Koebaai Meraai vir Loslip


‘n Tyd om te kom, en ‘n tyd op te gaan…, skryf Ian Wessels.

Mense spot gereeld dat Loslip se luisteraars hulle Bybels só goed ken dat hulle altyd ‘n “gepaste” versie gereed het – maak nie saak of die onderwerp oor kernkrag of haute cuisine resepte gaan nie. Gelukkig maak dit mos nie regtig saak of die Bybelversie wel oor die onderwerp gaan nie? Vir baie inbellers maak die dag se onderwerp dan nie eers regtig saak nie!

Ian Wessels altyd op sy stukke

Ian Wessels altyd op sy stukke

Afhangend van wat jy daarmee wil motiveer, is sommige versies egter wel relevanter as ander. Ek het byvoorbeeld skuldgevoelens begin ontwikkel omdat ek nooit die wilskrag kon bymekaarskraap om saam met die vromes te gaan draf nie. Gelukkig kon ek dit met blymoedigheid finaal begrawe, nadat ek by ‘n luisteraar gehoor het daar staan uitdruklik geskrywe: “Die goddelose hardloop rond sonder dat iets hom jaag…”

Vir my is die mees gepaste versie na ses jaar as aanbieder van Loslip dat daar ‘n tyd is om te kom en ‘n tyd om te gaan. Vir Loslip breek die tyd om te gaan op 10 April aan. Ek voel nogal trots dat ek die eerste en enigste voltydse aanbieder van die program was. RSG kon maklik bloot iemand anders gekry het om dit steeds aan te bied, maar gelukkig is my tyd om te gaan nie saam met Loslip s’n verby nie.

Ek verlaat RSG allermins. Vir die huidige gaan ek voort om Regsake op Maandae aan te bied. Anoniem se briewe het soveel reaksie uitgelok, dat ek dit ook steeds sal lees, maar nou net op Woensdae. Daar is ‘n hele paar aandprogramme vir die res van die jaar in die beplanningsfase, so hou RSG se nuusbrief dop vir toekomstige aankondigings. Sodra die kontrakte geteken is, sal ons ook die sluier lig oor ‘n humoristiese boek wat ek en RSG saam beplan. Tussen-in staan ek graag in waar ‘n omroeper nie beskikbaar is nie.

Natuurlik gaan ek die spitsvondighede van talle luisteraars mis. Hulle insig was ook dikwels stof tot nadenke, maar ek gaan die haatpos selfs meer mis! Dit was altyd amusant om te sien hoe die klaer hom onwetend ontbloot, spelvoute en al! Kom ons erken dit nou maar: Jy kan haat, of jy kan spel, maar altwee saam? Nie sommer nie!

Die een ding wat my die afgelope ses jaar opgeval het, is hoe mense toenemend meer negatief en swartgallig geword het. “Perspektief” is vir my ‘n kragtige woord wat gans te min gebruik word. Derhalwe het ek hieroor begin oplees, navorsing en kursusse gedoen in ‘n poging om mense meer perspektief en nuwe hoop te gee. Die resultaat was dat ek verskillende motiveringspraatjies ontwikkel het om die jeug, gemengde gehore en die korporatiewe sektor te help om suksesvoller en gelukkiger te wees. Ek sien dit as my roeping om mense met ‘n mengsel van lekker lag en maklike praktiese wenke weer met nuwe hoop te inspireer, en ek sal my ekstra vrye tyd na Loslip graag wil gebruik om hiermee ‘n groter verskil in mense se lewens te maak. Ons het mos almal ‘n hoër doel nodig.

Ek sal graag kontak met luisteraars wil behou. As jy dalk in die toekoms steeds wil vra hoe dit met my gaan, kan jy dit mos nie meer op die lug doen nie? My e-posadres by RSG bly ian@rsg.co.za of volg my op Vuisboek of Twitter. Die maklikste manier om op die regte bladsy te eindig, is om by die regte een te begin – my blog by www.ianwessels.com.

Vir nou sê ek dankie aan almal wat ooit deel van Loslip was. Elke bydrae het op een of ander manier gehelp om my toekomspad te slyp en my voor te berei vir nuwe uitdagings. Saam met Loslip eindig ‘n era van inbelprogramme op 10 April, en die 13de begin Ettienne Ludick en Sue Pyler ‘n nuwe era. Hulle neem Middag op RSG oor, met Veronique as kreatiewe regisseur, en ek glo hulle gaan nog duisende nuwe ore vir RSG wen!

En laastens aan RSG se bestuurspan – dankie vir die geleentheid om nuwe uitdagings saam met julle aan te pak. Ek wil graag aanhou voel soos wat ek gevoel het toe ‘n jong meisie een keer na ‘n vertoning diep in my oë kyk en met verwondering sê: “Dis jy! Almal op RSG praat van jou!” Toe sy die vraagteken in my oë sien, klaar sy dit op met: “Hulle sê almal: Jy’s die Ian!”

Wel, ek is nog hy!