Sport vir die siel trek ‘n boekbaadjie aan


Sport vir die siel

Magdaleen Krüger en die afrigter van die Leeus Johan Ackermann op Ellispark tydens die bekendstelling van Sport vir die siel.

Wie van ons sal hierdie oomblik vergeet? SA weer op die aanval … diep binne die kwartgebied van die All Blacks aan die oorkant van die veld … en hulle gaan die bal kry uit die skrum … Joost probeer optel, dan slaan hy aan … maar dit maak nie saak nie. Dis die eindfluitjie wat blaas en Suid-Afrika is die wêreldkampioen!

Selfs al was jy nie daar nie, bly sekere sportoomblikke in jou hart sit. En dis dikwels RSG-sportkommentator Pieter van den Berg, wat jou vertel wat op die sportveld gebeur.

Elke Maandagoggend skuins voor sesuur bied Pieter en pastoor Dave Strydom ‘Sport vir die siel’ op RSG aan. Pieter lewer ‘lewendige kommentaar’ oor sportgebeurtenisse waarna pastoor Dave van die AGS-Primrose-Oos Gemeente in Gauteng die sportgebeurtenis aan die geestelike lewe koppel.

Pieter en Dave het nou met RSG en die uitgewer, NALEDI, saamgespan om ʼn baie unieke publikasie vir alle sportliefhebbers en sportlui saam te stel. Sport vir die Siel het ten doel om lesers te help om ʼn wedstrydplan vir hul lewens saam te stel. “PAS OP!” waarsku die twee skrywers, “Hierdie boek gaan jou positief beïnvloed en jou beter laat voel oor jouself en die lewe.”

Spoggeleentheid op Ellispark
Tydens ‘n spoggeleentheid in die presidentslosie by Ellispark in Johannesburg is RSG-sportkommentator Pieter van den Berg, en pastoor Dave Strydom se boek Sport vir die Siel bekendgestel.

Dit is baie gepas dat die bekendstelling op Ellispark gehou is, het Pieter gesê. “Dis hier waar die hele idee van die koppeling van bekende sportgebeure en die praktiese toepassing daarvan in elke Christen-mens se lewe ontstaan het.

“Die eerste program op radio en in die boekhandel juis oor die Curriebeker-eindstryd van 2011, wat verder bygedra het tot die keuse van Ellispark as plek vir die bekendstelling van die boek.”

Eksemplare van Sport vir die Siel is aan verskeie bestuurslede van die Goue Leeus oorhandig – onder andere aan Rudolph Straeli, die afrigtingspan van Johan Ackermann en sy regterhand, Swys de Bruin. Die spelers Jaco Kriel en Jacques van Rooyen het ook Sport vir die Siel-boeke in ontvangs geneem.

Magdaleen Kruger, RSG se stasiebestuurder het die geleentheid geopen en gesê  Sport vir die Siel is vars, nuut en anders is en dat die program nog lank gehoor sal word. Johan Coetzee, uitgewer van Naledi, hetgesê Sport vir die Siel is die 13de boek is wat Naledi en RSG saam uitgee en die wens uitgespreek dat dit wyd inslag sal vind.

Pastoor Dave Strydom het gesê die boek is gerig op alle sportliefhebbers in Suid-Afrika van oud tot jonk. Selfs tieners kan dit gebruik as ’n wenresep van die lewe. “Die inhoud is daar om jou positief te beïnvloed en van jou ’n wenner te maak.”

Leer van sportlui
Wat kan ʼn mens leer van sportlui se benadering tot hul wedstryde en die spel self en hoe kan hierdie insigte waardevol vir jou geestelike lewe wees?

Volgens pastoor Dave Strydom het Jesus bekende dinge op aarde gebruik sodat mense daarmee kon assosieer en onthou, en dis presies wat hulle in Sport vir die Siel doen. “Ons neem groot sportoomblikke of gebeure en koppel dit aan die geestelike lewe. Sportgebeure wat deur Pieter herroep word, strek van Mohammed Ali se ‘Rumble in the Jungle’-boksgeveg, Formule-1 kommentaar van 1965 in Oos-Londen tot by die grootste krieketwedstryd ooit … asook rugby, gholf, Olimpiese Spele en selfs rolbal, veerpyltjies en talle meer.”

Dr Isak Burger, die president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, skryf in die voorwoord van Sport vir die Siel: “Die gewilde RSG-program ‘Sport vir die Siel’ is vir vele ʼn inspirasie en bemoediging. In boekvorm gaan nog meer mense se lewe op verskeie vlakke hierdeur verryk word.”

Sport vir die Siel is van 17 Oktober af op die rakke. Die boek sal in die handel beskikbaar wees teen R139.00 en kan direk bestel word by www.naledibooks.co.za en www.kalahari.com. Sport vir die Siel sal ook as e-boek te koop wees.