Nuusboeletien of nuusbulletin of nuusbulletyn?


Nuusboeletien of nuusbulletin of nuusbulletyn?

Lees verder hoe Magdaleen Kruger verduidelik of kyk na die video:

Die verafrikaansing van die spelling van woorde wat van Engelse woorde kom, is al so oud soos die berge. Dink maar net hoe dit dikwels by ons ingedril is….chips is aartappelskyfies in Afrikaans, tjops is kottelette, ‘n mens praat nie in Afrikaans van breakfast nie, dis ontbyt. Klink dit bekend? Maar die taal groei, tye verander en ons sprekers is vindingryk en aanpasbaar.

Deesdae kan ons dus praat van chips, breakfast en chops, sonder dat ons oor die kole gehaal word! Ons vindingrykheid het egter verder gegaan en ons het sommer die spelling verafrikaans na tjips, brekfis en tjops. En dit is amptelik en aanvaarbaar. Dit is wel so dat sommige verafrikaansde spelling vreemder op die oog val as ander. Die een wat nie so vreemd op die oog val nie, word dan al hoe meer gebruik en die gebruiksfrekwensie is later so hoog, dat dit as vanselfsprekend en normal aanvaar en ervaar word.

Dit is wat miskien steeds die geval is met nuusboeletien…dit lyk vreemder as nuusbulletin, daarom word dit minder gebruik. En daarom het sommige e-nuusbrieflesers hul wenkbroue effe gelig toe hulle in my stories lees van nuusboeletien. Hier is sommer nog ‘n paar ander voorbeelde waar die spelling ook verafrikaans word::

China word Sjina
bullybeef word boeliebief
uhuru word oehoeroe
Uganda word Oeganda
Sudan word Soedan
Ukraïne word Oekraïne

Verskillende woordeboeke bied verskillende weergawes. So sal jy by voorbeeld vind dat die nuwe HAT 6 wel vir Soedan in het, maar nie vir Oeganda nie.

Op die ou end het wyle Johan Combrink vir my die nugterste mening…lees gerus:

Watter wisselvorm moet gekies word?

Johan Combrink

In die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls word baie soorte wisselvorme erken. Hier wil ek praat oor drie riglyne wat ek volg as ek tussen sommige van dié wisselvorme kies. Dié keuse is net vir wanneer ek skryf, nie vir wanneer ek praat nie. Spraak het ‘n eie stel vereistes vir goeie kommunikasie. En ek wil met my keuse ook nie insinueer dat die ander wisselvorm of wisselvorme swakker is nie: die Suid-Afrikaanse Akademie erken hulle almal. Ten eerste kies ek altyd die kortste vorm. As die AWS byvoorbeeld sê die erkende vorme is “skrywe of skryf”, dan kies ek laasgenoemde. Kortheid is ook die rede vir my skrifvoorkeur vir diabeet bo diabetikus, vir laboratoria bo laboratoriums en vir drastieser bo meer drasties. As ‘n lang wisselvorm en ‘n korte dieselfde waarde het, kies ek dus telkens die kort vorm. Dit doen ek om twee redes. Ten eerste is my tyd min. En baie lesers s’n ook. Ek moet ons tyd so ekonomies moontlik gebruik. ‘n Arabiese spreekwoord sê: Wysheid bestaan uit tien dele, waarvan nege stilte is en die tiende bondigheid van taal. Mens maak ten tweede ook al meer foute, hoe meer letters jy gebruik. Maar hoofsaak vir my is die ekonomie van tydsbesteding. Party pare wisselvorme is ewe lank, of naastenby ewe lank. Maar die een het ‘n “vreemde spelling” en die ander ‘n eg Afrikaanse. Dan kies ek altyd die eg Afrikaanse. Tussen “Chinees of Sjinees”, tussen “guirlande of gierlande” en tussen “quaestor of kwestor” kies ek byvoorbeeld altyd die laasgenoemde. Hieronder val ook gevalle waar die vreemde spelling die bekende geword het, en waar die eg Afrikaanse spelling snaaks is wanneer mens dit die eerste keer sien. Ek bedoel hier gevalle soos die bekende, maar onafrikaans gespelde bulletin teenoor die onbekende, maar Afrikaans gespelde boeletien. Ek kies boeletien om die rede wat hierbo gegee is. En mens raak baie gou aan dié nuwe vorm gewoond. Dit doen ek uit my motief van ‘n tikkie taalbevordering. Met elke vreemde spelling wat in Afrikaans ingevoer word, is ons taal nog ‘n klein bietjie minder reëlmatig. Afrikaans staan, reg of verkeerd, bekend as ‘n maklike, fonetiese taal. Deur my keuse van eg Afrikaanse vorme probeer ek om dié beeld van ons taal te bevorder. Deur my gebruik van die eg Afrikaans gespelde vorme bevorder ek Afrikaans ook op ‘n ander manier ‘n bietjie: ek maak my lesers gewoond aan dié vorme. Dit is presies die pad wat die Afrikaanse spelling vroeër ook gevolg het. Vir die ouer geslag moes dit ook maar vreemd gewees het om die eerste keer woorde soos die volgende op papier te sien: boksendais, aikôna, ghôghôk, oomblik en miljoenêr. Party pare wisselvorme is ewe lank en ewe Afrikaans. Maar die een word vas en die ander los geskryf. Dan kies ek altyd die losse. My derde riglyn vir keuses tussen wisselvorme is naamlik: maklike kommunikasie. Dit is eenvoudig so dat mens oor die algemeen ‘n lang woord moeiliker lees as ‘n korte. As ek dus vir skryfdoeleindes moet kies tussen “weereens of weer eens”, “terwille van of ter wille van”, “bekendgemaak of bekend gemaak”, kies ek altyd die laasgenoemde.