Hartebreker kruip in luisteraars se harte

Hartebreker kruip in luisteraars se harte


Hartebreker is besig om diep in luisteraars se harte in te kruip, want elke 5-minute-lange episode loop oor van intrige, spanning, komedie, onverwagse kinkels en romanse.

Dit blyk dat veral die mini-vervolgverhaal-formaat, waar die verhaal snel beweeg en net so lank duur soos om ʼn koppie tee te drink, in luisteraars se smaak val.

Die storie vier binnekort sy 300ste uitsending en van Suid-Afrika se voorste spelers gee gestalte aan die reeks uiteenlopende karakters.

Luister hier na ‘n episode.

0008870_150_215dirkVoor in die koor sing Henriёtta Gryffenberg (foto links) as die verwaande Colette-Mari Greyling wat die leivore in ʼn rustige Karoodorp laat vries wanneer sy haar humeur verloor.

Maar die aantreklike en bekkige sjef, Bart Jacobs (Dirk Stoltz, foto regs)  van Die Volkskombuis troef haar kort-kort met pittige sȇgoed wat selfs haar skeermesbekkie snoer. En dan lyk die man nog boonop so goed sonder ʼn hemp ook! Dit laat Colette sprakeloos – en dit gebeur nie aldag nie.

sr0907cover_sparkel-533x800charlie_2Maar nog erger: die bibliotekaresse, Nadia Cilliers, (Rolanda Marais, foto regs van SARIE tydskrif)) worstel met die dorp se hartebreker, Sebastiaan, (Charles Bouguenon, foto regs) se donker verlede wat hom uiteindelik ingehaal het.

Hoe liewer sy vir hom word, hoe meer onwaarskynlik raak die verhouding, veral wanneer ʼn geheimsinnige vrou uit sy verlede opdaag en verantwoording van hom eis.

Sebastiaan en sy broer, Zirk, is vyeboere, maar dinge tussen die broers loop nie altyd so broederlik soos mens sou verwag nie.

mari_molefe_propicmaxresdefaultEn dan is daar Shoki Molefe (Mari Molefe van Heerden, foto links) en Kardoesie Calitz (Solomon Cupido, foto regs) wie se geheime verhouding dramaties ontmasker word en tot groot probleme lei.

Maar die hart wil hê wat die hart wil hê.

Zak0067604_150_215Moenie vergeet van Zirk (Zak Hendrikz, foto links, broer van Sebastiaan en die man wat afgemete praat asof hy James Bond is), en die wulpse Beverley (Cindy Swanepoel, foto regs) nie. Want net toe luisteraars begin dink Colette-Mari is klei in die hande van Zirk, raak hy verloof aan Beverley.

Daar is elke maand groot pret in die SAUK Drama-ateljee wanneer die spelers bymekaarkom om op te neem, en toe die 300ste episode onlangs gevier is, het almal gevoel dat hulle wil wys hoe hul karakters lyk aan wie luisteraars so geheg geraak het. Dit kort nadat die sjampanjeproppe gepop het.

Hierdie romantiese spanningsverhaal, met liberale skeutjies komedie, word daagliks om 10 voor 10 in Oggend op RSG uitgesaai. Leon van Nierop is die skrywer en regisseur. Hy word ook soms gehoor as die neurotiese bleeksiel Petrus wat op Nadia verlief is, maar haar nooit sal kan kry nie.

#  #  #  #

Dis hoe ons sowat ‘n jaar gelede oor ons nuwe kitsstorie berig het.

29 Julie 2015. – Nadia Cilliers het genoeg gehad. Haar bibilioteek met al sy boeke is tydens diensleweringsprotes afgebrand. En die geweld in die stad is net té veel vir haar. Toe trek sy…..

Lees meer oor RSG se splinternuwe kitsstorie Hartebreker elke weeksoggend 09:50 in Oggend op RSG.

Sy trek Karoo toe waar sy net in rus en vrede wil woon. Tot sy twee aantreklike vyeboere naby die Swartbergpas ontmoet en kennis maak met die diva van die dorp, Colette-Mari, by wie sy ‘n huisie huur.

Groot is haar verbasing wanneer sy eendag die sleutel tot haar huurhuis se solder kry en dit oopsluit. Nes Pandora destyds, sluit sy ‘n hele boks vol intrige, geheime, komedie, hartseer, romanse en drama oop wat haar vir ‘n leeftyd sal besig hou!

Leon van Nierop se Hartebreker is ‘n splinternuwe reeks wat weeksoggende op RSG gehoor kan word. Dié reeks begin op Maandag 3 Augustus om 09:50 in “Oggend op RSG”.

Luister na ‘n klankgreep uit Hartebreker:
HARTEBREKER klankgreep

Die hoofrolle word vertolk deur die room van Afrikaanse spelers waarvan die meeste hier vir die eerste keer op Afrikaanse radio in ‘n vervolgverhaal gehoor kan word. Die bekroonde aktrise Rolanda Marais speel die hoofrol van Nadia Cilliers, terwyl nuweling Charles Bouguenon die rol van die hartebreker Sebastiaan speel.

Radio-nuwelinge soos Zak Hendrikz, Solomon Cupido en Cindy Swanepoel (al drie bekend om hul rolle in die rolprent Ballade vir ‘n enkeling) asook Henriëtta Gryffenberg (bekend as die skrywer van TV-reekse soos High Rollers en Erfsondes) en Duncan Johnson tree ook in die verhaal op.

Dit is Leon van Nierop se eerste oorspronklike verhaal sedert Ballade vir ‘n enkeling (die rolprent) en sy roman Adrenalien wat pas verskyn het.

RSG se Hartebreker spelers

Foto: Die spelers sluit in Rolanda Marais, Cindy Swanepoel, Duncan Johnson, Zak Hendrikz, Solomon Cupido, Leon van Nierop (die skrywer en regisseur van Hartebreker), Henriëtta Gryffenberg en Charles Bouguenon.