Eenpothoender


Heleen Meyer se plan met eenpotgeregte om krag te spaar.
Die winter lê om die draai en loer. En as mens aan winter dink, dan is koesterkos beslis al hoe meer ‘n opsie. Ek is dol oor ‘n plat bakkie-bord, soos vir pasta, gevul met ‘n souserige gereg van vleis en groente wat ek met ‘n mes en vurk of dalk selfs net ‘n vurk kan geniet. Daar is vele geregte wat ‘n mens so kan geniet, maar as dit nog vinnig en maklik ook is om te maak, is dit eens so lekker.

Met gereelde kragonderbrekings en beurtkrag, moet ‘n mens ook deesdae mooi beplan vir aandete. As jy dus iets kan maak wat in een kastrol voorberei kan word, is selfs ‘n gasstofie ‘n opsie. As jy ‘n elektriese braaipan het, is hierdie die ideale resep om (voor beurtkrag) daarin te berei, want die bestanddele lê langs mekaar en nie bo-op mekaar gestapel nie. Alles word dus egalig gaar. Dalk is dit vir jou makliker om iets vooraf te maak en net weer voor ete te verhit. Hoe jou dag ook al sy, hierdie hoendergereg is ideaal daarvoor.

RSG 25 Mei 2015 Mediterreense hoender

Met ‘n basiese kombinasie van hoenderporsies, tamatie, vars kruie en ‘n paar Mediterreense bestanddele, soos kappertjiesade en olywe, is hierdie ete selfs perfek om gaste mee te onthaal. Wat ek verder hiervan geniet, is die veelsydigheid daarvan. Jy kan kreatief wees met die groentes wat daarby gebruik word. Soteer byvoorbeeld sampioene saam met die soetrissies of sny botterskorsie in klein blokkies, verdubbel die vloeistof en prut die botterskorsie saam met die hoender tot die gaar is. Dit gee die gereg ‘n effens soeter en heel interessante geur en só kan dieselfde resep ‘n paar keer herhaal word. Met botterskorsie as deel daarvan, hoef jy ook nie eers nog ‘n stysel gaar te maak nie – geniet dit net so as eenskottelgereg.

Waarvan hou ek nog? Die feit dat ek net een kastrol het om na die tyd te was – so spaar ek sommer water ook.