Laat waai met ons nuwe blokraai


Terwyl almal hard oefen om hulle lywe reg te kry vir die stand, hoekom doen jy nie dieselfde met jou verstand nie? Dis weer tyd vir RSG se interaktiewe, digitale Blokraaisels waar luisteraars groot pryse kan wen.  Die “E-Blokraaisels” sal weer op ons webwerf beskikbaar wees, van waar Blokraai-liefhebbers dit op hul rekenaars of tablette kan invul.

Soos met RSG se baie gewilde eerste reeks elektroniese Blokkiesraaisels van verlede jaar, sal daar weer ‘n weeklikse wedstrydvraag aan elke raaisel gekoppel word.  Sommige blokkies in die raaisel, word van sirkels voorsien, en die letters in die ingevulde sirkelblokkies, vorm die antwoord op ‘n afsonderlike leidraad.  Luisteraars kry dan die geleentheid om hierdie enkele antwoord per SMS na RSG te stuur om in aanmerking te kom vir die weeklikse prystrekking.  (Volledige instruksies en besonderhede sal saam met die Blokraai op die webwerf beskikbaar wees).

Waar die vorige RSG-reeks die tradisionele swart-en-wit Blokkiesraaisels was, met die leidrade afsonderlik verskaf,  gaan ons hierdie keer die baie gewilde alternatiewe Blokraai-formaat gebruik, waar die leidrade vir elke antwoord binne-in die blokkies verskyn.

RSG het, soos die vorige keer, weer hande gevat met die ervare span Blokkiesmense by XWord, onder leiding van Anina Roux.   Haar naam is al dekades lank sinoniem met ‘n allerhande soorte uitdagende woordraaisels.

Vanaf Maandag 20 Oktober sal daar dan elke Maandag ‘n nuwe E-Blokraai op www.rsg.co.za gelaai word. Wenners sal elke Vrydagmiddag in Tjailatyd bekendgemaak word.