Hoor jou eie radiodrama op lug


‘n Volle R50 000 in prysgeld is weer op die spel in vanjaar se RSG EN SANLAM RADIODRAMA-SKRYFKOMPETISIE.

Die wenner van dié kompetisie sal R22 000 ontvang, die naaswenner R12 000 en die wenner van die derde prys R8000. Daar is ook ‘n prys van R8000 vir ‘n skrywer jonger as 30 jaar.

Met geen voorgeskrewe tema nie, bied dit jou vrye teuels om enige onderwerp te takel, solank dit net ‘n nuwe en oorspronklike radiodrama is.

Die kompetisie fokus slegs op radiodrama. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stukke wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie. Romans, kortverhale, gedigte asook lirieke vir liedjies sal gediskwalifiseer word.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een drama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 55 minute wees – sowat 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is. Die sluitingsdatum is Maandag 20 Julie 2014.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

Daar sal ook gratis slypskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal op RSG (100 tot 104 FM) aangekondig word.

RSG ontvang jaarliks tussen 100 en 130 nuwe radiodrama-tekste vir dié gewilde kompetisie.

Verlede jaar se wen-dramas word vanaf April op Donderdae om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai. Die seisoen begin op 2 April met ‘n regstreekse uitsending van Radioteater van die KKNK in Oudtshoorn. Die wen-dramas word van 9 April gehoor.

Luister na Vryslag – luister na 2013  se wendrama Vryslag deur Marcel van Heerden op potgooi.

Die handleiding kan ook per e-pos aangevra word. Kontak Margaret Theunis gedurende kantoor-ure by 011 714 2018 of stuur ‘n e-pos aan margaret@rsg.co.za