Voorlesing: ‘Die swye van Mario Salviati’


Die akteur en stemkunstenaar Chris van Niekerk is die voorleser van RSG se splinternuwe aand-boekvoorlesing van Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati. (Luisteraars sal Van Niekerk onder andere onthou as die voorleser van die onvergeetlike Fees van die ongenooides deur PG du Plessis op RSG).

Die swye van Mario Salviati, wat tans weekaande om 19:20 voorgelees word, is destyds met die M-Net-prys vir prosa en die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Dit handel oor ‘n jong gefrustreerde kunstenaar wat by ‘n kunsmuseum in Kaapstad werk en dan gestuur word om ‘n gesogte beeldhouwerk op die dorpie Tallejare aan die rand van die Moordenaarskaroo te gaan koop.

Tydens haar verblyf word sy geboei deur stories uit die verlede; stories oor water wat opdraand loop, oor fabelagtige rykdom uit volstruisvere, en oor Goudseput, waar die verdwene Kruger-ponde glo begrawe lê.

Dis ‘n roman oor gierigheid en versweë skande; oor die verlede as gevangenis; oor mense wat hul andersheid ly. Dit is ook ‘n roman oor kunstenaarskap en bevryding.

Etienne van Heerden vier op 3 Desember vanjaar sy sestigste verjaardag en Die swye van Mario Salviati is ook onder andere in Russies, Grieks, Frans, Duits, Nederlands en Engels vertaal en was ‘n topverkoper in die buiteland.

Die regisseur van dié besonderse boekvoorlesing is Joanie Combrink.

Klik die skakel hieronder om te luister na ‘n uittreksel.