Aankondiging: RSG se nuwe programme!


Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, het pas nuwe programme en programverskuiwings op RSG bekend gemaak wat op 13 April in werking tree – alles, soos sy dit stel “om jou nog beter radio te gee.” Só het sy dit aangekondig.

Magdaleen Kruger

Magdaleen Kruger

Nuut: ‘n Nuwe Middag op RSG met twee jong aanbieders
Die ingrypendste, en ons dink ‘n opwindende verandering, is die nuwe Middag op RSG weeksdae van 12:00 – 14:45. Ettienne Ludick en Sue Pyler gaan van 12:00-13:00 en weer van 14:00 – 14:45 vir jou geselskap hou met stories oor mense en dinge, die jongste tegnologie, vermaaknuus, musiek en allerhande ander interessante brokkies.

Ettienne Ludick, mede-aanbieder van die nuwe Middag op RSG

Ettienne Ludick, mede-aanbieder van die nuwe Middag op RSG

Sue Pyler, nuwe mede-aanbieder van die nuwe Middag op RSG

Sue Pyler, nuwe mede-aanbieder van die nuwe Middag op RSG

Op ‘n Woensdag gaan Anoniem se brief steeds in hierdie gleuf gelees word, maar hierdie keer gaan hy nie noodwendig ‘n wag voor sy mond sit nie; inteendeel, ek vermoed hy gaan glad nie.

Regsake en ander hulpprogramme verskuif weekdae na 11.30
Met dié dat Ettienne & Sue se skof weeksdae 12:00 begin, skuif die hulpprogramme wat tans om 12:00 uitgesaai word, ‘n halfuur vroeër na 11:30. Dis nou Regsake (Maandag), Finansies, Werksoek & Entrepeneurs (Dinsdag), RSG Gesondheid (Woensdag), Groeipyne (Donderdag) en Wie is Ek? (Vrydag).

Boekvoorlesing nou soggens om 10.45
Dit bring alles mee dat die oggendboekvoorlesing skuif na 10:45. Verdere interessante nuwe dinge kom ook in Meimaand in Oggend op RSG, soos die nuwe daaglikse Maandag tot Vrydag kitsstorie – ‘n vervolgverhaal van 5 minute elke weeksoggend 09:55.

Willem Pelser en Renske Jacobs op Goeiemôre op RSG
Voordat ons na Tjailatyd en Sondag se veranderinge gaan, skuif ons net gou nog vroeër weeksoggende. Ettienne Ludick verlaat Goeiemôre op RSG (Woensdag tot Vrydag 05:00-08:00) en Willem Pelser skuif in sy plek in. Renske Jacobs sluit dan permanent by Goeiemôre op RSG aan op Maandag en Dinsdag 05:00 – 08:00. Spits jou ore vir hulle nuwe insetsel Die een of Daai een.

Willem Pelser, aanbieder van Goeiemôre op RSG

Willem Pelser, aanbieder van Goeiemôre op RSG

Renske Jacobs. Jy gaan haar voortaan soggens in Goeiemôre op RSG hoor.

Renske Jacobs. Jy gaan haar voortaan soggens in Goeiemôre op RSG hoor.

Nuwe dinge in Tjailatyd
Nou skuif ons verder in die dag na Tjailatyd weeksdae 15:00 – 18:00. Nurse Nettie gaan daar wees, Dink Dave ook en Nataniël. Dave gaan wyer dink as net groen en Nataniël gaan dalk die net wyer gooi as net etiket.

Amore Bekker is op haar pos op Tjailatyd, met 'n paar vernuwings

Amore Bekker is op haar pos op Tjailatyd, met ‘n paar vernuwings

Mariëtta Kruger, ook weer op haar pos inTjailatyd

Mariëtta Kruger, ook weer op haar pos in Tjailatyd

Rekenaarrubriek verval, maar Tjailatyd sal steeds aan tegnologie aandag gee; trouens, daar gaan nou ‘n digitale regisseur wees wat gaan sorg vir sosiale media en ander digitale tegnologie.  Slegs Mans verval, resepte gaan so bietjie ander kinkels bykry en Mariëtta Kruger gaan vir Blitsbrein sorg.  En bly maar ingeskakel, want ons gaan soms ook Mariëtta en Amoré se breine toets vir blitsheid!

 Befonk kry nou elke aand ‘n spesifieke fokus
Befonk, RSG se jeugprogram van Dinsdag tot Vrydag 19:30, gaan spesifieke onderwerpe op spesifieke aande hanteer. Die teikengehoor vir Befonk is graad 10 tot eerste jaar na skool.

  • Dinsdag is leerplan-gerig – dit is dieselfde as die Hersieningsprogramme elke jaar, maar nou gaan ons dwarsdeur die jaar elke maand op ‘n vak fokus.
  • Woensdag is loopbaan-gerig.
  • Donderdag is kort insetsels oor kwessies wat die teikengehoor mee worstel, soos dwelms, swangerskap, gesondheid, boelie, gewelddagige ouers, kritiese ouers, misdaad, drank ens.
  • Vrydag is kort insetsels en gesels oor die teikengehoor se dinge – belangstellings/trends/vermaak/tegnologie/ buitemuurse aktiwiteite/presteerders/ modes/ skoonheid/musiek ens.

Sondagmiddae en -aande: oldies begin vroeër en ander skuiwe
Sondag se middag- en aandskedule kry ook so ‘n paar aanpassings. Die gewilde Sondag met Fritz, waar hy populêre herinneringsmusiek uit die 70’s en 80’s speel, begin reeds net na die 13:00 nuus op ‘n Sondag. Die programme wat tans daar aangebied word, skuif na later die middag. Ons & die Onderwys skuif na 16:30, Rand & Sent na 17:00, Leefwêreld van die Gestremde na 17:30 en Ekoforum val weg. Natuurbydraes sal wel nog gedoen word, maar verspreid oor die programskedule in ander skofte uitgesaai word.

Die baie gewilde Fiks vir die Lewe inbel-hulpprogram wat Sondag laataande uitgesaai is, skuif op baie luisteraarsversoeke na Sondagaande 19:00 tot 19:40. Sterre & Planete is dan van 19:40 tot 20:00.

Loslip groet
Om af te sluit…….jy het seker nou al agtergekom dat die middag-inbelprogram (eers Sê Wie en toe Loslip) ná altesaam by die 20 jaar op lug, se skakelbord toemaak. Dié inbelprogramme het ‘n platform gebied vir luisteraars om saam te gesels oor enige-iets op aarde. Soms was daar hartseer, ander kere is reguit gepraat en uit die maag gelag en ander kere kon luisteraars en aanbieders mekaar sommer die josie in maak. Dit was in ‘n tyd toe briewekolomme in koerante en inbelprogramme by radio die enigste uitlaatklep was vir die menings van lesers en luisteraars oor sake van die dag en ditjies en datjies. Deesdae is daar egter soveel nuwe en ander platforms waar jou menings binne sekondes die wêreld oor gehoor en gelees kan word. RSG gaan steeds van tyd tot tyd vir kort rukkies die lyne oopgooi vir menings oor omstrede en minder omstrede sake van die dag.

Ek hoop jy hou van die veranderinge en dat dit jou opnuut weer vasgenael sal hou aan RSG, waar en hoe jy ookal na jou stasie luister. En hou maar jou ore oop vir ‘n splinternuwe stasiekenwysie met verskeie variasies. Só klink

Oggend op RSG s’n

en só klink die variasie vir Tjil.

Groete, Magdaleen (Stasiebestuurder)