Ivor Price is die nuwe Monitor-anker


Ivor Price is die nuwe Monitor-anker in Cobus Bester se plek. Cobus het ná jare by die SAUK afgetree.

‘n Paar feite oor Ivor:

  1. Ivor het in Desember 1999 as studentjoernalis by Die Burger begin naam maak.
  2. Die eerste koerantberig onder sy naam is al op 14-jarige ouderdom gepubliseer.
  3. Hy was langer as ‘n dekade by Media24, en het onder meer in 2005 tyd in Londen deurgebring as buitelandse korrespondent vir die Afrikaanse koerante.
  4. Die radio-gogga het in 2010 gebyt toe hy as Befonk-aanbieder begin het.
  5. Buiten sy radiowerk is hy ook bekend as nuusleser op SABC2.
  6. Ivor is verlede jaar by die ATKV se Mediaveertjies benoem as beide beste TV-nuusleser en aanbieder van ‘n radio-nuusprogram.

Só sê Ivor self oor die nuwe uitdaging…..

“Dis ‘n voorreg om agter die Monitor-mikrofoon in te skuif. Dis ‘n program waarmee ek kleintyd grootgeword het. Die radio in die kombuis was altyd op RSG ingeskakel, en ons het soggens voor skool die jongste nuus saam met die Jungle Oats ingekry. Ek het ook lank gedroom oor die geleentheid om saam met Anita Visser te kan aanbied. Sy’s ‘n kundige joernalis en uitsaaier, en saam met die res van die Monitor-span sien ek daarna uit om luisteraars op hoogte te hou van al die nuus wat saak maak. Ek sien uit na lekker in-diepte gesprekke elke weeksoggend. Nou moet ek net aan die vroeg opstaan gewoond raak – sal maar drie wekkers moet stel!”

Ivor Price agter die mikrofoon

Ivor Price agter die mikrofoon