Met radio kan jy enigiets doen, glo nuwe Ratels-spelers


RSG se langlopende vervolgverhaal het ‘n inspuiting van energie gekry met ‘n hele span nuwe Ratels, van links: Francois van Rensburg as Vincent, Emil Haarhoff as Abel, Christopher van der Westhuizen as Klaasvakie, Luan Jacobs as Loekie, Christine Voorendyk as Rozanne, die regisseur en skrywer Leon van Nierop, Casper Lourens as Handre, Jaco Snyman as Neels en Saskia Pocock as Mienkie.

“Ek het glad nie verwag dat dit so lekker gaan wees nie. Radio het soveel potensiaal. Jy hoef regtig nie binne die boks te dink nie. Jy kan (met radio) enigiets doen.” So gesels Casper Lourens (17) van die Hoër Volkskool in Potchefstroom wat deesdae die rol van Handre in Ratels (elke Maandag om 19:30) vertolk.

Lourens, Saskia Pocock (17) van die Hoërskool Monument in Krugersdorp en Christopher van der Westhuizen (15) van Hoërskool Randburg is drie splinternuwe stemme en karakters in Leon van Nierop se Ratels.

“Dit is vir my ‘n absolute nuwe ervaring,” vertel Pocock wat die rol van Mienkie vertolk. “Dit was baie interessant om te sien hoe al die geluide gemaak word. Ek het gedink ‘n mens sê net goed op.”

Christopher van der Westhuizen het pas sy sestiende verjaardag gevier en beskryf die lekkerste deel van Ratels as volg: “as ons ‘n scene kan hê sonder ‘n fluff.” Vir hom is dit ‘n groot eer om een keer ‘n maand die skoolbank vir die radio-ateljee te verruil. “Dit is ‘n ongelooflike ervaring om met die akteurs en Leon te kan werk en by hulle te kan leer.”