Spesiale Kersdag-programme


kersfeesElke Kersdag bied ons vir jou ‘n reeks inspirerende en verkwikkende programme aan om die dag te vier.

Ons wou die gees van vrede saamvat in ons spesiale Kersdagprogramme, en nadat ek na die opnames geluister het, moet ek krediet gee aan Terrance April, RSG se programbestuurder, want hy het ‘n aanvoeling soos min vir spesiale programme. En natuurlik ook erkenning aan die programmakers.

Enkele hoogtepunte wat Kersdag op jou wag
Oggendprogramme
Tharien Oosthuizen is reeds vroegoggend net na 05:00 aan die woel met OGGENDSTEMMING en dan ‘n Somerkersfees net na die 08:00 Nuus en Weer. Luister na ‘n greep uit ‘n Somerkersfees:

 

Hier is ‘n greep uit  die program LOOF DIE HERE:

 

Middagprogramme
Die Kersdrama Met Kersfees so naby deur Willem Fransman junior word om 13:00 uitgesaai. Luister na ‘n uittreksel uit Met Kersfees so naby:

 

André Kotze se drama, Kersbestemming, word om 15:00 uitgesaai. André is die wenner van RSG en Cordis Trust se Christelike radiodrama-skryfkompetisie. Kersbestemming is ‘n roerende, moderne Kersverhaal wat jou sal meevoer. Die regisseur is Helena Hugo en die spelers sluit bekendes in soos Eloïse Cupido, André Stolz, Lochner de Kock en Duncan Johnson. Dié drama word weer om 20:00 op Kersdag herhaal.

Aandprogramme
Wouter de Wet kies weer n paar opnames uit sy privaatversameling onder die titel MY KEUSE. Dit kom om 21:10 aan die beurt.

RSG gaan ook nie die jonger luisteraars afskeep nie. Monnik Heinrich se Kersfees word saamgestel deur Christelle van Tonder en sal om 18:10 uitgesaai word. Later sal die tieners in ‘n spesiale BEFONK om 19:30 hul indrukke oor Kersdag kan gee. Luister na ‘n uittreksel uit Monnik Heinrich se Kersfees:

 

Ons hoop dat jy saam met ons die dag op ‘n besonderse manier sal vier met hierdie uithaler programme vir Kersdag 2014.