaplike deurbraak. NASA het pas bekendgemaak dat hulle dit wel gevind het. Die sigbare bewyse is lang ‘vingeragtige’ merke op die oppervlakte van die Rooi Planeet. Dié merke is die eerste keer in 2011 waargeneem deur die Mars Reconnaissance Orbiter. NASA het egter onlangs beeldmateriaal ontleed en gesien dié strepe raak langer en donkerder van kleur tussen die laatsomer en vroeg-herfs. Volgens NASA kan die ‘vingers’ die gevolg wees van water op of onder die oppervlakte – moontlik selfs ‘n onderaardse oseaan. Aangesien water noodsaaklik is vir die bestaan van lewe, het die raaisel of daar reeds lewe op Mars is, nou verdiep.

Dis is ‘n raaisel wat mense al dekades lank fassineer. In 2013 het meer as 200,000 vrywilligers aansoek gedoen om lewenslank in ‘n kolonie op Mars te gaan woon. Die Mars One-sending beoog om die kolonie vanaf 2020 op te rig en tot dusver het 100 mense die derde keuringsrondte gehaal. Dit sal ‘n geskiedkundige oomblik wees – die eerste mense om op ‘n ander planeet permanent te gaan woon.

Hollywood het reeds hierdie jaar ‘n fliek met die tema van oorlewing op Mars vrygestel, The Martian. Aanhangers van wetenskapsfiksie sal onthou dat Matt Damon in die fliek Interstellar op ‘n planeet iewers anderkant ‘n swart gat agtergebly het. Maar nou sit hy weer gestrand op Mars in die fliek. (Nota aan self: moet nooit saam meet Matt Damon in ‘n ruimtetuig klim nie.) As jy tyd het kan jy gerus hierdie resensie van die fliek deur ‘n regte ruimtevaarder lees. O ja en die man agter The Martian Ridley Scott het laat blyk dat hy maande al weet van die water op Mars.