Asteroïde mis Aarde binnekort rakelings


Op die aand van 31 Oktober, trek pa se verkyker wat hy by die Vloot gesteel het tydens diensplig nader, want asteroïde 2015 TB145 maak ‘n verbyvlug verby die Aarde. Selfs al sou dit vermoedelik groter as Julius Malema se ego wees, sal dit nie met die blote oog sigbaar wees nie. Maar ‘n goeie verkyker of teleskoop sal voldoende wees. (Op die tydstip waarop dit die naaste aan die aarde is, sal dit in Suid-Afrika ongelukkig daglig wees.)

(Foto nie van die asteroïed nie.)

In kosmiese terme mis die asteroïde Aarde ‘rakelings’ — met ‘n afstand van ongeveer 499,000 km. (Die Maan is op sy naaste 362,600 km van die aarde.) Die vlieënde ruimterots is 2,5 km wyd en trek teen ‘n onvoorstelbare 125,000 km per uur, oftewel 35 km per sekonde.

Die volgende asteroïde wat na aan die aarde gaan kom, is 1999 AN10 in 2027. (Hoe dink die ouens die name uit? Met Scrabble en dobbelsteentjies?) AN10 gaan net sover as wat die maan van die aarde is, verbyvlieg. Nou dít behoort ‘n gesig te wees.

NASA sê egter ons is heeltemal veilig: TB145 sal op koers bly. Maar 31 Oktober is Allerheilige-nag, so mens weet nooit.