Dramaskryf-slypskool inspireer deelnemers


Werklikwaar ‘n “lewens-aanrakende ervaring” en “soveel meer as wat ek verwag het”. Dít is van die terugvoer wat RSG en Sanlam na die heel eerste radiodrama-slypskool vir 2015 ontvang het.

“Daar was soveel pitkos en sulke stimulerende insette wat veroorsaak het dat my kop nie tot ruste wou kom nie,” het Michiel Potgieter ná die slypskool in Kaapstad laat weet.

“Lank nadat ek al die lig afgeskakel het, wou die gedagtes net nie tot ruste kom nie. Ek het geweldig baie geleer en wil graag vir RSG en Sanlam bedank vir die wonderlike geleentheid en die belegging wat hulle (in my as skrywer) gemaak het. Ek is geïnspireer en glo dat daar iets positiefs hieruit gebore kan word.”

RSG se uitvoerende regisseur: drama, Kobus Burger,  en Eben Cruywagen, regisseur van onder andere die middag-vervolgverhaal Paradiso, het die slypskool aangebied. Die skrywer Anton Treurnich, skrywer van onder andere Die duiwehok, was die gasspreker.

Die deelnemers kon ook sien hoe die akteurs June van Merch en Chris Majiedt ‘n toneel uit Katryn in die radiodrama-ateljee opvoer. Party se spontane reaksie was: “Dit het my nou na aan trane gehad…”

Op Saterdag 28 Maart word ‘n soortgelyke, gratis slypskool in Johannesburg aangebied. Vir meer inligting of besprekings, stuur ‘n e-pos aan margaret@rsg.co.za

Die slypskole vorm deel van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015. Die volledige handleiding met die kompetisiereëls en inskryfvorm is op www.rsg.co.za beskikbaar.

June van Merch en Chris Madjiet

June van Merch en Chris Majiedt voer ‘n uittreksel uit ‘Katryn van die Richtersveld’ op.