Bruidsfoto vind die bruid… deur RSG!


‘n Luisteraar, Schwess Keyser, koop onlangs ‘n foto van ‘n bruid vir R30 by ‘n hospies-winkel op Stellenbosch. Sy wonder toe sommer wie sou die bruid wees en hoe sou die foto by die hospies-winkel beland het?

Die foto van die bruid wat ‘n luisteraar by ‘n hospies gekoop het.

Die foto van die bruid wat ‘n luisteraar by ‘n hospies gekoop het. Die luisteraar wonder toe wie die bruid is, en die soektog begin via RSG

Sy skryf vir RSG en vra of ons dalk die foto op www.rsg.co.za wil plaas, want dalk kan ons só uitvind wie die bruid is. Amoré Bekker praat toe een middag in Tjailatyd (luister na die klanksnit hieronder) met Schwess en RSG se webmeester laai toe die foto by Ooggetuie.

Kort voor lank kry Amoré  ‘n e-pos van die bruid…..weliswaar effe ontsteld omdat haar troufoto op RSG se webtuiste is. Die bruid op die foto is toe Tilda Schoonwinkel van Stellenbosch. En toe praat Amoré die volgende middag ook met die bruid. Luister na klanksnit:

Die uiteinde is dat die bruid op die foto, Tilda Schoonwinkel en Swess Keyser, wat die foto gekoop het, toe mekaar ontmoet het oor ‘n koppie koffie op Stellenbosch.

Tilda, wat al meer as 30 jaar gelukkig getroud is, gaan opnuut die kiekie, waaroor die hele Boland nou gons, raam en in haar strandhuis hang.

Só het die storie ontvou nadat die bruid as Tilda ge-eien is:

Op Donderdag, 23 Julie 2015 het Amore geskryf:

Hallo Tilda,
Schwess Keyser het my gekontak, sy het jou foto gesien by die Hospitium op Stellenbosch se winkel. Jou foto het haar so geraak, en sy het gevoel sy
soek die eienaar van die foto om dit vir haar terug te gee.

Sy het dit gekoop vir R30, en sy wou dit graag vir die eienaar teruggee.

Ek het dit op ons webtuiste laat sit, om die eienaar te soek.

Kan Schwess dit vir jou pos? Indien jy dit sou wou hê?

Dalk is daar ‘n storie wat jy met ons wou deel?

Groete
Amoré

Tilda se antwoord en storie oor die foto in haar eie woorde:

“Dankie vir julle moeite en besorgdheid!  Ja, dit is baie interessant hoe ver julle mense bereik deur RSG!

My pa is onlangs oorlede en die foto van my troudag het in sy huis gehang en ek het dit saam met ander (leë! 😃) fotorame en heelwat ander items na ons plaaslike hospies-winkel geneem. Hulle verkoop die items en dit is waar die fondse vandaan kom wat hulle gebruik om mense wat terminaal siek en bedgebonde is, te ondersteun. Hulle het ook vir ons gehelp toe my Pa terminaal siek was.

Ek het eintlik gedink iemand sal die effens beskadigde foto kan gebruik om ‘n nuwe foto op te blok. Ek wou dit nie regtig in my huis ophang nie!

Die besonderhede hoe dit op RSG beland het, het ek eers heelwat later gehoor.

Dis die interessante deel van die storie:  ‘n skoolvriendin van my moes gister in die bed bly met griep en sy het na julle geluister en ook die foto gaan “opkyk ” – seker om te sien of sy kon raai wanneer die bruid getroud is. Sy het my herken – oulik van haar!

Terloops dit was einde 1979 – Baie goeie raaie van die luisteraars oor die modes van daardie tyd.

Sy het gelukkig nog kontak met my broer gehad en hy het my later laat weet dat ek op RSG se Ooggetuie fotos verskyn. Dit was nogal ‘n verrassing vir my en daarom het ek vir julle epos gestuur. Ek het eers later besef dat die foto saamge’reis’ het na die hospies!

Die beste van alles – ek is vir meer as 30 jaar al gelukkig getroud en dis baie meer werd as die R30 vir die foto!

Baie groete en ons geniet Tjailatyd altyd baie.

Tilda

Ek sal graag vir Schwess ontmoet maar sy kan my gesiggie maar toeplak. ”