Aartappels: Amore vertel


In die 22 jaar wat ek uitsaai, is die aartappelsage sover die hoogtepunt!
Die storie wil maar net nie gaan lê nie …. dit het so begin…
Antoinette Pienaar het in 2011 in “Kruie Kraai Koning” tong in die kies genoem dat as jy rustelose bene het, is daar slegs een oplossing vir rustelose bene is: Slaap met ‘n rou aartappel!
Dié storie het ons luisteraars se verbeelding aangegryp soos min!.
Ons trek nou in 2014, en Danksy ons luisteraars se terugvoer oor die afgelope drie jaar het ons ontdek dat die aartappel nie net help vir ‘n rusteloosheid by mens en dier nie, dit help ook vir rumatiek, artritis, slaaploosheid, diere en eensaamheid!…

Lees maar self:

Marietjie Deacon skryf: “Nadat ek van die hond-en-die-aartappel-episode gehoor het, het ek besluit om dit ook te probeer. Die eerste aand het die aartappel sommer so in die bed “rondgedryf” (nie tussen my en my man nie …) ‘n Paar aande later het ‘n pyn, wat van tyd tot tyd sy kop uitsteek, weer in my regter heup ervaar.  Ek is nie ‘n voorstander van pynpille nie – nie sommer nie. Toe sit ek die aartappel by die pyn. Kort voor lank was die pyn stukke beter en toe weg.
Ek het gewonder of die spesifieke aartappel wat ek gebruik het, nie dalk ook meer drasties as die gewone aartappel is nie. Dit is ‘n rooiskil-aartappel. Hulle sê mos dat rooi en geel groentes meer voedsaam is met meer anti-oksidante. Nou wonder ek …”

Thea Guillaume skryf: Vanmiddag gaan kuier ek by my vriendin Riëtte in die Ouetehuis hier op Wepener: Amandelhof. Haar suster, tannie Annatjie Cox, kuier ook hier vanaf Reddersburg. Sy vertel my toe. Hoe Antoinette se aartappels-innie-kooi-raat haar help teen pyn. Selfs as net haar maag pyn lê sy met die aartappels teen haar maag en dit help. Sy stel my toe voor aan die 2 wat nou saam met haar slaap. 2 Mooi uitgeswelde Aartappels : Al Debbo en Steve Hofmeyer….Ek het so lekker gelag oor die storie….”

Chantelle Prinsloo skryf:” Ek het baie gesukkel met rustelose bene al is ek nog jonk, my ma het my vertel van die aartappel in die bed, en dit werk regtig. Maar daar is iemand anders wat baie die aartappel wat ek in die bed sit geniet. My 4 poot kind(molly my hondjie – maltese poedel kruising met iets van alles, sy is so n jaar oud) kan nie wag as ons in die aande gaan slaap nie, sodra ek die aartappel vat om in die bed te sit dan is sy by, sy gaan le bo-op die aartappel, en sy slaap heel aand bo-op of langs die aartappel, as daar nie een in is nie is dit al of sy nie tot ruste kan kom. Sy het haar been spier so rukkie terug seer gemaak, en ek dink dit help vir haar ook. Ek wonder of dit nie ook vir ouer honde met rumatiek sal help nie…”

Merle Vermaak skryf: Ek en my man is nou al geruime tyd van bed en aartappel geskei aangesien hy alles probeer wat dalk kan help vir die pyne. Vanoggend vertel hy vir my dat die aartappelraad van Antoinette vir rustelose bene definitief help want mens is so bang dat die aartappel in die verkeerde plek opklim (soos stussen die boude waarvan ek ook kan getuig) dat jy doodstil bly le en nie rondbeweeg nie.”