‘n 1886 Benz pryk op die 21e George Oumotorskou


1886 Benz op uitstalling

Vanjaar se spesiale uitstalling op die George Oumotorskou fokus op voertuie met ‘n Duitse handelsmerk en altesaam 35 unieke voertuie vorm deel van die uitstalling.

Vanjaar is ‘n 1886 Benz Patent Motorwagen die uniekste voertuig in die uitstalling. “Dit is die eerste voertuig wat met ‘n binnebrandenjin toegerus is,” vertel Kobus Harris, president van die Suid-Kaap Oumotorklub, wat sedert 1983 Duitse motors versamel. “ Die replika is een van slegs tien replikas wêreldwyd en behoort aan die Mercedes-Benz SA-fabriek in Oos-Londen.

Die George Oumotorskou vier sy 21ste bestaansjaar op 11 en 12 Fbruarie 2017.

“Tydens hierdie jaarlikse geleentheid van die Suid-Kaap Oumotorklub gaan die George Oumotorskou se 21ste bestaansjaar gevier word met ‘n uitstalling van sowat 1 000 voertuie,” sê Phillip Rosser, voorsitter van die reëlingskomitee van die 2017 skou.

Die 1886 Benz vorm deel van die spesiale uitstalling wat fokus op voertuie wat in Duitsland vervaardig is, wat tydens die 2017 George Oumotorskou, gedrewe deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy Beperk te sien sal wees.

Mercedes-Benz SA vervaardig sedert 1955 ook voertuie in Suid-Afrika. Die W121, 190 Sedan, wat op 31 Januarie 1958 voltooi is, was die eerste voertuig wat hier vervaardig is.

“Benz, die voorlopers in ontwikkeling van voertuie, het vinnig nog modelle ontwikkel en gebou en ander vervaardigers het gevolg,” vertel Harris, wat ook die Mercedes-Benz-fabriek in Duitsland besoek het. Tans word slegs die C-klas Mercedes-Benz hier gebou. Twee van Harris se eie voertuie – sy rooi 1960 Mercedes-Benz 190 SL sportmotor en sy maroen 1959 Mercedes-Benz 220 S Sedan – vorm deel van die uitstalling.

Ander spesiale Benz-modelle is ’n 1901 Benz “Ideal” wat van Kaapstad af kom. Dr Waldo Scribante, president van die Mercedes-Benz Klub SA en entoesiastiese versamelaar van George, stal ook drie van sy voertuie uit, naamlik ’n 1913 Benz, ’n 1935 Mercedes-Benz 130H en ’n 1938 Mercedes-Benz 320.

Volkswagen is nog ’n Duitse vervaardiger wie se voertuie deel vorm van die uitstalling. “Ons het die Auto Pavillion Volkswagen Museum op Uitenhage gevra om deel te wees van die Duitse uitstalling. Hulle bring twee Volkswagen Beetles wat dateer uit 1949 en 1979. Die 1979-model is die laaste een wat in Uitenhage vervaardig is.”

BMW is ook teenwoordig met twee modelle wat onderskeidelik uit 1936 en 1938 dateer. ’n 1938 DKW en ’n 1935 Opel Cabriolet vorm ook deel van die spesiale uitstalling.

Ander hoogtepunte van die George Oumotorskou gedrewe deur Oakhurst Versekering is ‘n uitstalling van sowat 5 000 modelmotortjies. Benewens die uitstalling van kosbare privaatversamelings sal daar ook modelmotortjies te koop aangebied word.

Vanjaar se Veteraantoer, wat op 10 Februarie plaasvind, vertrek vanjaar vanuit Uniondale en eindig die Vrydagmiddag by die skouterrein. Voertuie vanoor die land neem deel aan die toer wat een van die hoogtepunte vir versamelaars is wat elke geleentheid aangryp om met hul veteraanmotors te toer.

Nog ‘n hoogtepunt van die 2017 George Oumotorskou gedrewe deur Oakhurst Versekering is ‘n promosierit deur Thembalethu en Pacaltsdorp op Saterdag 5 Februarie. ‘n Groep ou motors, vergesel deur die klub se brandweerwa, ry deur die woonbuurte terwyl die omroeper Herman Ungerer die skou in Afrikaans, Engels en Xhosa die skou bekendstel.

Die George Oumotorskou gedrewe deur Oakhurst Versekering vind plaas by die PW Botha Kollege in Yorkstraat, George. Parkering op skoolterrein is beskikbaar.

Toegang

Saterdag: Volwassenes R50, Pensionarisse R40, Kinders R20

Sondag: Volwassenes R20, Pensionarisse R15, Kinders R10

Naweekpakket vir Saterdag en Sondag: Volwassenes R60, Pensionarissse R45, Kinders R25

Hektye is Saterdag 07:00 tot 18:00 en Sondag 08:00 tot 13:00

Melvin Naik, George se uitvoerende burgemeester, neem die amptelike opening Saterdag om 10:00 waar.

Saterdag: Volwassenes R50, Pensionarisse R40, Kinders R20

Sondag: Volwassenes R20, Pensionarisse R15, Kinders R10

Naweekpakket vir Saterdag en Sondag: Volwassenes R60, Pensionarissse R45, Kinders R25

Kontak Phillip Rosser by 082 410 5490 of Chris van Staden by 082 491 5254 vir meer inligting, of besoek die Suid-Kaap Oumotorklub se webblad by www.scocc.co.za