Hoe het die sterre-gogga Hennie Maas gebyt?


Hennie Maas (foto regs) vertel self: 
Dit was in 1986 toe Halley se komeet sy opwagting naby die aarde gemaak het. Ek het, soos baie ander mense, gesoek na die voorwerp wat baie aanskoulik moes wees. Dit het my ‘n lang tyd geneem om te besef dat ek nie ‘n komeet met ‘n lang stert gaan sien nie. Ek het my verkyker gebruik om rond te soek. Skielik doem ‘n vae wolkie oor die noordelike horison op. Ek kyk rond maar sien geen ander wolke nie. Ek het nie gedink dis die komeet nie, want waar is die lang roei?

Na ‘n lang gesukkel moes ek uitvind ek sien ‘n ander sterrestelsel – Andromeda. Wat my geïnteresseer het, was die gedagte dat ek lig sien wat 2,4 muiljoen jaar gelede van daardie sterrestelsel af vertrek het. Andromeda is 2,4 miljoen ligjaar weg! – ‘n gedagte wat enige mens onderstebo slaan. Dit is eintlik waar my belangstelling in die sterrekunde ontstaan het – die vlammetjie is toe aangesteek.

Andromeda sterrestelsel

Orion gasnewel – die geboorteplek van sterre

Toe ek in die laat negentig, vroeë twintigs op Donderdagaande ateljee-skof gedoen het, het ek gewonder of ons nie ‘n 5 minute insetsel voor die nege-uur nuus kon gebruik om mense meer van sterre te vertel nie – veral wat te sien is as mens na die sterreveld bo jou kyk.

Ek het toe met Louis Barendse kennis gemaak wat ‘n bedrywige amateur-sterrekundige was. Hy het toe ingewillig om elke Donderdagaand vir 5 minute lank te gesels oor die sterre en planete. Ons het so voortgegaan totdat die eerste halfuur beskikbaar geraak het – en dit was die geboorte van Sterre en Planete!

Ek het intussen ‘n teleskoop aangeskaf. Dis ‘n Celestron 8 duim reflektor teleskoop wat redelik draagbaar is. Ek het gou uitgevind dat dit beter is om effe groter te gaan met jou teleskoop want later is jy dalk spyt as jou teleskoop te klein is.

Louis Bardendse was as’t ware ‘n permanente gas in die alteljee. Later het Faan le Roux bygekom. Ongelukkig is altwee reeds oorlede. Prof Matie Hoffman van die Boyden sterrewag en Willie Koorts van die Suid-Afrikaanse Astromiese Observatorium het hulle plekke geneem. Later het die son- weervoorspeller, Kobus Olckers, by die span aangesluit en vir die afgelope twee jaar al – Dr Japie van Zyl, Direkteur Sonnestelsel Eksplorasie van die Jet Propulsion Laboratory in Kalifornië. Japie het ‘n heel nuwe dimensie aan die program gegee want hy staan aan die voorpunt van ‘n span wat diepgaande ruimtenavorsing doen.

Ek dink een van die redes waarom die program slaag is dat ons op voetsoolvlak gesels oor dinge wat baie ingewikkeld kan wees en dat mense soos Prof Hoffman, Willie Koorts, Kobus Olckers en dr. Japie van Zyl, bereid is om hulle kennis met ons te deel.

Ek het intussen ook so ietsie van die sterrekunde geleer – in so ‘n mate dat ek dikwels op uitnodiging praatjie- en sterre-aande hou. Dit het my al geneem na plekke soos Boetsap, Lambertsbaai, De Rust, Wakkerstroom, Stella en heelwat ander plekke.

Ek het die wonderlike voorreg om met mense te werk wat veel meer as ek weet. My tog deur die wêreld van sterrekunde duur elke dag voort, want daar is soveel meer om te leer. Dit bly ‘n hoendervleis ondervinding as jy na die gesigsuitdrukking kyk van iemand wat die kraters op die maan vir die eerste keer deur ‘n teleskoop sien. Hoe meer jy weet, hoe meer besef jy hoe min jy weet. Daar is sekerheid in die ewigheid!

Saturnus